My Liefste, Toe ek voor die preekstoel by jou kom staan en opkyk, het ek in jou pragtige oë verdrink. Niks anders as jou liefde het saak gemaak nie. Toe my vriendin ons toesing “neem my hand en lei my”, het ons nie net mekaar se hande vasgehou nie, maar ook dié van God wat ons moes lei tot aan ons lewenseinde . . . tot in ewigheid. Ons het albei teësinnig ingestem om op ’n toe-oë-afspraak na ’n dans te gaan. Jy het ewe ‘voorbarig’ vir my gesê: “Jy lyk goed in hierdie pienk rok, maar jy sal fantasties lyk in swart.” Maar toe jy in die dameskroeg pienk sjampanje koop en vir my “Ciao, ciao Bambino” in Italiaans sing, het my hart getuimel en getol. Toe jy later op jou kitaar in jou ouers se tuin “Quantanamera” gespeel het, het ek eensklaps besef ek het hierdie man lief. Die vonk wat tussen ons opgewek is, het jou vir my totaal onweerstaanbaar gemaak. Jou musiekkennis was wyd – van Bach en Beethoven tot die wonderlike operettes en jou geliefde Suid-Amerikaanse en Italiaanse musiek. Wanneer ons gaan dans het, het jy altyd ’n tango aangevra, my styf vasgedruk en my in betowering weggevoer. Vir my eerste verjaardag, ná ons ’n paartjie geword het, was jou geskenk aan my ’n bottel pienk sjampanje, toegedraai in ’n fleurige nekdoek vasgestrik met rooi lint, waaraan bossies vars viooltjies gehang het. ’n Eenvoudige silwerring met ’n groen steen (die eerste van baie) was versteek onder die blare van ’n pienkrooi siklaam. Jy het sover moontlik altyd vir my viooltjies gebring – of potte viooltjies van Afrika. Trouens, ons hele huwelik was altyd vol blomme. Wat jy nie gekoop het nie, is in die tuin gepluk – soms net ’n enkele roos of magrietjie. Jy was so opgewonde oor ons kinders se geboortes en so toegewyd aan ons almal. – jy het hulle ontsettend geniet.Naweekoggende was dit altyd: “Koffie, tee, Horlicks, Milo?” en jy het aangedra (selfs toe my bejaarde ma by kom kuier het). Jy het ons met so baie dinge bederf – nie net geskenkies nie, maar ook deernis en onderskraging deur moeilike en vrolike tye. Jy sou ons na buite roep om saam met jou die skone naghemel vol sterre te bewonder, of om te kom kyk hoe die voëltjies in die voëlbad baljaar. Jy het ons bewus gemaak van jou liefde vir die kosbare klein dingetjies in die lewe, wat nie met geld gekoop word nie, en dit met ons gedeel. Ons verblyf in Duitsland en die vakansies in Italië en Majorka, waar ons sorgeloos rondgery het na klein onbekende plekkies en tuisgegaan het by plattelanders wat nie eens ’n woord Engels kon praat nie – alles te danke aan jou wat hul tale geken het – sal my altyd bybly. Al die seevakansies saam met die kinders, wat jy onselfsugtig met my ouers gedeel het, was hemels gelukkig. Jy was dié mees romantiese man wat ek ooit teëgekom het – en sekerlik een van die aantreklikste. Jou sjarme het almal betower. Nie net was jy mooi van aangesig nie – jou innerlike self, jou omgee vir ander, om jou medemens te ondersteun en te help, het almal getref. Ons trouteks was immers:“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus”, en dit was toe presies net so. Tot aan die einde van jou lewe het jy my bene lam gemaak. Daar het elke keer ’n rilling deur my gegaan wanneer jy ’n kamer binnegestap het. Op jou roudiens het die predikant gesê dat jy het alle mense eners behandel het, met korrektheid en hoflikheid – van die ambassadeur tot die chauffeur en straatveërs. Hy het ook gepraat van die koringkorrel wat eers op die grond moet val voordat dit saadskiet.En dit het beslis. Jou onbaatsugtige liefde, jou insig en wysheid – dit alles het jy vir ons nagelaat. Jy is gans te vroeg weg van hierdie aarde, maar die welriekende geur van al die mooi herinneringe het ons gedra deur lief en leed, is nog steeds by ons en is tydloos. Ons mis jou. Maar ons dank die Liewe Vader dat Hy so ’n man in ons lewens geplaas het. Om voort te leef in die harte van hulle wat ons agterlaat, is om nooit te sterf nie.