Liewe Louis
Jou donkerbruin oë wat soos liggies aanskakel wanneer dit myne ontmoet, inspireer my steeds om my arms om jou nek te gooi en jou ’n stywe drukkie te gee. Jou glimlag sluit gewoonlik vir my en almal om ons in, gepaard met jou fyn sin vir humor. Die heel eerste aand, nadat ek jou ontmoet het, het ek geweet jy is die regte persoon vir my. Jy was die derde persoon wat gekies was om saam met my as strooijonker op te tree. Ons het eers twee dae voor die troue tydens die oefensessie by die kerk ontmoet. Ons het aanvanklik stemmig agter die voornemende bruidspaar aangestap en slegs nou en dan na mekaar geloer. Later het ons uitbundig gelag vir die foute wat ons gemaak het en daarna die foute reggestel. Die troue van my broer en jou niggie was ’n hoogtepunt vir die hele familie. Die aand het ons dadelik op die ritme van die musiek saamgedans. Jou lang lenige lyf is heelwat langer as myne, maar jy het my rug stewig vasgehou en my bene het perfek ingevleg tussen joune. Ons het saam gewals en ander moderne danse gedans. Daarna het ons verhouding begin. Jy, die eerlike en lojale man wat altyd daar is vir my.Die manier waarop jy ’n krisis hanteer. Stil, sonder ’n ophaal van veel woorde. Soveel so dat ek soms wonder of jy wel die probleem oordink. Dan kom jy met die wonderlikste en beste oplossing vir die probleem.  Onthou jy die aand toe ons gaan die fliek “Georgie Girl” gaan kyk het? Dit was die eerste aand dat ons verhouding verdiep het en dat ons met mening begin handjies vashou het. Daarna het ons uitgelate gedans op die temaliedjie van “Georgie Girl” wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Ons het later ons danspassies verbeter en uitstekend gedans op die maat van die musiek.By ’n troue wat ons bygewoon het in die vreemde, het ons komplimente ontvang van die buitelandse gaste oor ons gedraai en geswaai op die ritme van die musiek. Jou vermoë om my toe te vou in jou arms, die danspassies te begin en die leiding te neem op die dansbaan, het nog altyd vir ons sukses gesorg. Deur die jare het ons geleer om mekaar se tekorte aan te vul. Ná die dag se verpligtinge neem ek die leiding met die voorbereiding van maaltye. Jy is egter altyd in die agtergrond om ’n handjie by te sit met die skil van groente, opruiming van die kombuis, leegmaak van dromme en die jag van vlieë en miere. Die eerste keer toe ons met ’n woonwa gaan kampeer het, het die gepakte kussings wat as matras gedien het, op die houtdeksel meegegee omdat dit verkeerd gepak was. Ons het saam met die bed geval en gelukkig nie beserings opgedoen nie. Ons het ons lam geskrik aangesien ons werklik geslaap het. Daarna histeries gegiggel. Veral omdat ons vriende langsaan nie wou glo dat ons in droomland was nie! Verskeie kere moes ons al vir ’n paar weke en selfs maande weg van mekaar funksioneer.Die verskillende redes varieer van weermagverpligtinge vir jou, later verdere studies en vir my ’n kort tydperk van werk in die buiteland. Ek het besef dat ek nie sonder jou die aanslae van die lewe kan trotseer nie, dat ons lewe en werk saam in hierdie suidelike deel van Afrika moet voortgaan. Dit is hier waar ons gebore en getoë is, en waar ons steeds ’n belangrike bydra lewer tot die vooruitgang van die samelewing. Wanneer daar later ’n skeiding van ’n permanente aard tussen ons kom, glo ek dit sal bewerkstellig word deur ’n Hoër Hand. Dit sal ’n baie moeilike fase wees vir die een wat agterbly, maar ons sal dit wel te bowe kom. Intussen koester ons elke kosbare oomblik wat ons saam deurbring. Ek sê vir jou in alle opregtheid dat my hart aan jou behoort het in die verlede, die hede en in die toekoms. Vir altyd. Ek salueer jou my lief, my wederhelf.