Die twee helikopters maak reuse-sirkels op die bruin vloedwater. Mense staan op dakke en waai hoopvol. Die Suid-Afrikaanse reddingspan sirkel al drie dae oor die verdrinkende landskap tussen Maputo en Chibuto, en hul oë is al vreemd gewoond aan die verwoesting. Tot ’n beweging in ’n boom hul aandag trek: Sophia Pedro waai paniekbevange om hulp. Die jong vrou is klaarblyklik in pyn en klou ’n pasgebore baba in bebloede lappe vas. Sy het in die boom skuiling gesoek toe die barensnood haar oorval het. Vanuit die agterste helikopter fokus en rol Adolf Spangenberg se TV-kamera en verewig ’n toneel wat later vir die wêreld ’n simbool van hoop sou word. Nie net verower hy daarmee die CNN-prys vir Afrika-joernalistiek nie, maar die “boombaba”, Rosita, word ’n ambassadeur wat help om Amerika te oortuig om geld te gee vir die opvoeding van en mediese bystand aan kinders wat deur die oorstromings van 2000 in Mosambiek geraak is.

Adolf het ’n lang, avontuurlike pad geloop van die dorpie Alice, sy heimat in die Oos-Kaap, tot by die lugmag en ’n kort tyd as bankkassier. Tot sy ooraktiewe nuuskierigheid en avontuurlus hom uiteindelik by die SABC laat beland het. “Daar was nie dadelik vir my ’n pos as kameraman nie, maar ek het my nie laat keer nie en ’n fortuin betaal vir ’n BBC-fotografiekursus. Die SABC het nie ’n keuse gehad as om my uiteindelik aan te stel nie!” Hy het sowat ses jaar gelede die oorgang van kameraman na joernalis-kameraman gemaak. “Daar was altyd ’n effense frustrasie omdat ek net die beeldmateriaal kon neem en nie die storie self kon vertel nie. Nou het ek volledig beheer oor ’n storie.” Wat hy deur die lens van ’n kamera sien, is wat sy werk die moeite werd maak. Soos met die kort toneeltjie van die vrou in die boom. Só kon hy ’n spesiale boodskap aan die wêreld oordra. “In ‘n wêreld vol rampe, geweld en oorloë, wat ons nie altyd verstaan nie, het dit my ook hoop gegee. Rosita verteenwoordig die nuwe lewe wat altyd uit sulke situasies voortspruit,” sê hy.

“Die kamera bly permanent teen my oog. Dan maak die wêreld om my nie meer saak nie."

Hy word geraak deur die menslike stories agter elke ramp en oorlog. “Die kamera bly permanent teen my oog. Dan maak die wêreld om my nie meer saak nie. Ek sien net die ‘rolprent’ wat voor my afspeel. Ek beweeg die kamera deur die gebeure asof ek dit vir myself verstaanbaar wil maak. Dit is al hoe ek die visuele werklikheid van die verhaal aan die kyker kan oordra.” Sy kamera en joernalistieke oog het al in 1994 op die massaslagting in Rwanda gefokus, die hongersnood in Soedan, die geweld in die Kongo, die val van Sierra Leone in 2002, die Irak-oorlog, hoe jong Suid- Afrikaanse meisies in ’n Nigeriese kinderprostitusie-netwerk in Durban beland het. Ook tonele ná die tsoenami-ramp. Sy kop is vol beelde, herinneringe en ervarings. Hy sukkel steeds om party te verwerk. Soos die trosbom wat die kinderhuis in die begin van die Irak-oorlog in Babilon getref het. ’n Beeld wat hom tot sy sterfdag sal bybly. “Kinders het soos stukkende poppe gestrooi gelê . . .” Hy sluk diep om sy emosies te probeer beheer, maar die trane laat hulle nie keer nie. “Om oorlog te sien maak jou hard, maar nie hard genoeg nie. Sulke tonele het dit vir my moeilik gemaak om met my kinders oor die foon te praat terwyl ek in Irak was. Ek het te emosioneel geraak.”

