My kinders floreer, hulle presteer op skool, ons loopbane kry koers en ons is op die hoogtepunt van ons lewe! Ons is uiteindelik klaar met kleuterskool, haasbekkies, laerskool en aanpassings in die besige hoër skool.

Ons droom universiteitsdrome vir ons seun, sien dat die geldsake kan klop. Sussa is gelukkig, speel provinsiaal netbal en geniet elke jongmens-verliefde-aksiebelaaide dag!

Toe kom die nuus! Ek is weer swanger. Dit tref my soos ’n oseaan-tsoenami en ruk my voete onder my uit! My man staan stom en klink of hy Indië toe wil emigreer! Ons ry spesiaal koshuis toe om vir die twee grotes te gaan vertel. Stil-stil klim hulle in die kar – wag vir iets, want ons het so half onverwags kom kuier.

Hul reaksie was ongelooflik! Giggelrig aan die een kant en ouboet half bekommerd oor Mamma aan die ander kant. Bekommerd soos in “sal Ma oukei wees daarmee?” My grootste kommer was die reaksie van “ag nee, Ma met ’n boepens by die skool!” Maar 9 maande het omgevlieg en kleinboet is nou pas 2 jaar oud. Wanneer ons naweke wil braai en ontspan en wyn drink innie Kaap (dis immers waar ons woon, in die hart van die Wynland), dan wil kleinboet nóú sy pappa hê, buite hardloop, TV kyk, kos knibbel en bal skop.  En as ek luilekker met my moeë mamma-lyf op die bank voor die TV wegsink, kry ek ’n kleinhandjie-dwarsklap wat my opjaag vir aandag. Lekker laatlê op ’n Sondagoggend word luidkeels gekanselleer, want ons moet opspring en pap maak.

Ons pensioen-neseier word kleuterskoolgeld, ons vakansiegeld vir die jaar word bestee op doeke en dokters.

Dis die realiteit van ’n onverwagse baba ná 40! 

Maar ons het sy kwaai ogies so baie lief, én sy klein handjies wat leer om te vat en te konsentreer, sy klein voetjies wat diep, diep spore in ons gesin se harte kom trap het. Hy het ons bewus gemaak van die waarde van mekaar, want almal spring in en help. Die oumas is vreeslik lief vir hom, want hulle ervaar nou weer ’n kleinkind se gilletjies en lekkerkry. Hy oorheers die familie se aandag.

Eintlik is dit op die ou end ’n heerlike, doodmoeg, uitgeputte, vreugdevolle ervaring!

Cobie Viljoen, Somerset-Wes