Dis 19h30
Donderdag7 Januarie 2010,
Dag 80

Ek bons op en af in my sitkamer op die maat van musiek. Vanaand gaan ’n lang aand wees. Die wind woed soos dit net in Woodstock kan – soos dáárdie aand. Ek moet aanhou dans, probeer lewend voel, probeer om afleiding te kry vir die alomteenwoordige gedagtes, herinneringe en grysgrou gevoelens.
James – sy gunsteling. Ons het altyd op die een of ander ekspedisie al kronkelend deur Kaapstad se strate na James geluister, op soek na die perfekte volmaanfoto, die berg wat brand, Soetwater toe om ’n foto te kry van vlugtelinge wat sokker kyk, straatkinders in die koue onder halfgeboude brûe, rugby op Nuweland – voorbladfoto’s.
“Hou jy kop bo water?”
Wat ’n vraag!
“Nee, ek, Mike (Hutchings) en Ondine (Bello) het ingeskryf vir ’n skubaduik-kursus. Ek besef ek sal gou moet leer om onder water asem te haal.”
Ná vier seeduike en die besef dat dit selfs moontlik is om onder water te huil het ons die kursus suksesvol voltooi.
Garth was vreeslik lief vir die see. Buiten om onder water te kan asemhaal is dit hier waar ek nog naby aan hom kan voel.
Ondine en Mike was sy beste vriende. Sedert 19 Oktober is ons die drie musketiers, want ons hoef niks vir mekaar te verduidelik nie, ons verstaan. Verstaan oor bottels wyn, emmers trane tot in die oggendure.

Om gebeure in perspektief te plaas is onmoontlik. Wie weet regtig wat gebeur het? My storie lyk só:

Maandag
19 Oktober, 04:30

Ek kry sy SMS’e. Dit maak my ’n bietjie onrustig. Ek skryf terug: “Ek het jou SMS gekry, is jy oukei?” Niks.

19 Oktober, 04:45

Ek begin bel en bel, ek raak kwaad, hy het die dag af en lê rustig en slaap terwyl ek my bekommer. Sal hy so iets doen? Nee, hy het twee kinders, maar sê nou net. Jy oorreageer Christine, kalmeer, maar wat as . . . ?

19 Oktober, 08:30

Ek is in my motor, oor stopstrate sonder om te stop, in drie minute. Mike, wat drie keer groter is as ek, wat my byna nié kon keer om in Garth se huis in te gaan nie.
“He’s gone . . .”
Tussen sy kuier by my huis Sondagaand en êrens in die oggendure het Garth ’n keuse gemaak, vir hom die enigste uitweg.

Donderdag 22 Oktober

Inskrywing in my dagboek.


Hey Bokkie, sit op my bed en wag vir die dag om verby te sleep. Jou kersie brand. Dis nou 4 dae sonder enige SMS, baie praat – ek kan maar net hoop jy hoor.

Gisteraand saam met jou ma, Steven, Sasha, Rory, Brad, Ondine en Mike in jou huis gekuier. Hey, wat trek ek môre aan, waarvan sal jy hou. Praat later, mis jou. Lief vir jou. C


Vrydag 23 Oktober

Hoe staan jy op, stort, trek aan – as die enigste ding wat ek vandag moet doen, is om na jou gedenkdiens toe te gaan? Hoe kom ek deur die dag sonder jou? Ek speel jou James, ek dra jou T-hemp. Ek mis jou. Wees by my vandag.
Ek huil. Heeltyd. Oor alles. Die gebeure speel oor en oor deur my gedagtes, my drome, as ek net . . .
Sielkundiges wat spesialiseer in dié soort trauma is ’n moet.  “Jy kon niks doen nie, dit was sy besluit, hou op om jouself te verwyt, as hy dit nie nou gedoen het nie, sou hy dit later gedoen het,” sê hulle. Ek dink “wat weet julle?”, maar ek luister en probeer myself oortuig.
Dank Vader vir vriende, vir ’n ma, pa, broer en suster. Hulle neem oor – antwoord die foon wat pal lui. Vir ’n week lê ek op my bed, drink my slaappil, gee die honde kos. Vergeet van eet, dit vat te veel energie. As ek iets uit dié trauma moet kry, sal dit wees om vir die eerste keer sonder effort gewig te verloor. Ek glimlag, sin vir humor is nog hier, dink ek. Ek begin huil . . . dalk nie.

