Ondermekaar word die vrae ‘n refrein wat dui op die desperaatheid wat elkeen binne hom of haar ervaar.

Ons soek antwoorde, maar kry niks uit die bekommerde kollegas se gesigte nie.

Skielik gee kollegas nie meer om wat jy van hulle sake weet nie, hoeveel uitstaande skuld daar is nie, of hoe broekskeur dit soms gaan nie. Banke word gekontak met vrae oor aflos-paaiemente, planne word gemaak om kinders uit nasorg te haal en by ouma en oupa te los.

Ons hele kantoor staan saam en probeer ‘n oplossing vir elkeen se probleem kry.

Ons voel nie meer deel van die Maatskappy nie. Ons groepie wat afgelê is, voel ver verwyders van ons ander, nou bevoorregte, kollegas.

Ons vermy Hoofkantoor sover as moontlik. Ons voel skaam, ons selfvertroue in die grond.

By Hoofkantoor is daar sommige kollegas wat ons probeer vermy, ‘n ander bars in trane toe sy my sien.

Die realiteit is meteens voor elkeen se deur.

Ons begin werksoek, gaan vir onderhoude, doen ons bes om weer sigbaar in die arbeidsmark te wees.

Selfs die ondervinding wat ek deurgemaak het toe Manlief destyds sy werk verloor het, kon my nie voorberei om my aflegging makliker en beter te hanteer of te ervaar nie.

Niks kan jou voorberei op die emosionele impak wat aflegging op jou het nie.

Ek onthou hoe ek een oggend vroeg moedeloos opstaan en in die tuin gaan stap. En ek hoor duidelik hoe die Here vir my sê “Moet jou nie bekommer nie, die werk sal na jou toe kom”. Ons Ewige Vader wat maar net altyd daar is om na ons te kyk.

Soos die einde van die twee maande naderkom, begin ons een na die ander werk kry.

“Wonderlik”, ja, maar ook vir sommige ‘n onverwagse nagmerrie.

* Lees Tallie se vorige blogs hier.