Duskant Potchefstroom stap Tisia Bruwer* op 'n stil grondpad. Sy't eenkeer kaalvoet op so 'n stofpad gestap, vertel sy. Skerp klippies steek jou, en jou voete is later vol grond. Maar op haar lewensreis het sy 'n plek bereik waar sy onder 'n koelteboom die grond van haar voete kon afwas . . . "Dis die plek waar ek met my twee tienerseuns kon gaan sit en verduidelik hoekom ek hul pa laat vermoor het." Tisia het ook haar berou oor die verskriklike daad met hulle gedeel. "Pieter* was hul pa. Hy was 'n briljante man en ek het hom liefgehad. Ongelukkig het alkohol hom in 'n monster laat ontaard. Dit verander nie die feit dat ek 'n impulsiewe, desperate, verkeerde besluit geneem het nie. En ek sal dit vir die res van my lewe met my moet saamdra."

Tisia (*skuilname word gebruik om haar kinders te beskerm) is ná 12 jaar op parool vrygelaat. Sy en haar kinders moet nou die stukkies van hul lewe optel: Nie 'n maklike taak nie, want hulle was onderskeidelik net 'n kleuter en 'n baba toe sy en 'n vriend elk 'n lewenslange vonnis vir die opspraakwekkende moord begin uitdien het. Die "bofbal-en-kattebakmoord" het destyds die media se verbeelding aangegryp, veral omdat 'n aantreklike 26-jarige swanger ma een van die beskuldigdes was. "Ek verwyt myself dat ek my kinders se kinderjare misgeloop het,'' sê Tisia nou. Dat hulle sonder ouers moes grootword en altyd leuens moes vertel oor waar hul ma is. Maar ek is bevoorreg dat my familie my met liefde bygestaan het. Ek en my kinders sal die pad van hier af saam aanpak."

Tisia voel sy kan dit met sukses doen, want sy het haar straf teenoor die gemeenskap uitgedien. Daarby het sy haar hart en siel gewerp in 'n vergifnisprogram wat in die gevangenis aangebied is. "Tydens my gevangenskap het ek genoeg tyd gehad om na te dink oor wat gebeur het. Ek het deur fases van woede, selfverwyt en aanvaarding gegaan en 'n sterker mens daar uitgestap. Ek moes leer om myself te vergewe en my man se familie, my familie en die kinders om vergifnis vra." Die gevangenis se vergifnisprogram gee gevangenes die geleentheid om tot die punt te kom waar hulle hulself en ander kan vergewe. Aan die einde van die program was daar 'n seremonie waarheen die gevangene dan diegene nooi wie se vergifnis sy wil vra. Tisia se familie was daar en sy het 'n video van die plegtigheid aan haar skoonfamilie gestuur. Van hulle het laat weet hulle vergewe haar. "My skoonma het geweet waardeur ek gegaan het, want sy het 'n ruk by ons gewoon en haar in haar kamer toegesluit as Pieter my slaan. Maar dit was vir my belangrik dat die res van die familie my vergewe." Sy wys 'n brief aan haar oorlede man se familie waarin sy skryf: "Ek weet dat die woord jammer nie my dade ongedaan kan maak nie. Ek het ook geen verskonings nie. Ek het die verkeerde keuses gemaak. Wat ek gedoen het, het ek in daardie stadium gedink, is reg... Dit het jare van selfondersoek geneem om my skuld te beken en ek het voor God vergifnis gevra daarvoor. Ek weet ek kan nie jul broer terugbring met 'n brief nie, maar ek wil net sê ek is bitter jammer vir die hartseer wat ek veroorsaak het." Dié oorgawe waarmee sy haar vergifnis aangepak het, was so aangrypend dat dit opgeneem is in die boek The F Word: Images of Forgiveness, deur die Britse skrywer Marina Cantacuzino ten bate van die internasionale Forgiveness Project (www.theforgivenessproject.com).

In die boek vertel Tisia hoe wonderlik haar man was as hy nugter was, maar hoe alkohol hom verander het. Fisieke en verbale aanvalle het jaar ná jaar aangehou. "My pa was nie tevrede met my keuse van 'n huweliksmaat nie,'' sê sy nou. "Ek was te trots om aan my ouers te erken ek het 'n fout gemaak. Ek en my man het goeie poste by die Pretoriase stadsraad beklee en ek wou nooit aan iemand beken hy slaan my nie. "Ek het uiteindelik troos begin soek by 'n [ongetroude] huisvriend. [Hulle het ook 'n verhouding aangeknoop.]

