Dis ’n paar maande sedert my swaer oorlede is, en ek het nou die vrymoedigheid om hierdie brief te skryf, eintlik om vir almal te sê watter wonderlike suster ek het.

Sy en haar man het saam skoolgehou. Hy het verlede jaar siek geword en is ná byna 7 maande in die hospitaal ná twee leweroorplantings oorlede. Hy was 47.

Sy woon op Senekal in die Vrystaat en was elke naweek aan sy sy. Soms het dit beter gegaan as ander kere, en deur die hele tyd van sy siekte het hulle steeds moed gehou! Waarom? Omdat Coert in sy eie woorde “lorrie-vragvol lief was vir haar”. En omdat hulle vier kinders het, van wie die oudste 19 en die jongste 7 jaar oud is.

Sy het ook ’n matriekklas gehad wat aan die einde van die jaar met tien onderskeidings gespog het.

Waarom vertel ek die storie? Sodat mense kan weet dat daar ná alles steeds hoop kan wees. Christine gaan steeds Coert se drie seuns grootmaak. En soos ek haar ken, gaan hulle drie pragtige jong manne word. Haar eie dogter het al die swaar agter haar gesit en is besig met haar tweede jaar op universiteit.

My sussie, ek bewonder jou moed. Ek bewonder jou harde werk! En ek is vir jou lief!

Miskien kla ons ander te maklik. Daar is mense wat swaarder kry as ander. Tel jou pakkie op en stap aan!

Trudi Roos, Vandelbijlpark