Ek sukkel om die boek “Change of heart” deur Jodi Picoult neer te sit. Dis erg grafies en om te lees wat agter tralies in ’n sel gebeur roer my. Jy word gestroop van jou menswees. Geen privaatheid of fisieke kontak met ander mense nie. Elke dag verloor jy ’n stukkie van jouself.

’n Ruk gelede reël een van my senior kollegas besoek aan die vrouegevangenis in Oos-Londen as deel van ’n uitreikprogram en ek word gevra om saam te gaan.  My maag trek op ’n knop. Ek is bang dat ek nie wat daarbinne gebeur kan hanteer nie, maar ek luister na my sesde sintuig en gaan saam.

Ná ’n wonderlike ontvangs betree ons die werklikheid. Ons moet in registers teken. Deure word met groot sleutels vir ons oopgesluit en agter ons weer toegesluit. Ons stap by gange op waar 260 vrouens, vyf met babas, vir ons wag.  Dis doodstil in die blinkgevryfde gange.  Ek het vir myself oor en oor gesê om nie na die vroue te staar nie. Ek glo dis vernederend genoeg vir hulle om te wees waar hulle is.  

Groot was my verbasing toe ons die klomp vroue sien. Almal geklee in vlootblou en wit. Party dra rompe, ander langbroeke of sweetpakbroeke. En hulle lyk nog steeds soos dames!  
Uit die aard van my werk en die media herken ek ’n hele paar van die gesigte wat met verwondering sit en luister na my kollega se praatjie.  Die mure van die eetsaal is heldergeel geverf. Die blomme op die tafels met wit tafeldoeke laat die saal huislik voel. Motiveringsboodskappies is teen die muur geskryf.

Ons gee van die dames kans om vrae te vra of sommer net te praat . My hart breek toe ’n gewoontemisdadiger – naels goed versorg en ’n vrolike gehekelde mussie met ’n blom op haar kop - vir ons vertel dat sy in die 11 jaar “binne” alles verloor het. Haar ouers, haar broer, haar borste. En alhoewel sy nie “binne” wíl wees nie, is daar nêrens “buite” vir haar plek nie. Sy maak maar die beste van elke dag.  Terwyl sy praat stroom trane oor haar wange. Ek kan sien sy het vrede gemaak met die feit dat sy “binne” sal moet bly. Ek hoor haar later die oggend met ’n groepie dames gesels. Sy lag uit haar maag en dit klink so opreg.

Ons word deur die sentrum geneem. Alles is van hoek tot kant silwerskoon en die dames wys met trots vir ons wat hulle werkies is. Party werk in die waskamer, ander pas die kleuters in die crèche op. Daar is oorgenoeg helder, interessante speelgoed vir die kleine mensies! Die spesiale afdeling vir mammas met babas is versier met mentgroen linne en gordyne – dié plekkie is die mammas se trots. Die enigste ding wat nie “normaal” is nie, is die harde staaldeure wat hulle snags toesluit.

Ná ons toer deur die sentrum word ons genooi vir tee in die hoof se kantoor. Tee word in spierwit koppies en pierings bedien deur twee dames wat hulle vonnise uitdien. Hulle is vriendelik, goedversorg en praat saggies, nie voorbarig nie : Ware dames!

Hierdie besoek was vir my as vrou ’n belewenis. Toe ons weer by die groot ysterhekke uitry en ek terugkyk, is dit vir my moeilik om te glo dat agter daardie grys mure 260 dames toegesluit is. Iemand se mamma, ouma of vrou wat ’n fout gemaak het. Dalk as gevolg van wraak, desperaatheid of geldgierigheid, maar wat hul vonnis uitdien sonder om hulself te verloor. Hul oë bly sag, hulle gee om vir mekaar : Hulle bly VROU.

Desire Nel, Oos-Londen