"'n Mooi chickfliek van die grootste chickboek in die geskiedenis. Ek ken selfs mans wat dit gelees het. Wel, twee mans. EAT PRAY LOVE, beter bekend as die handleiding van regstellende aksie vir ingedoende vrouens - waar mans gewoonlik die oorsaak is van hul beroeringe. Wie anders?

Eintlik word vroue se vatbare ego's daarin verwoord en besweer maar net die verskille tussen ons planeet en julle s'n. As vroue se wêreld uitmekaarval (soos in 'n verhoudings) stop die planeet vir almal. Asof dit net met vrouens kan gebeur. Dames doen dan DIY selfhelpkursusse en skakel freneties tussen Dokter Phil en ou Friends episodes oor. Dit doen hulle onder die dekmantel van 'n Cosmopolitan-omslag, twee komberse, een selfoon en baie rooiwyn. Alles wat mans oor 'n koue bier oplos.

By gesê, my ondervinding van Oosterse oplossings vir Westerse probleme, is dat dit die domein van ryk, gef*kte vrouens met massiewe ego's en sommer baie tyd is. Om óm die wêreld te reis vir verlossing is om aan ander te vertel dat jou probleme groter as hulle s'n is en dat werk altyd kan wag. Wie hoef te werk as hulle oor daai bliksem Bennie kan kom met 'n daiquiri op 'n strand in Bali?

My eie flirtasie met Boeddhisme het my geleer dat daardie zennerige tekorte aan suurstof alleen werk as jy jou op 'n Tibettaanse berg in Sjangrila kan isoleer met windharpe en Lao Tzu. My vraag was altyd: waarvoor tel geestelikheid dan as ek dit nie ook kan inspan vir gewone mense se gewone pyn op enige plek, op enige ouderdom vir enige geslag en enige geaardheid nie? As God, gode of my eie goddelikheid my slegs kan aanraak buite my lewensfeer waar die kar breek, die kinders skree en Jan Taks wag, word spiritualiteit oorbodig. En daardie vervlakking sal tragies wees.

Oukei. Ek is 'n man. Wanneer kan ek ooit vroue voorskryf? Nooit, natuurlik. Maar so 'n fliek is vir my 'n omgedopte realiteit soos Julia Roberts se lippe onderstebo is: die dikker een is bo en ek voel ek kyk die fliek op my kop.

Hierdie fliek wat voorskryf dat oplossings vir middeljarige krisisse in die spasies tussen die kombuis, die ghoeroe en romanse lê, som nie net die vrou se heelal op nie, maar die man se frons elke keer as ons filosofieë soos asteroïede mekaar invlieg.

Dis 'n goeie, mooi fliek wat twee ure te lank is. Julia speel haar weerlose self goed teenoor werklik besonderse spel deur drie manskarakters. Die fliek sal goed wees vir Italiaanse kos, Indiese musiek en wegbreek-weke Bali toe. Maar die evangelie sal slegs inskop as jy tuis jou deur oopskop en bevryding sien as iets hier binne, nie daar bo of doer buite nie."

Lees Steve se volledige blog op Jacaranda 94.2

WAT HET JY VAN DIE FLIEK GEDINK?