Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar vyfde inskrywing:

Kyk, ek geniet dit om te plant. Of dit nou blomme, groente of bome is – maak nie saak nie! Ek geniet alles daarvan. Die uitstappie kwekery toe is vir my ’n reuse-bederf en ek vat my tyd om deur al die saadjies en saailinge te loer. Persoonlik verkies ek om saadjies te plant. Daar is soveel waardering in die proses waar jou saadjie met water en sorg begin ontkiem en jy die fyn, groen blaartjies sien uitkom. Dit klink dalk simpel, maar ek besef net elke keer dat God op die mooiste maniere werk om lewe te gee.

Hierdie week was omtrent ’n opwindende een in ons huis. My liewe Dewald is in hart en gees ’n boer en lewensgroot staan op die almanak: NAMPO 2017! Boer is een van die vele projekte wat hy met soveel passie aanpak en ek het hierdie jaar besluit om deel te word van die NAMPO-gees. Dewald is my grootste ondersteuner in alles wat ek aanpak en dit is lekker om hom ook te ondersteun met dit wat hom na aan die hart lê.

NAMPO is volgens die boere die mees relevante platform en mark vir die nuutste landboutegnologie, innovasie, besprekings en die uitruil van inligting. Die tema vanjaar is "Ontgin die toekoms” en ek kon die positiewe atmosfeer aanvoel van ’n organisasie wat opgewonde is oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika. Ons het vir ure gestap van die een fenomenale innovasie na die ander. Ek was veral beïndruk met die hidroklimaponika. Ons het gesels oor ekovriendelike maniere van groente plant deur minder water en krag te verbruik maar steeds hoër winsgrense te behaal. Hoewel op ’n groter skaal as wat enige gewone mens dit in hul tuin doen, het dit het my gedagtes rondom groente plant drasties verander.

Om ’n groentetuin te begin is glad nie moeilik nie en nog minder om dit aan die lewe te hou. Met ’n bietjie meer kennis en sonskyn kan jy in ’n japtrap jou eie groentetuin begin.Wil jy ook ná ’n lieflike maaltyd saam jou familie en vriende spog: “Dit is kraakvars groente uit my tuin!” Dan is dit nou jou kans!

Volg gerus die volgende stappe:

1. Besluit oor die grootte van jou groentetuin, verkieslik op ’n plek waar jou groente son sal kry. Blompotte werk ook lekker as jou spasie beperk is, maak net seker die dreinering is voldoende. Pak rivierklippies op die bodem.

2. Gaan kwekery toe en vind uit wanneer dit die beste is om wat te plant in jou omgewing. Die beste raad wat ek vir jou kan gee, is begin met die maklikste groente soos spinasie, en soos jy gemaklik word en jou kennis uitbrei, beweeg jy na ander tipes groente.

3. Berei jou grond voor. Meng genoeg organiese kompos in: verkieslik 40% organiese kompos en 60% grond.

4. Maak die saailinge nat en bid vir ’n goeie oes.

5. Hou die grond klam en moet nooit te veel water gee nie, maar moet dit ook nooit laat uitdroog nie.

6. Hou jou groente dop vir plae en peste. Strooi rissiepoeier om die saailinge te beskerm.

7. Hou die groente dop en deel in die geluk van die groeiproses.

So hier is nou ’n geleentheid om jouself uit te leef, jou hande vuil te maak en jou eie groente te kweek. Stuur gerus foto's en spog met jou groentetuin!

Tot volgende week. Wees bevonk!

Ilzé Saunders