Ek dink dit was die rivier wat die klank gedra het. Die einste rivier wat so verby die rand van die tuin haar pad Wildtuin toe gekry het. Wel, eers die Olifants en dan die Wildtuin, maar wie wil nou tegnies raak? Maar wat ek die meeste mis is die mopanies met hulle blare soos vlinders. Is daar nog ’n boom wat die seisoene so merk? Lank voor die eerste reëns en rooiboklammers kom, verdring diepgroen mopanieblare mekaar klaar vir ’n leksel warm Laeveldson. Hoe meer son, hoe meer blare. En met die nuwe koue net ná die groot reën, lap neongroen en oranjeblertse om die takke wat weet dis byna tyd vir hul plekkie in die son. Bietjie meer as halfpad jaar in sien mens verder as ooit die bos in. Skurwe stamme en kaal takke hou wag oor “crispy” tjoklitbruin en roesrooi blare wat op die grond laer trek soos jagters om ’n kampvuur laat in die nag. Ek dink die honde mis ook die plaas. Hulle was nie bang vir die bos nie, en het graag hul braafheid “afgeshow” as ons gaan stap het. Rotse oor agter die bobbejane aan of riviersand deur om die rooibokke te terg.
Ek het baie gedink dis te goed om waar te wees. Dis soos die paradys. En dit was, groot slange en al.

Ek kan nie sê ek mis die slange nie – lang mambas en dik pofadders. Maar dit het gehelp dat ons die huisdeure altyd toegehou het. Daar was bitter min slange in die huis. Dis nou die slange wat seil.  Dis die regopstapslange wat ons hakskene soos siwwe laat lyk het.  Geldhonger en geknel aan ongedeelde drome en doelwitte het die lig net anders oor die duisende hektaar mopaniebos geskyn. Vir hulle ’n paspoort na slapper karre, puntskoene, Armani-pakke – miskende beloning vir die uitverkorenes. Blinkvet vingers het jou hand vasgevat terwyl stroop-smiles en mooi woordjies op die lem van ’n mes jou lyf indring. En dan draai, draai, brand, brand. Nog ’n steek en nog een en nog een. Onverwags, agteraf, bitter moeilik om te verstaan, te verwerk. En skielik het die stilte ook nie meer vrede gebring nie, maar onrus, ongemak, bangwees, skrik. Nou hoor ek die trokke baie duideliker, en sommer die karre ook, maar ek is nie meer só bang nie. Ek is nog bang, maar vir vreemdes wat kan dink ek het meer as hulle. Die natuur bederf my steeds, op sekere tye meer as ander. Vroegoggend en laatmiddag glinster die kringblare van die groot essenhout voor my venster en blink die lusernland wat immergroen strek tot by dieselfde rivier wat nou die mynhope aan die anderkant hou. Maar hier seil die slange met duidelike sleepsels in die grondpad om die huis. Ons eet ook nie meer Woolies-kos nie, maar sien weer die mooi in die mens raak. Lynette Strauss, Phalaborwa