Ek was die naasoudste dogter van 9 kinders. My ouers was geskei en my ma moes ons alleen grootmaak. Daar was nooit genoeg kos nie, maar daar was baie liefde. Ek moes op 16 die skool verlaat en gaan werk om die jonger kinders te help grootmaak.

Op 19 het ek die man van my drome ontmoet (of altans so het dié naïewe jong meisie geglo). Nadat die man na sy geboortedorp iewers in Duitsland teruggekeer het, het ek uitgevind ek is swanger. Ek was verpletter en het selfs selfmoord oorweeg.

Vandag is ek dankbaar ek het nie met selfmoord geslaag nie, want ek besef nou die Here het ander planne met my gehad.

Ek het my kindjie laat aanneem. Ek weet vandag ek was maar net ’n instrument in God se hand. My seun is met soveel liefde in sy gesin ontvang en danksy my was daardie gesin voltallig.

Hoewel ek op aanneming besluit het, was daar baie hartseer en verlange. Deur die jare het ek altyd rondgekyk en gewonder of dit dalk my seun is wat langs my in ’n supermark staan.

Verlede jaar het ek navraag oor hom begin doen, en die antwoord het verlede week gekom.

Hy is suksesvol, getroud met geen kinders. Hy’t in ’n Christelike huis grootgeword. Ek is egter versoek om nie kontak te maak nie, want sy aanneemouers het hom nooit vertel hy is nie hul eie kind nie. En dit sal ek respekteer.

Ek was 22 toe ek weer ’n man vertrou het. God het ’n wonderlike lewensmaat op my pad gesit. Ons is nou 38 jaar getroud en het tweelingseuns. Ek moes my een kindjie afteken en toe skenk God aan ons ’n tweeling. My hartseer is in vrede en geluk omskep.

Ek het vanoggend wakker geword met ’n dankbaarheid en vrede in my siel. Ek het opnuut besef hoe geweldig groot en getrou God is. Hy heel alle wonde met tyd.

Anoniem, Beaconvale