"Dit gee my die grootste kick as ek die prentjie in my kop op die TV-skerm, verhoog of in 'n tydskrif sien ontvou."

Sy floreer op nuwe projekte, om grense te verskuif. By die KKNK het sy vier groot produksies gehad - onder meer as regisseur van SARIE se Afri-Frans. Nou beplan sy nog 'n TV-reeks (sy was regisseur/vervaardiger van Fairlady se Style Intern op M-Net Series) en 'n toer met die verhoogproduksie Bloemers en Roemers, werk saam met Karen Zoid aan 'n nuwe CD en 'n fliek vir Franz Marx, en maak reg vir nog 'n uitgawe van die kunstydskrif Bravo!

DIE GEHEIM

“Ek stel my dit ten doel om positief te bly. ‘Ek kan nie’ is nie in my woordeskat nie.
’n Mens kan nie bekostig om deur die lewe te gaan sonder om ’n bietjie idealisties te wees nie. Daar is duisende redes om ongelukkig te wees; jy moet positiewe dinge soek en daarop fokus. Stres tap jou energie en kreatiwiteit. Wanneer ek onder baie druk is, beplan ek vooraf ’n oorsese reis om na uit te sien as dinge moeilik raak. Ek is mal oor my werk en dit maak positief-wees makliker. En ek leer ken ongelooflike mense – van bekendes tot onbekendes wat iewers ’n verskil maak.”

OM TE HERLAAI

“Natuurlik beleef ek soms insinkings. Ek gaan sit, verwerk dit, staan op, gaan aan. Ek maak elke dag ruimte vir stiltetyd. Al is dit net vyf minute wat ek my oë toemaak. ’n Mens moet stilraak om te connect met wat vir jou belangrik is. Tyd om na te dink oor waarmee jy besig is, om te fokus.”

OM NEE TE SÊ

“My werk is hoofsaaklik gegrond op goeie verhoudings met kliënte en om nee te sê is moeilik. Ek stel hoë standaarde aan myself. As ek my woord gee, sal ek tot aan die einde van die wêreld loop om dit na te kom. ’n Mens doen iets goed, of glad nie. Ek sal net nee sê as dit onmoontlik is om my bes te doen.

“Soms gebeur verskeie projekte op een slag. Vroeër vanjaar het ek twee maande lank nie tyd gehad vir asemhaal nie. Dán moet jy jou kop laat sak, elke dag hanteer soos dit kom en mik vir die wenstreep. “Die moeilikste deel van my werk is om groot begrotings te bestuur, ’n groot klomp mense (selfs tot 40 op ’n slag) te lei en die vereistes van borge na te kom – alles tegelyk. Soms is jy vir miljoene rande verantwoordelik en die borge se verwagtinge is veeleisend.

“Ek sit al my energie in ’n projek. My vriende en familie weet as ek besig is met ’n groot een beweeg ek onder die radar. Daar gaan dan nie twee minute verby dat my foon nié lui nie. Dan kan ek moeilik aandag gee aan iets anders. Maar hulle weet ook hulle is my hart se punt en die belangrikste faktor in my lewe.”

GESONDE LIGGAAM

“Ek sorg dat ek genoeg slaap, handhaaf ’n gesonde pas en maak seker dat ek goed rus?tussen projekte. Ek wens ek was Oprah, wat ’n sjef het wat smaaklike lae-GI-etetjies vir haar maak, met ’n persoonlike afrigter wat soggens langs haar bed wag. Maar dis Oprah . . . In produksietye hol ek baie rond, probeer so gesond moontlik eet en drink ’n paar vitamienpille.”

WAT EK NOU WEET

* Enigiets is moontlik – as jy hart en siel daarin glo en passievol is daaroor.

* Menseverhoudinge is belangrik – ommense geïnspireer, gemotiveer en gefokus te hou.

* Lag! Moet jouself nooit te ernstig opneem nie. Jy moet altyd die groter prentjie kan sien.

* Kry ’n visie en doelwitte. As jy berge wil versit, begin deur steen vir steen te verskuif.

* Werk met ’n dagboek. Dis ongelooflik wat jy kan verrig as jy die ure in die dag op papier sien. Maak lysies, sodat?jy die klein jakkalsies kan uitken.

* Met TV- of verhoogproduksies gebeur dinge nie altyd 100% soos op papier nie, daar’s soveel veranderlikes. Sorg vir ’n plan B, C en selfs D. En deel jou visie met die span – almal moet weet wat van hulle verwag word.