“Dis soms moeilik om die betekenis van die lewe te verstaan”
Die twee jaar wat intussen verloop het, kon nie ’n waas oor sy ervaring trek nie. Beelde van kinders met gapende wonde, stapels lyke . . . ’n jubelende vrou in ’n bloedrooi sandstorm. Hy en Reneé Horn het byna 4 weke in Irak nooit behoorlik geslaap nie. Hulle het op matrasse op die vloer gelê en die beddens se basisse teen die vensters gepak om die glas uit te hou wanneer daar aanvalle is. Die Palestine-hotel, waar hulle tuis was, het nie die bomme vrygespring nie. Adolf sal 8 April 2003 altyd onthou. Hy het voor die hotel met ’n Spaanse joernalis gestaan en gesels. “Hy het vertel van sy vakansie wat hy moes kortknip om die oorlog te kom dek. Hy het verlang na sy mense en kinders.” Die Spanjaard het hom verskoon om gou iets in die hotel te gaan haal en Adolf het na die Associated Press-tent oorkant die straat gestap.

Skielik het alle hel losgebars en moes die joernaliste skuiling soek teen die glasstukke wat soos dolke op die aarde neergereën het.“Ek het opgekyk en ’n gat gesien in die hotel waar die 6de verdieping was. Noodspanne het beseerdes en lyke begin uitdra. My kamera het gerol.” Deur die lens het hy gesien hoe hulle ’n beseerde man op ’n mat op die sypaadjie naby hom neerlê. “Ek het op sy gesig gefokus. Dit was die Spanjaard. Sy oë was oop. Ek het die kamera voor my oë weggeneem en ’n paar oomblikke het ons stil na mekaar gestaar. Hy kon nie praat nie, maar ek kon in sy oë sien hy weet hy is besig om dood te gaan. Dit was asof sy oë my gegroet het voor hy gesterf het.” Adolf kan die trane weer nie keer nie. Hy het al drie oorloë gedek en as kameraman en joernalis baie gesien, maar hy is nog mens. “Dit is soms vir my moeilik om die betekenis van die lewe te verstaan. Die ou het net sy werk gaan doen.”

“Iets moet jou hoop gee dat dit nooit weer sal gebeur nie of dat daar hoop uit die situasie gegroei het.”

Gevaarvraat
Adolf het ’n onverklaarbare drang om in gevaarlike situasies te gaan inkruip. Hy was op letterlik die laaste helikopter na veiligheid gebring met die val van Sierra Leone, en hy het op eie inisiatief besluit om Rwanda toe te gaan. “Ek was besig met vryskutwerk vir ’n buitelandse agentskap in Mogadisjoe (Somalië) en het deur Rwanda teruggekom toe ’n joernalis my in die Kigali-hotel vertel ‘die storie van die jaar’ is aan die broei in Rwanda. Ek kon nie in Kigali aanbly om te wag tot die bom bars nie en moes eers terug Johannesburg toe om ’n paar reëlings te tref. Ek het nie eens twee keer gedink nie. Ek moes net teruggaan. Dit was die storie van ’n leeftyd.” Hy het sy vrou, Debbie, laat weet hy gaan twee weke weg wees en is in ’n vragvliegtuig met mediese voorraad Kigali toe. Op pad het hulle gehoor volskaalse oorlog het pas in Rwanda uitgebreek. “Toe ons laag oor Kigali sirkel, kon ons die mal geweld in die strate sien. Dit het gelyk of die wêreld skielik waansinnig geraak het. Oral was mense besig om mekaar met pangas dood te kap.” Hulle het geland, maar die vlieënier het die enjins nie eens afgeskakel nie, gereed om dadelik weer op te styg. “Dié wat nou nie meer bereid is om af te klim nie, kan saam met my teruggaan,” het hy hulle ’n laaste kans gegee. “Ek het ’n oomblik gewyfel, maar toe saam met die mediese spanne afgeklim. Ons is in die middel van die aanloopbaan afgelaai, want die vlieënier wou dit nie naby die lughawe-gebou waag nie. Toe ek die vliegtuig - ons laaste band met die wêreld buite hierdie mal oorlog - sien opstyg, het my hart in my skoene gesak . . .”

