Mmmmm, ‘n bonussie sal nogal nie sleg wees nie, dink ek by myself.

Ons stap uiteindelik in en word begroet deur Meneer X, en die helfte van die personeel-afdeling.

Meneer X speel nie veel met woorde nie, en los die bom. “Ons het besluit om die besigheidseenheid toe te maak en die finale datum is oor twee maande."

“Huh?” Sê net weer en weer en weer, gaan dit deur my kop.

Die skok, verlammendheid, verslaendheid en spraakloosheid is op almal se gesigte rondom die tafel. My o? beweeg vinnig van kollega na kollega. Ek sien hoe mooi gegrimeerde gesiggies meteens vol traanspoortjies begin hardloop.

Drie van my kollegas is enkelma’s, twee is jong ongetroude dames, en dan is daar getroude kollegas wat weens die ekonomiese seisoen daarbuite verplig is om te werk sodat die pot op die stoof kan bly stoom. Meneer X het skielik ‘n skim in die raadsaal geword. Ek sien sy lippe beweeg, maar neem nie meer in wat hy kwytraak nie.

Ek staan op en stap uit – ek het genoeg gehoor.

Ek stap terug na ons kantoor, en skielik lyk alles anders. Ek sien die bouers wat langs ons kantoor besig is om te bou, en ek beny hulle. Gister was hulle niks meer as net bouers wat kruiwaens rondstoot nie, vandag besef ek hulle is beter-af as ek. Ek luister skielik met ander ore hoe hulle vrolik sing in hulle Afrika-taal en sien die tevredenheid op hulle gesigte.

Ek sien die tuinier besig om vetplante in rye te plant. Selfs hy neurie stilweg terwyl hy plant.

“Mirrag Mevrou, kyk hoe smile die plante'tjies vedag.” Roep hy vrolik. “Wil'ie mevrou nie vedag pratie?”

Dis nie lank na my dat die res van my kollegas terugkeer kantoor toe nie. Ek sit by my lessenaar en het regtig niks om vir iemand te sê nie. My kollegas staan in groepies en gesels.

Twee dae later stuur Hoofkantoor ‘n sielkundige om met ons te kom praat.

Die dame word met antagonisme beje?n. Almal se lyftaal spreek dit. Filicia sit-lê op die bank, Benitha Bokwa staar net voor haar uit, fynlyfie Fiffie sit en blaai deur haar selfoon, Krummel wat Brood geword het, sit en kef tussenin.

Die sielkundige sukkel om almal se aandag te hou, maar toe sy dit het, kom sy met hierdie belaglike opdrag.

“Verbeel julle julle is ‘n diertjie. Watse diertjie sou julle graag wou wees? Kom ons begin hier by Fiffie.”

Almal kyk na mekaar met ‘n uitdrukkig van wat de hel praat die vrou van? Ons wil nie diertjies wees nie, nie nou nie en ook nie môre nie! Moet asseblief nie jou boek-kennis vandag hier op ons kom probeer toepas nie!! Gee ons net ons werk terug! En as jy nie kan nie, loop net asseblief!

Die sielkunde-sessie het nie baie goed verloop nie, en almal is kwaad toe ons uitstap.

Die verslaendheid het plek gemaak vir woede. Woede teenoor almal wat nie op hierdie stadium aan ons kant blyk te wees nie.