"Hy het my en my kind se beskermer geword... en ook ongelukkig die man wat my met die moord gehelp het." Die hoofstuk in die boek vertel die verhaal van 'n jong vrou wat die beste jare van haar lewe in die tronk deurgebring het en wat 'n lang innerlike stryd gevoer het voor sy besef het dít wat sy gedoen het, was verkeerd. "Toe ek uiteindelik tot dié besef kom, het ek verbrokkel. Ek moes eers in stukke breek voor ek weer mens kon word." Tisia weet nou daar is altyd 'n ander uitweg. Iets wat sy juis met ander mishandelde vroue wil deel sodat hulle nie dieselfde dom besluite as sy neem nie. Sowat 80% van die vroue wat saam met haar in die tronk was, was in verhoudings waar mishandeling en drankmisbruik betrokke was. "Dit maak nie vroue se verkeerde keuses reg nie, maar duisende vroue dink hulle kán nie uit so 'n verhouding wegbreek nie. Ek moes nooit op 'n ander man se skouer gehuil het nie en ek moes nie besluite in oomblikke van desperaatheid, angs en woede geneem het nie. Ek, my kinders en my en Pieter se families het met swaarkry daarvoor betaal."

'My kind dra nog die letsels'

 
Tisia vertel watter verhaal voor dáárdie nag in 1994 ontvou het... Sy wou van Pieter skei. Sy toenemende oormatige drankmisbruik het hom al hoe meer gewelddadig gemaak. Dit het sy persoonlikheid verander. Hy het ook mettertyd haar selfbeeld heeltemal afgebreek. "Ek is uitgeskel as 'n nikswerd en te maer en lelik. Hy het gesê ek sal hom nie los nie, want ek sal niks sonder hom wees nie. Nadat hy met 'n ernstige nierkwaal gediagnoseer is, het hy steeds aangehou om straf te drink. Ek het bottels vol drank in die wasbak afgegooi en elke keer slae gekry daaroor." Die Dinsdag voor die moord het sy hom vertel sy is weer swanger, maar wil steeds skei. "Hy het my en ons kleuterseun genadeloos met 'n gordel bygedam." Pieter kon nie hul seuntjie se spraakprobleem hanteer nie en het die kind gereeld teen die kop geklap daaroor. Die seuntjie was ook 'n koliekbaba en het dikwels mangelontsteking gehad.
"Pieter kon sy huilerigheid nie verdra nie en het geglo die kind is stout. Soms het hy my uit die huis gesluit en ons kind in die kamer toegesluit. Dan moes ek deur die toe venster my kind probeer troos." Sy wys 'n foto van haar kind se stukkende gesiggie ná die moordnag. "Hy dra vandag nog die letsels. Ook in sy hart." Sy beklemtoon weer eens niks verontskuldig moord nie. "Ek weet nie hoe 'n ander ma sou optree as haar kind so geslaan word nie, maar ek het genoeg gehad en geknak." Ná die Dinsdagaand se slae het sy Pieter se rewolwer na hul huisvriend, haar minnaar, geneem en gevra hy moet haar wys hoe dit werk, want as Pieter haar weer slaan, wil sy hom skiet. "My vriend het 'n makliker uitweg voorgestel. Ons moet Pieter slaappille ingee en vergas sodat dit lyk na selfmoord weens sy ernstige siekte. My vriend sou ook iemand kry om hom te help." Sy vertel van haar desperaatheid om haar en haar kind uit die gewelddadige situasie te kry. "Ek was emosioneel so afgebreek en afgestomp dat ek enigiets sou doen om Pieter uit my en my kind se lewe te kry. Ek het ook gevrees vir my ongebore kind, want ek kon nie nog 'n kind in so 'n huis grootmaak nie."
Haar gedagtes gaan terug na daardie aand. Sy het Pieter slaappille saam met tee ingegee. Toe hulle seker was hy slaap, het die huisvriend en sy helper hom uit die huis na die motor gedra. Sy moes binne bly en ook slaappille neem sodat sy, volgens beplanning, die volgende oggend Pieter se lyk in die gasgevulde motorhuis sou kry. "Ek het die oggend wakker geword en die motorhuis was leeg. Ek was paniekbevange en het besef iets het die vorige aand skeefgeloop. Ek het na sy kantoor gejaag en kennisse en my ma gebel. Niemand het geweet wat van hom geword het nie." Later die oggend het die polisie gebel en gevra of sy hul motor vermis. "Ja, en my man is ook weg... "Dan het ons slegte nuus vir jou, Mevrou, want daar is 'n verkoolde lyk in die bagasiebak van jou man se motor," het die speurder gesê. Die uitgebrande motor is op 'n verlate pad gevind. Toe die polisie by hul huis in Pretoria aankom, het hulle dadelik gewéét. "My oë was blou geslaan en ons seuntjie se gesiggie was vol stukkende plekke. Hulle is mos nie dom nie. Hulle het dadelik geweet daar was gesinsgeweld by ons huis en dat ek betrokke was by die moord." Haar vriend is ook ondervra en sy helper het staatsgetuie geword.
Wat daardie aand met die plan skeefgeloop het, het in die hof ontvou. Pieter het wakker geword toe hy motor toe gedra is. Haar vriend het hom met 'n bofbalkolf geslaan en sy lyk in die bagasiebak van sy motor gesit. Daarna het hulle die motor op 'n verlate pad buite Pretoria aan die brand gaan steek. Tisia en haar vriend is byna twee jaar later skuldig bevind aan moord en elk lewenslank tronk toe gestuur. Die vriend het ook twaalf jaar van sy vonnis uitgedien en is ook nou op parool.

