Tallie, sarie.com se geliefde en gewilde blogger, is vir 'n ATKV-Mediaveertjie-prys benoem in die kategorie "Gedrukte Media Tydskrifte: Essayis, rubriekskrywer of blogger van die jaar". Tallie het die 7de Augustus haar verhaal op sarie.com begin deel oor hoe sy (en haar man, Simon) die emosionele en finansiële wipplank ry nadat hy afgedank is. En Tallie se pad het net op die regte tyd met sarie.com s’n gekruis. Ons was op soek na ’n gebruiker wat wou en kon blog en het dadelik besef hier kom ’n ding! Haar lekker skryfstyl, die regte onderwerp in ’n resessie en die dagboek-formaat was perfek vir die web. Tallie het van haar eerste inskrywing mense se lewens aangeraak en ongelooflike ondersteuning in die vorm van kommentaar gekry. Binne ’n oogwink het haar blog daagliks meer besoekers as selfs enige van die celeb-bloggers op sarie.com gekry. Sy het in die tussentyd haar blog afgesluit, maar ná vele kommentare en versoeke van 'volgelinge' van haar blog, het sy weer begin skryf. Dié keer deel sy dít wat sy in verskillende situasies geleer het. Lydia van der Merwe, SARIE se bekroonde gesondheidsredakteur, is benoem in die kategorie, "Beste Leefstyl-storie" vir haar artikel, " Ja, mans kry ook gloede!"