My liefste vrou Hier waar ek in die laatmiddag-uur in stilte sit en staar na die groen bloekomplantasies teen die golwende hange van die Wolkberg en sien hoe die son sy laaste strale die Westerhorison met goud en karmosyn verf , vloei ’n ongekende vrede my binne. Terwyl die aand sy soel skemerkleed geleidelik ontvou en doer onder die dorp se liggies een vir een opflikker, raak dit stil rondom en in my. Slegs enkele geluide van ver rommel verby. Nes die dag tot ’n einde kom, kom en gaan seisoene, ook lewenseisoene. Helder lentemooi, somer, son en saffier vol vrug en vreug, herfs met sy dwarrelblare en dan die winter met sy koue. So kruip my seisoen ook voort in die grys skemerlig van herfs. Maar daar’s ’n glimlag in my hart, want in my gedagtes is jy hier neffens my, my geliefde, aan my sy.  ’n Terugblik op ons lewenspad sien ek twee rye spore, ons spore saam, maar soms ook net ’n enkel ry waar een weggedraai het of ons mekaar gedra het, jy vir my of ek vir jou. Telkemale word die enkel rye spore weer twee langs mekaar, soms ineengevleg asof saamgevoeg in ’n omhelsing van liefde, dan weer soos ’n dansende ballerina, ’n rondomtalie vreugdedans. Oral is die tekens langs ons lewenspad waar vreugde hoog gevlam het, maar ook die assies, herinneringe van ons kind (wat was) se lewensvuur. My eerste liefde vir jou vlam nog in my hart, maar met ’n groter, dieper intensiteit. Ons liefde het ons saamgevoeg as ’n eenheid, onskeidbaar. My verlange na jou vanaand bring weemoed in my hart. Ek sien jou raafswart hare, jou groen oë soos diep waterkuile. Jou mondvol rooi lippe en ek smag na jou arms om my. Ek soek jou tussen die sterre,jou kom-soen-my-mond om weer vir jou te sê hoe lief ek jou het, vir nou en ewigheid. Kyk na die aandster en luister na my stem, fluistersag ...“ek het jou lief”!