My liefste Lief Nooit het ek gedink sal ek weer liefde in my lewe hê soos dié wat ek nou met jou ervaar nie.

-     Ná my skeisaak in my 20’s – toe ek nog “jonk en jukkerig” was, kinderlik en onervare volgens die “reëls” van die lewe, met drie babas op my heup – het ek verlate en verward gevoel.

-     Ná my “groot liefdesverlies” in my 30’s – met die heengaan van my “engel” weens kanker – was ek nog nie gereed vir die klappe van die lewe nie.

-     Ná al my “frivalous” verhoudings – al die gifappels intussen, die dood van my ma weens kanker – is ek nou my 40’s. En lyk my als kom bymekaar. Ek het nooit kon dink dat ek die wonderlikste man op aarde sou vind nie. Liefde en dankbaarheid vloei deur my are. Elke oggend se wakker word is ’n nuwe geluk, iets om te koester en vas te hou. Ek borrel van geluk omdat jý in my lewe is. Jou wonderlike ouers het my en my nou tienerkinders onmiddellik aanvaar. Ek verwonder myself aan jou pragtige en respekvolle verhouding met my kinders, jou omgee vir ander en jou eienaardige sensitiewe gevoel vir diere. Tussen die erdwurmboerdery, die tuinmaak, die regmaak van dit en dat, die eienaardige diertjies wat ons aanhou, jou liefde vir my katte (merkwaardig, want hulle sê mos as jou katte die man in jou lewe aanvaar, dan weet jy dis reg!) is ons lewe saam so goed en positief. Jy is ’n opregte mens wat vir almal liefde en respek het, maar veral vir jou Skepper. Ek glo ons is ’n voorbeeld vir baie mense in ons klein dorpie. Mense sien ons liefde vir mekaar raak. Hulle sien hoe ons mekaar hanteer en hoe belangrik dit is om ons privaatheid en gesinstyd te respekteer. Jou werk neem jou na ver plekke, maar ek tel die dae af op my almanak. Ek kan nie wag vir jou terugkeer nie. Ons kommunikeer elke dag, net om mekaar se stem te hoor. Maar jy het ’n standvastige en verantwoordelike werk wat jou motiveer om groter hoogtes te bereik. In my werk sien ek elke dag droefheid en harsteer, trauma, ongeluk en emosionele pyn en lyding. Maar die gedagte aan jou en die realiteit van jóú en mý hou my sterk. Ek glo ons het volmaakte liefde. Ons het ’n lang pad gestap om onsself te vind. Ons is nou ouer en wyser, my Lief.
Jou dryfkrag, jou passie en die feit dat jy vooruitstrewend is, trek my aan, motiveer my en gee my krag vir elke dag. Ek weet in my hart, my Lief, dat jy na my toe gestuur is.Ons albei glo in God, en hierdeur het ons geluk gevind met alles wat ’n liefdespaar kan vra. Die woord “dankie” is weer op my lippe. Jy’s elke oomblik in my gedagtes. My lewe is bleek sonder jou – so ’n vaal streep, ’n “bottomless pit”.Jy is my anker in die lewe. Jy hanteer my woede-uitbarstings, my nukke, my PMS so goed. Dankie vir die ondersteuning en liefde wat ek soek.Jou liefde straal soos die stukkies skulpies op die strand wat ons onlangs met die somervakansie gehad het. Dit was my eerste vakansie in jare ... ’n perfekte tyd met jou en die kinders, en ’n wonderlike Kersfees met ons familie. Jy laat my hart soos sjokolade smelt, jy’s my ridder op die wit perd en my groot kompas wat my rigting gee. Jy’s my son wat in die Ooste opkom en in die Weste gaan slaap. Vir nou en vir altyd vaar ons op die see van onverwagte storms, maar weet altyd dat die kalmte net om die draai is. Joune vir altyd