Liefste Flapskat

Vandag dink ek terug  aan ons skooldae. Toe ons net op liefde en water geleef het en ek vir my ma gesê het “daai is my trouman”. Hoe jy my hard stukkend gebreek het en nege jaar later hom weer heelgemaak het met jou bekende woorde “nou wat nou”.

Ek weet dit was die Here se manier om ons vir mekaar te vorm om sodoende die gelukkigste mens op aarde te wees. En ná vier jaar van getroude lewe hou ons steeds “honeymoon” met al die uitdagings wat daarmee gepaardgaan.

Om weg te wees van jou is soos wanneer die son sak oor die see, braaivleis sonder aartappelslaai. Dit bring ’n leemte, maar tog ook ’n gevoel van rustigheid om te weet jy is myne. As jy vir my kyk met daai smaraggroen oë, raak my knieë lam en ek kry nou nog gefladder van skoenlappers in my maag ná al die jare (wat ek sou dink net moontlik is as jy ’n verliefde tiener is)! Die opwinding om te wag vir jou oproepe deur die dag, daai stem te hoor of jou gesig deur die gewoel van ’n besige dag te sien. Ons beweeg as een en vul mekaar aan, my sielsmaat. Jy die grapjas vir wie ’n mens nie kan kwaad bly nie, al wil ek. Jy is altyd reg met ’n sê-ding of ’n grappie om enige dag op te helder.

Ons leef in ons eie sprokie, kompleet met ’n prinses, ’n ridder op sy wit perd en ons twee die hofnarre. Die kinders hou ons besig, en al is daar min tyd saam met jou, is elke oomblik meer werd as al die skatte in die wêreld. Ons kon nie vir beter pa of man gevra het nie. Jy is altyd daar vir my en die kinders.

Liefdevol, bedagsaam, eerlik, betroubaar – jy’s sommer alles in een en nog meer. Valentynsdag is nog ’n dag om ons liefde vir mekaar te wys, maar ons weet die Here het ons bymekaar gebring om elke dag Valentynsdag te vier.

Jou Seekatjie