Selfs al ken jy Jeanne Els net ’n paar minute, weet jy: Sy gryp die lewe met albei hande aan. As sy in iets glo, gee sy 100%. Of dit nou is om die eerste koerantonderhoud met Nelson Mandela te voer nadat hy president geword het (en boonop ontbyt saam met hom te eet) of om alleen in Indië te reis - sy dóén dit net. Só het Jeanne ook in Mei 2006 haar pos as leefstylredakteur by SARIE aangepak - met totale oorgawe. Maar toe gebeur die één ding wat jy nooit met dié lewenslustige en passievolle joernalis sal vereenselwig nie. Nadat sy namens Media24 se vrouetydskrifte saam met vyftien ander joernaliste in die Magaliesberg aan SA se Media Survivor-oorlewingsnaweek deelgeneem het, was haar woorde nog: “Ek is vreesloos. Vorentoe gaan niemand en niks my onderkry nie.”

Vier maande later was sy “afgeboek” vir uitbranding. En 16 weke lank was sy magteloos, vasgevang in ’n maalkolk van depressie, só erg dat sy later nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Dit was ’n Jeanne wat niemand geken het nie. (Sy die minste van almal.) Maar haar verhaal is ook een van hoop en oorwinning. Uiteindelik was dit haar dryfkrag en passie vir uitdagings - wat deels tot haar uitbranding gelei het - wat ironies genoeg weer tot haar herstel sou bydra. Toe die sterk antidepressante ’n paar maande later die donkerte so ’n bietjie begin lig, het ’n nuwe uitdaging in haar kop gespring: ’n Boek oor depressie. Haar verhaal - en dié van ander. Jeanne het weer iets gehad om in te glo: haar boek Ligdans.*

Sy vertel self vir SARIE-lesers wat tot haar depressie gelei het, hoe sy dit beleef en oorwin het.

"Skielik het ek myself, die gewoonlik selfversekerde, waaghalsige Jeanne, nie geken nie. Langs my was my aantekeninge vir ons voorblad-scoop - ’n drie uur lange onderhoud met Jacinda Louw, naaswenner van die eerste SA Survivor. Stof vir ’n fantastiese storie, maar ek het met dooie oë daarna gestaar. Dit het vir my níks beteken nie. Ek het nie my eie aantekeninge geglo nie, ek kon nie my hande optel en begin skryf nie . . . ek kón net nie. Ek het oor die naweek probeer - dié keer my artikel oor Coco Chanel, in wie se voetspore ek in Parys gestap het (’n joernalis se droom). Maar dit het my nie opgewonde gemaak nie. Ek het gedink: ‘So what? Wie was sy in elk geval nou eintlik?’ Ek het skielik nie geglo in my eie storie nie. Die woorde wou net nie kom nie. I just couldn’t pull it off.

Op daardie oomblik het ek besef hier kom groot moeilikheid. Iets is fout. Ek was besig om iewers heen te val, baie diep. Ek het nie geweet wat met my gebeur nie. Die ergste was ek het besef niemand gaan my glo nie. Nie SARIE nie. Nie my man, Dolf, nie. Hoe kon hulle? Ek is dan die een wat nooit nee sê vir ’n lekker storie nie. ’n Week of wat tevore het ek nog geskryf - én ander joernaliste se stories herskryf. Ná baie jare as vryskutjoernalis was ek weer voltyds op kantoor as leefstylredakteur. En ek was só reg en lus vir die uitdaging. My twee seuns, Rudolph (toe 17) en Christiaan (toe 14), was oud genoeg, ek kon nou my alles gee as deel van ’n span. Ek wou opgewonde wees oor een tydskrif. By SARIE het ek tuis gevoel. Ek kon ’n bydrae lewer, regtig iets vir die tydskrif beteken. Ek wou sukses behaal. Die heel laaste ding wat ek my kon voorstel, was dat ek hier in so ’n diep depressie sou verval dat ek vas oortuig was dat ek nooit weer sou skryf nie. Dit het gekom soos ’n dief in die nag. Ek het nie die tekens gesien nie.

