My hart is vandag in Suid-Afrika en ek dog ek deel my gevoelens met julle.


Die skool is uit en ek soek geselskap by Radio Sonder Grense ... hier waar ek in my doodstil klaskamer sit, ses ure se sonskyn vooruit en sestienduisend kilometer ver. Die elektries-belaaide opgewondenheid word tasbaar met die Afrika-klanke wat vrolik deur die internet na my gestuur word.


In my verbeelding sien ek hoe Suid-Afrikaners op hierdie oomblik begin wakker word, almal met dieselfde gedagte: “Vandag is die dag”. My verbeelding onderneem ’n wêreldreis deur al die kontinente en eilande op die aardbol, met die besef dat Suid-Afrika een of ander tyd vandag op almal se lippe gaan wees en in almal se gedagtes gaan opkom. Elke sportkanaal op TV gaan beelde van Suid-Afrika uitsaai en elke koerant in die wêreld gaan die woord Suid-Afrika druk. Alle oë en ore gaan op die Suidpunt van Afrika gerig wees. Miljoene mikro-bondeltjies energie wat oor die hele wêreld vrygestel word, gaan saamsmelt, groter word en suidwaarts beweeg om positiwiteit oor my land se mense uit te giet. Dis ’n seëning waarvoor hulle al lankal bid.

Alle negatiwiteit gaan geneutraliseer word, die vlae gaan wapper en die reënboognasie gaan juig, want God het vir hulle ’n sokkerbal gestuur net toe hulle gedink het daar’s geen hoop meer nie. Wit en swart en bruin gaan weer hande vat en sport gaan die reënboognasie weer ’n keer verenig.


En diegene met Afrika-bloed in hul are, maar vreemde stof onder hul voete, gaan vandag wens hulle was deel daarvan, gaan vandag wonder hoe dit nou daar voel wanneer die vuvuzelas in die woonbuurte blaas.


Hulle gaan droëbek wonder oor al die spontane grappe en hartlike geskerts met die Franse, Duitsers en Italianers waarop hulle nou uitmis.

Ek stap verby ’n uitstalling van die FIFA Wêreldbeker by ons woonstelblok se ingangsportaal, maar dis nie dieselfde nie. Ek wil die musiek hoor wat in die restaurante en in die stadions speel, ek wil die glimlagte en blikke van hoop op my mense se gesigte sien.

  Vanaand gaan ek my man se Springbok-trui aantrek, ’n bottel rooiwyn uit die Kaap oopmaak, en my vlaggie op die TV maak staan. As ek die afskop kyk, gaan ek uit volle bors Nkosi Sikilel’ iAfrika saamsing, ’n trotse traan pik en dan ’n gebed stuur dat hierdie wonderwerk asseblief tog vir baie, baie langer as net een maand sal voortduur.

Geniet die sokker daar in SA en ons hou styf duime vas vir Bafana Bafana!!


Liefde uit Hong Kong

Celia Claase