'Dit het my gebreek'

 
"Ek was ses weke swanger toe Pieter vermoor is," vertel Tisia. "Dit was 'n gespanne swangerskap omdat ek gereeld in die hof moes verskyn en ek onseker gevoel het oor die toekoms. Toe my baba agttien maande oud was en my seuntjie vyf, het ek by die gevangenis ingestap. Dit het my gebreek om hulle agter te laat. "My ouers het hulle versorg en hulle het gereeld by my kom kuier. My oudste het eendag gevra hoekom ek in dié plek is. Ek het hom vertel ek is daar omdat ek sy pappa baie seergemaak het.
"Ná 'n groot, rebelse uitbarsting van my oudste het ek onlangs oop en eerlik met die seuns gepraat oor wat tydens die moord gebeur het. Dit was nie vir hulle maklik om te hoor nie, maar hulle verstaan die situasie nou beter. Hulle het selfs ingestem tot hierdie artikel en dat ek eendag 'n boek moet publiseer oor wat ek alles uit my situasie geleer het." Tisia het tydens haar gevangenskap 'n kursus as MIV/vigs-berader deur Unisa voltooi, en ook verskeie Bybelstudie-kursusse en 'n haarkappers- en kosmetiekkursus. Sy was betrokke by 'n projek vir babas wat in tronke gebore word en is gereeld deur die gevangenis gebruik om met die media te praat oor vrouemishandeling. Sy doen nou vrywilligerwerk by vrouegevangenisse. "
Die waardevolste lesse in die gevangenis het ek deur 'n selfverryking-kursus van 12 weke geleer. Ek het geleer om my verlede agter te laat en te aanvaar wat ek gedoen het, is verkeerd. Ek moes myself vergewe vir wat ek gedoen het, maar ek moes Pieter ook vergewe vir wat hy aan my en ons kind gedoen het." Sy het geleer dat sy nie so "nikswerd en pateties" is soos wat hy vir haar gesê het nie. "Ek het later gevoel ek kan niks in sy oë reg doen nie en dat ek regtig lelik, maer en dom is, soos hy my gereeld toegesnou het." Sy het tydens die kursus besef sy moes eerder hulp gaan soek het by haar ouers (die polisie was verskeie kere by haar huis, maar die Wet op Gesinsgeweld was toe nog nie in werking nie en hulle kon nie in huishoudelike rusies inmeng nie), dat sy vir haar 'n ander werk en blyplek moes gekry het. "Maar dit wat gebeur het, het gebeur. Nou moet ek en my kinders aangaan met ons lewens."
Tisia is vandag 'n sterk, selfversekerde vrou. Sy sê die gevangenis is nie 'n plek vir sissies nie en sy moes leer om haar man te staan. "Ek het die 12 jaar dat ek daar was, gebruik om van myself 'n beter mens te maak. Iemand op wie my seuns trots kan wees." Sy erken sy sukkel steeds om te huil, maar raak tog bewoë as sy vertel hoe sy geleer het God het haar lief net soos sy is en dat sy vergifnis ook vir haar geld. "Ek het geleer om met sagter oë na binne te kyk."