Nou, met die terugkyk, besef ek dat ek heeltemal te veel hooi op my vurk gehad het. Ek wou álles doen, ek het heeltyd hand opgesteek. Ek kon nie voor kom nie. Bedags was ek so besig (met enigiets van vergaderings tot die herskryf van kopie) dat ek eers saans en naweke my eie artikels kon skryf. En ek het glad nie uitgekom by die eintlike rede vir my aanstelling nie: Om die Myself-afdeling uit te brei. Ek het my gesin al hoe meer afgeskeep, selfs by die huis waar ek dikwels voor die rekenaar was. Die eerste drie, vier maande was harde werk, maar fantasties. Tog besef ek nou ek was reeds ná drie maande emosioneel en fisiek moeg. Dinge het vinnig begin skeefloop nadat ons teruggekeer het van Frankryk, waaroor ons ’n Leefstyl-bylae moes doen. Ek was moeg, onder druk, ek het al meer gesukkel om te skryf, ek kon nie slaap nie, want snags het ek my oor al my artikels gekwel. Dit was ’n bose kringloop. Ek het begin twyfel oor die eenvoudigste kopie en onderskrifte vir die bylae. Ek was skielik my ergste kritikus, ’n pateet. Ek kon niks klaarkry nie, ek het asof in ’n waas gesien hoe my kollegas namens my begin besluite neem, ek het gevoel asof ek rondsweef, alles het sagter en verder geklink, so asof in stadige beweging. Dit het vir my gevoel ek glip uit die lewe uit en sien dit vanaf ’n kantlyn voor my verbygaan. My kollegas het probeer help deur vir my uit te werk watter stories voorkeur moet kry - hulle het nie besef dit gaan nooit kom nie. Ek kon niks lewer nie. André (le Roux) het een oggend by my lessenaar kom staan en gesê: ‘Neem dit net baksteen vir baksteen.’ Maar ek het net na hom gestaar, totaal emosieloos. Dood.

Niks kon my voorberei op wat vir my sou voorlê nie


Ek weet nie wat sou gebeur het as Alida Vos, die adjunk-redakteur, my nie na ’n dokter geneem het nie. Hy het aanbeveel dat ek dadelik vir ’n maand siekverlof neem weens uitbranding. Daardie laaste dag by SARIE het ek steeds nie besef dis ’n dieponderliggende depressie nie. Ek het na ons huis in Bakoven gery. In Tamboerskloof het ek stilgehou, want ek kon nie verder nie, ek sou waarskynlik ’n ongeluk gemaak het. Ek was tot die dood toe moeg. Ek het Dolf gebel, en hy het my daar kom haal en huis toe geneem.

Niks kon my voorberei op wat vir my sou voorlê nie. Ek het in die diepste gat geval, die volgende dag al. Want ek het mos nou die groen lig gehad: Ek was moeg, ek moes rus. Ek het niks gehad om te doen nie, ek kon net dink. Ek het geglo ek is ’n mislukking. Ek het met myself geredeneer: ‘Jy het jou tydskrif en kollegas in die steek gelaat, jy is Frankryk toe en daar het jy lekker op die werk se onkoste gereis. Hulle gaan jou ontmasker as iemand wat nie haar werk behoorlik gedoen het nie . . .’ Ek het dag ná dag in die bed gelê. Ek het gewens ek kon huil, maar ek kon nie. En dis die verskriklikste gevoel. Ek was nie jammer vir myself nie. Ek was jammer vir Dolf en ons twee seuns. En vir SARIE. Ek het vas geglo vir die eerste keer in die geskiedenis gaan SARIE nie verskyn nie, want ek het hulle in die steek gelaat.

Ek is gediagnoseer met ’n major depressiewe versteuring. Die psigiater het dadelik antidepressante voorgeskryf om die chemiese wanbalans in my brein te help herstel. Vandag besef ek as dit nie vir die psigiater was wat vir my die regte medikasie voorgeskryf het nie, sou ek nie hierdeur kon kom nie. Dit was my basis, en dis nou nog my veiligheidsnet. Maar ek sou eers ’n lang pad moes stap voor dit ’n verskil sou maak, want ek was baie ver heen. Daardie eerste Sondag, toe ek al so drie dae by die huis was, het ek my selfmoord haarfyn beplan. Dit was die beste ding wat ek kón doen, het ek geglo - ek moes my man en kinders help ontslae raak van hierdie las. Ek was ’n totaal ander mens, ek het nie eers vir myself kans gesien nie. Daar was nie ’n spíkkeltjie lig nie. Daardie aand het ek al my voorgeskrewe antidepressante, slaap- en kalmeerpille - meer as tagtig van hulle - in jogurt gedruk en teelepel vir teelepel geëet. Ek was oortuig ek sou nooit weer wakker word nie. Maar die volgende dag het Dolf my ná ’n lang gesukkel wakker geskud. Hy het my dadelik hospitaal toe geneem, waar ons huisdokter en my psigiater ons ingewag het. Gelukkig was die kombinasie van die pille nie dodelik nie, maar dit het ek nie besef nie.

