Eers net met die duim so deurgeflip, net om 'n oorkoepelende blik te kry, toe van agter af vorentoe, net om die einde te fop, maar helaas die 212 bladsye kan ook nie ad infinitum hou nie. My broer en skoonsus het pas teruggekeer Suid-Afrika toe na 'n besoek hier by my in Surrey, Engeland. Deel van hul offers van welgawe was lugdigverpakte biltong, droëwors, droë geelperskes, Vyf Rose-tee, fudge vanaf Irene-plaaswinkel en natuurlik hierdie uitgawe van SARIE.

Saterdagnag het ons tyd hier met 'n uur teruggeskuif en dit was die nuanses van die Afrikaanse taal wat die oomblik vir my beskryf het - eensklaps, vlietende, oombliklik - en nou is ons twee ure agter SA tyd. Dit krap natuurlik 'n mens se ingeboude tydmeganisme, jou bioritme en soos die ou mense sou sê, komposisie erg om. Nou weet jy die grou en grys bekruip jou en gaan jou omvou, want lig of donker word die enigste onderskeidingsfaktor en jy verlang intens na die sonsopkoms in die Ooste en die sonsondergang in die Weste - daardie kompas waarmee ons as Afrika-kinders grootgeword het.

Ek verlang skielik na die motorritte deur die Vrystaat en Karoo op pad Kaap toe, met die vensters oop, Amanda Strydom se musiek en die dagbreek op die horison en jy weet jy is deel van die eindelose uitspansel. Ek mis dit intens, want hier in Engeland is dit die vliegtuig wat deur die wolke breek wat my kompas word - ja, nou is ek suid-oos, want Heathrow lê daar. . . Jy soek bakens, want jy voel dikwels so rigtingloos - my arme broer wat 'n ervare Voortrekkerseun op sy dag was, was ook heeltemal rigting-bedonderd hier, die TomTom ten spyt!

Dit klink soos 'n geykte cliché (is daar nog iets soos Anglisismes wat die taalpuriteine beveg?), maar my familie se vertrek het 'n heimwee agtergelaat, 'n nostalgie na dit wat ek agtergelaat het in SA en in hierdie tydjie was SARIE werklik 'n vriendin!

Groete.

Thea Jacobs-Uys