Vrydag 30 Oktober

Dagtaak: Gooi al die begrafnisblomme weg wat besig is om my huis oor te neem en wat begin verlep. Blompot en al. Dit voel goed. Die kwaad-fase het ingeskop.
Kwaad wees is deel hiervan, want ja, ek kan nie dink aan ’n meer selfsugtige ding as selfmoord nie. Ek weet kenners sê dit was vir hom al uitweg en volgens hom sou dit beter wees vir almal. Ek hoor julle, maar het iemand al ooit met ’n persoon wat selfmoord gepleeg het, gepraat? Hoe weet julle dit alles?
Ek kom by die punt waar ek begin verstaan, waar die kwaad weggaan en die hartseer oorbly.
Asof dit nie genoeg is dat ek Christine vir 31 jaar stelselmatig opgebou en uitgepluis het nie. Nou sit ek met iemand wat ek nie ken nie. Ek weet nie waartoe sy in staat is of wat sy gaan sê as sy haar mond oopmaak nie, maar ek kan jou belowe dit gaan nie die naïewe, life is beautiful-meisie van voor 19 Oktober wees nie!
As die hartseer weggaan, kom die “onthou jy”. . . Onthou jy Zanzibar, Stone Town, onthou jy Bwejuu, Menai Bay by Unguja Ukuu met die vuurvliegies en die fosfor in die water?
Hoe is dit moontlik om jou intiemste jý met iemand te deel, en in, soos die polisie verduidelik het, ’n paar sekondes dit alles uit te vee? Hoe vergeet ek elke gedeelte van jou lyf, hoe elke deel smaak, ruik, voel?

Saterdag
14 November, Dag 26

Ek besef daar is geen manier om oor dit wat gebeur het te kom nie, nooit, nooit, ooit nie. ’n Mens kan maniere aanleer om daardeur te kom, maar nooit sal ek óór dit kom nie. 19 Oktober is nou deel van wie ek is – en ek het nie ’n keuse gehad nie. Om te skree teen die Woodstock-wind gaan nie help nie, dit het gebeur. Live with it. Sondag
13 Desember, Dag 55
Ek maak kos vir niemand nie. Die wind waai. My hartland-agterplaas met jou groot skulphart is op “lockdown”, ek wil nie daar ingaan nie. Ek gaan nou ’n bottel vonkel pop, luister na James. Reg vir jou verjaarsdag môre, Bokkie?
Met spesiale dae, verjaarsdag, Kersfees het ek nie eens probeer dink aan hoe bitterlik seer dit vir my is nie, maar aan sy ma gedink. Sy ma wat 38 jaar lank sy verjaarsdag saam met hom gevier het. Ons het gepraat, probeer praat, gehuil, sy het vertel van die verjaarsdagkoek-versoeke – die treine, bote. Sy broers, sy kinders. Ek kan nie begin verstaan waardeur hulle gaan nie.
Ek, familie en vriende het binne twee dae 38 jaar in bokse, swart sakke en ’n “Stead-residence, Durban”-hopie verdeel. Jy pak twee T-hemde in, gaan huil op sy bed, iemand kom in.
Jy huil in die agtertuin, iemand kom skep asem. Jy krul op in sy bad, net vyf minute, asseblief, ek wil net ’n tydjie hier bly lê, waar die kerswas nog stalagtiete vorm van die laaste saam bad ...
Om sy klere by ’n welsynsorganisasie af te laai, met jou kop in sy kussings te staan en huil terwyl die maatskaplike werker nie weet of sy moet troos of die broodnodige kussing vir ’n straatkind uit jou arms moet pluk nie – is bitter moeilik.
Maar moenie dat mense vir jou sê om te let go nie. Hou ’n hemp, sy beursie, hou die koerantuitknipsels en ja, dalk pak jy dit later weg, lê jy nie meer in sy hemp en slaap nie, maar moenie alles wegneem en dink dit maak die seer minder nie.
Dit werk nie.
Hou die foto’s teen die muur, onthou, daar was goeie tye. Benewens die groot verwyt dat ek die SMS’e te laat gekry het, te laat gereageer het, is ek kwaad dat ons die maand voor sy dood net nie meer ons verhouding kon laat werk nie. Iets was fout en nie een van ons het geweet wat om te doen nie. Die “wat as” is sieldodend. Hou vas aan die goeie herinneringe.
Garth het my my Zanzibar-rugsak vier keer laat oorpak, om seker te maak ek neem net die nodige saam vir die self dra. Wat ek by hom geleer het in ’n jaar en nege maande is veel meer as wat in vier rugsakke kan inpas. Hoe ironies dat hy my geleer het om te lééf, om nie bang te wees vir die wye wêreld nie. Om mense te ontmoet wat nie dieselfde lyk en glo as ek nie, hul wêrelde en hul lewens te ervaar, die onderdruktes, die straatkinders, die vlugtelinge in die Kaap – ek was daar, saam met hom.

7 Januarie 2010, Dag 80


Wat ek op dié dag nie weet nie, is wat om te maak met al jou SMS’e op my foon, hoe om myself te keer om oor en oor jou selfoon te bel om jou stem te hoor. Ek weet nie of ’n halwe hart ooit kan teruggroei nie. Maar ek respekteer jou besluit, en ek sal bly glo dat jy nou gelukkig is.