Ek was ’n week in die hospitaal - onder meer om te verseker dat ek nie weer probeer selfmoord pleeg nie. My pa was ’n depressielyer en het sy eie lewe geneem toe ek dertien was. My ma, wat soos ek die lewe omhels het, het ook soms in ’n donker kamer gelê, maar sy’t altyd weer opgestaan. Ek besef nou daardie genetiese geneigdheid, tesame met die stres van die werk - en uiteindelike uitbranding - het gelei tot my depressiewe episode. (As vryskutskrywer kon ek my stres beheer, want ek kon my werklading beheer, maar nou het dit hand uitgeruk.) Nog ’n rede was dat ek reeds van kleins af geneig is om my ander se ongelukkigheid vreeslik aan te trek. Ek was baie sensitief ingestel daarop, en ek het gesien van my kollegas kry swaar.

Die depressie was reeds daar, ek het dit net nie gesien nie. Nou het dit my heeltemal verswelg. In my donker slaapkamer het ek letterlik monsters en drake in die gordyne gesien. Ek het baie gedink, maar eintlik probeer dink aan niks. Ek het naderhand beplan om my hele gesin uit te wis. Dit sou tog beter vir hulle wees, het ek geglo. Soms het ek met myself probeer redeneer: ‘Kom reg.’ My gesin het probeer. Rudolph en Christaan sou na my toe kom en sê: ‘Mamma, staan net op.’ Maar ek kon nie. Net om my tande te borsel of ’n slukkie tee te neem, was ’n ongelooflike inspanning. My selfbeeld was op die grond. Ek het verskriklik skuldig gevoel: Ek was nie ’n goeie ma nie, nie ’n goeie vrou vir my man nie, nie ’n goeie organiseerder in die huis nie, het ek geglo. Sulke gedagtes het my voorheen nooit geteister nie. Dolf, wat my wonderlik ondersteun het, het baie met my gepraat om te probeer verstaan hoe ek voel. Ek het probeer verduidelik: ‘Dit voel asof die wêreld in ’n deurskynende ballon is, met my daar buite. Ek wil so bitter graag weer deel wees van die wêreld, maar die deur na die wêreld daarbinne bly vir my toe, al probeer ek hoe hard om in te kom.’ Ek het eenkeer gehoor hoe Dolf vir ons kinders sê: ‘Mamma sal regkom, ons wag net vir die antidepressante om te begin werk.’ Alle hoop was daarop. Maar ek het so half skalks by myself gelag en gedink: ‘Ek het nuus vir julle, ek gaan nóóit hieruit kom nie.’

Ná so twee maande het ek iets effens in my voel lig

En toe, ná so twee maande, het ek iets effens in my voel lig. Ek was nog lank nie reg nie, maar twee dinge het ’n sprankie hoop gebring. Ek kon vir die eerste keer sonder Dolf by die huis slaap. (Hy het baie werk by die huis probeer doen en enige werkverpligtinge in ander provinsies uitgestel, maar hierdie keer moes hy vir drie dae Johannesburg toe. Ek het besef ek sal op my eie voete moet staan, al was ek vreesbevange hy kom iets oor.) Ek het myself gedwing om ’n entjie te gaan stap terwyl hy weg was. Voor dit sou ek nie eers posbus toe stap nie, ek was bang iets val my aan. Ek, wat saans oorsee vroualleen sou rondloop . . . toe doen ek dit. Ek gaan koop brood en melk by die winkel naby ons. (Baie stadig en versigtig, dit het my amper ’n uur geneem!) Maar daardie gerusstellende, bevrydende gevoel van die son op jou vel . . . Ek het teruggekom en vir my huishulp gesê: ‘Gloria, die stappie was fantasties. Môre wil ek dit wéér doen.’