Hy het nie geweet waar hy die nag sou slaap of waar sy volgende bord kos vandaan sou kom nie.

Net soos agt jaar later in Bagdad, het Adolf nie geweet waarheen om eerste te gaan nie. Hy het nie geweet waar hy die nag sou slaap of waar sy volgende bord kos vandaan sou kom nie. Hy het net ’n pak Provitas by hom gehad. “Totale anargie het geheers. Die impak van die situasie was byna te groot om te begryp.” Dit was nie maklik om weer uit Rwanda te kom nie. Hy het saamry-geleenthede by vragmotors van die Verenigde Nasies gebedel. Met sy roete deur Soedan na die Kongo het hy hom opnuut in ’n burgeroorlog vasgeloop. Hy moes terug Oos-Afrika toe en het uiteindelik ná vyf dae deur Somalië sy weg na veiligheid gevind. “Ek het soms gery op trokke wat lyke vervoer. G’n wonder ek was twee maande daarna siek nie.” Elke keer as hy terugkom van só ’n ervaring, neem dit hom weke om die logika daarvan in sy kop uit te werk. “Iets moet jou hoop gee dat dit nooit weer sal gebeur nie of dat daar hoop uit die situasie gegroei het.” Hy het vier jaar ná die slagting teruggegaan na Murambi om verslag te doen oor die massiewe monument van beendere wat op houtbeddens opgestapel is. “Dit was vir my ’n soort afsluiting van die emosies wat nog in my gewoed het. Ek kon verstaan watter emosies die monument verteenwoordig . . Want ek was daar toe dit gebeur het.”

“Dit gaan oor die passie om die storie te vertel”
Hy sê Debbie is sy geesgenoot en verstaan sy drang na nuus. Sy en die kinders is altyd in sy agterkop, maar hy hou hulle eenkant terwyl hy aan ’n groot storie werk. “Ek sal nie dié soort werk kan doen as ek heeltyd daarvan bewus is dat ek ’n gesinsman is nie.” Hy hou van stories wat gelaai is met aksie en adrenalien, en was die dryfkrag agter die onlangse onthulling van die Nigeriese kinderprostitusie-netwerk. Die e-pos van ’n ma wie se kind in die netwerk vasgevang is, het hom op die spoor van die storie gebring en hy het die nuuswenk aan die polisie oorgedra. Binne ure was die wiele aan die rol en was hy saam met ’n spesiale taakmag op pad Durban toe om die netwerk te gaan oopvlek. “Om so ’n netwerk te help blootlê laat ’n mens voel jou werk beteken iets.”

Hy wil die wêreld ’n beter plek maak vir sy kinders. Hy het al genoeg dinge in sy loopbaan gesien om hom te oortuig om sy kinders, Karl (9) en Marcelle (5), streng en beskermd groot te maak. “Daar is niks wat kom by die adrenalien van so ’n eerstehandse ervaring nie. Dit word deel van jou lewe. Jy kan nooit regtig weer daarvan wegbreek nie.” Elke keer as hy in Johannesburg deur die Selby-gebied ry, dink hy aan Tina Benade (11), wat in 2003 ontvoer en vermoor is. Hy kan die beeld van die kind wat langs die snelweg deur haar moordenaar na haar dood gesleep is, nie uit sy kop kry nie. “Wat met haar gebeur het, vreet my steeds op.”

Trane wel weer in die geharde nuusman se oë op. Hoeveel van dié soort stories sal hy nog kan oordra voor dinge te veel raak? “Ek dink nie ek sal ooit iets anders kan doen nie. Dit gaan nie oor erkenning of toekennings nie, dit gaan oor die passie om die storie te vertel.”