"Ek kan nie glo ons is al in Meimaand van hierdie uitdagende jaar nie. Uitdagend beslis, maar laat ek julle eers vertel wat alles gebeur het sedert ons laas gesels het.

In die Laatsomer van 2012 het ons teruggekeer van Amerika waar ons vir ons kinders en kleinkinders gaan kuier het. Toe ons voete die Afrika-grond raak was dit met 'n lus vir 2012 wat voorlê. Na die koue winter in Amerika, was dit heerlik om die warmgoed weg te pak.

Terug in die kantoor, het kollegas stuksgewys by my kom sit en vertel van die nuwe CEO wat binnekort sou begin. 1 Februarie om presies te wees. Almal was onseker, vraend en onseker. Net ek, lekker uitgerus, was positief oor die res van die jaar. Die aanstelling van die nuwe CEO was regtig die laaste gedagte wat my laat wakkerle het.

In 'n groot kantoor met 'n verskeidenheid kollegas, sommige van Ooste en ander van Weste, het almal nie juis dieselfde liefde vir mekaar gehad nie. Mens lewe mos maar elkeen sy eie lewe. Skinder ook maar lekker ondermekaar, maar netnou drink ons weer almal saam koffie.

Ek het regtig begin om kollegas kwalik te neem dat hulle so negatief oor die toekoms is. Hoe kan mens so negatief wees oor iets wat nog nie gesê, gebeur of 'n moontlikheid is nie? Hoe kan mens negatief wees as die somerson soggens vroeg saam met die voëlgesang opkom en die lus in enige slaperige liggaam insyfer?

Die werk het maar sy loop geneem, e-posse en telefoonoproepe beantwoord, kliënte gaan sien, nuwe besigheid skryf, die normale gang wat mens maar die afgelope paar jaar doen.

1 Februarie breek aan en nuwe CEO word welkom geheet met alles wat 'n soettand kan begeer. Soos mak dassies sit ons en al die ander afdelings se kollegas in die raadsaal en luister na die intree-toespraak van Meneer X. Ek sit rondom my en kyk stadig na my kollegas, een vir een. Sommige lyk soos mak katjies wat hulle paaiendste gesiggies moet opsit vir die grootste bakkie melk, ander sit met oë wat strelend oor die konferensietafel na meneer X sit en luister, hier en daar sien ek een of twee kollegas met kille oë voor hulle uitstaar, bemerk ek selfs 'n ietwat van 'n vyandigheid.

Soos dit elke nuwe besem beaam, luister ons na Meneer X wat gewilde "buzz-woorde" soos "strategie vir die toekoms", "nuwe hoogtes vir die maatskappy", "die uniekheid van die maatskappy", bla bla bla bla. Elke woord sorgvuldig uitgesoek, blinkgepoets en met 'n pruilmond ge-uiter. Musiek in die klein blink oortjies van dié wat hom aangestel het.

Na die toespraak, het ek 'n sterk koppie tee nodig, en so ook sommige van my kollegas, terwyl ander in die ry staan om Meneer X van nader te leer ken. Op sommige gesigte sien jy die angstigheid van "SIEN MY TOG NET RAAK MENEER X!!"  Ek sien hoe Susie Schoonholl nadertrippel met 'n bordjie eetgoed vir Meneer X, wat dit opgevoed ordentlik uit haar hande neem, haar bedank en sy gesprek voortsit met William Sithole.

Belaglik, dink ek, drink my tee klaar en verlaat die vertrek. Hoe kan mense so aangeplak wees? Ons is almal Godgeskape mense, almal dieselfde, almal feilbaar, en tog kan ons soms buite ons karakter optree ter wille van "aanvaarding" - aanvaarding? vir hoe lank? Net vir solank elke party kry dit wat hulle verwag en vir solank elkeen sy nar-rol speel.

Ek stap terug na die gebou en verlustig my in die ryp sonskyndag. Daar is 'n volrondheid, 'n speelsheid en niks sal my van stryk af bring nie.

Maandagoggend, 7 Februarie is ek oppad na 'n kliënt, toe een van my kollegas skakel om te sê daar is 'n vergadering om 12 uur in die raadsaal. Ons afdeling moet teenwoordig wees. Uitkomkans is daar nie, en ek kanselleer my afspraak.

Ek ry terug kantoor toe, min wetende wat wag.

* Volg Tallie se nuutste blog hier op sarie.com