Daardie dag het ek besef daar is omdraaikans. Daar het nog baie swaar voorgelê. Ek was steeds paranoïes, my selfbeeld op die grond, maar ek wou veg, ek wou lewe, ek wou weer die ou Jeanne wees. Hoe ek dit gaan regkry, het ek toe nog nie geweet nie. Ek het hardop met myself gepraat: ‘God gee jou innerlike krag. Die pille help jou. Maar nou moet jy jouself ook help. Jy moet begin eet. Jy moet jou kop begin regkry. Jy moet buite kom.’ Pynlik stadig en geleidelik het ek uit die gat gekom. Dit was ’n verskriklike diep een. Party dae het ek letterlik net uitgekruip en so vinnig uitgeloer, gesien daar is lig, en dadelik teruggeglip na onder, want die donkerte raak ’n veilige plek. Ander dae het ek my heeltemal uitgelig en ’n bietjie buite gaan kyk hoe dit lyk, maar die aand sou ek weer teruggaan. Dit was ’n reuse inspanning, maar ek het al veiliger begin voel. Die son het ál meer begin skyn.


'n Nuwe wêreld van idees om boeke te skryf het voor my oopgegaan

In Desember, ná amper vier maande, toe ek weer nie kon slaap nie, het die gedagte vir ’n boek by my opgekom. Toe die konsep in my kop kom sit, het ek my passie vir iets herontdek. Die uitgewer Lux Verbi het belang gestel, en van Januarie tot Maart moes ek werk aan die eerste stuk en dit voorlê. Skielik het ek weer iets gehad om voor te werk - ek kon weer skryf. Toe’t ek geweet ek ís aan die gesond word. Hulle het die jawoord vir die res van die boek gegee. Ek is trots dat ek sowaar die sperdatum vir my manuskrip gehaal het. Ek verweef my eie verhaal met die vertellings van nog sestien depressie-vegters. Van hulle is bekend, ander minder bekend. Vier kenners praat ook sonder doekies omdraai - my psigiater, my huisdokter, ’n kliniese sielkundige en ’n geestelike berader. My man en twee seuns skryf ook, en nog ’n depressie-vegter se ma en twee van haar kinders vertel hoe haar depressie hulle geraak het - die bitter moeilike pad, maar ook hoe die band tussen almal in die proses sterker geword het.

Met hierdie depressiewe episode het ’n nuwe wêreld van idees om boeke te skryf voor my oopgegaan. ’n Wonderwêreld wat ek nie kan wag om verder te ontdek en te ontgin nie. Uitdagings sal altyd deel van my lewe wees, dis wie ek is. Maar ek weet ek moet dit beheer, want ek wil nóóit weer in daardie maalkolk beland nie. Ek besef nou hoe vinnig dit kan gebeur, en dat ek versigtig moet wees om nie weer in so ’n situasie te beland nie.

Ek drink steeds antidepressante, maar nou net een pleks van drie per dag. Ek weet ek moet myself pace, en ek doen dit. In Ligdans skryf Christiaan sy ma is weer haar ou self. Hy het einde Januarie saam met haar Pico de Orizaba aangedurf, die 5 750 m hoë, sneeubedekte vulkaan in Mexiko. Sy het ’n kruietuin begin en vertroetel dit met oorgawe. Sy het ook sulke eienaardige tuinmeubels gekoop, skryf hy, wat baie lekker sit. Maar dis nou eenmaal sy ma - “op ’n manier weird, en tog wonderful”.

Dis goed om weer die ou Jeanne terug te hê."

*Ligdans - depressie-vegters se verhale van hoop verskyn in Junie 2008 by Lux Verbi. (Die Engelse weergawe, Towards the Light - Hope in the Face of Depression, word terselfdertyd uitgereik.)

Jeanne se wenke

  • Mense het baie wanopvattings oor psigiaters - moenie dat dit jou afskrik nie. Soek een by wie jy gemaklik voel - dis baie belangrik.
  • Soek vroegtydig hulp. (Ek het te lank gewag.)
  • As jy geneig is tot depressie, sorg dat jy leer wat jou snellers is. Stres is dikwels ’n groot een. Vir iemand anders kan dit dalk wees om te min te doen.
  • Monitor jouself. Luister na jou liggaam. Eet gesond. Werk aan jou leefstyl. Doen oefening - die goedvoelhormone speel ’n belangrike rol.
  • Ken jouself en wees jouself. Jy kan jou grense verskuif. As jy eerlik is oor wie jy is en wat jou grense is, kan jy maklik nee sê en so minder eise aan jouself stel.