Die mense wat hierdie musiekrolprent gemaak het, is lief vir Afrikaans – ook in sy kontemporêre baadjie. Liefling, die movie is een groot nostalgie-trein met trokke wat kop aan kop met jou Boere-hart bots. Die hoofrol is nie Bobby nie, maar jy, die kyker, die liefde en die onthou. Paranoïese Afrikaners soos ek moes stadig maar seker erken hoe lekker dit is om Bollywood te sien Afrikaniseer na Hartiewood toe. Ons het ons eie danse, liedere, legendes, kitsch en seer en dis blerriewil tyd om dit te vier. Die sentimentaliteit en liedjies kom van ver en dit is ’n plesier om dit te hoor in die stemme van ’n baie jonger generasie. My gunsteling-verwerking op die klankbaan was verreweg Kerkorrel se “Hoe ek voel”. Dit is ook sterk vertolk. Om gesoute spelers soos Elize Cawood en Raoul Beukes die ou gunsteling “Nostalgie” te hoor sing, was darem pure plesier. Bobby van Jaarsveld is een good-looking laaitie met tonne talent. Hy moet Liewe Jesus ook bedank vir sy looks en hoe goed hy op film vertoon. Daar is eenvoudig nie ’n lelike hoek van Bobby nie. Hy lyk wel nog ongemaklik met die moeilike dele van toneelspeel, soos stilstaan en luister. Maar in dieselfde asem gesê, die Oscar-vertoning van die prent was sy uitmuntende en brutaal-eerlike spel voor die spieël gedurende sy treffer “Spieëltjie”. Daar was nie rêrig swak vertolkings nie. Ek wil hê die fliek moet goed doen. En ek weet nie hoe die begroting oorleef gaan word nie, want toe die sneeu vir die derde keer op Harties val, was dit onmoontlik om te ontken dat daar ’n tweede filmspan Switserland toe was. Dit gee die fliek vlerke, ruimte en ’n ietsie van “Hoor my lied”, die goue jare waar ’n oorsese sessie outomaties deel van die begroting was. Tegnies is daar altyd iets wat pla, maar as die publiek dit nie hoor en sien nie, who cares? My twee probleme is daarom onbenullig: die stemwerk – hetsy op bote, in Luzern, in huise, in kamers en in die strate – het vir my algar geklink asof dit later in dieselfde klein kamertjie oor opgeneem is. Ambiance. Die liedere, soos ons hulle leer liefkry het oor dekades en meer, het swaar gedra aan die postmoderne juk. Niks met modernisering verkeerd nie, maar soos die melodieë verander word, gee ’n mens daar altyd ’n bietjie nostalgie ook prys. Geluk met ’n heerlike en vermaaklike ervaring sonder die tipies swaar Afrikaner Martie Martelgat waaraan ons so gewoond geraak het. Die fliek vlieg. Lees Steve se blog