Anika, ’n tropiese somervrug – eksoties, vreemd, met verfrissend anderse gedagtes. Haar nasmaak bly jou lank by, jou gedagtes bly maal om die andersheid van haar denke en die diepte van haar gevoelslewe. Annien, kraakvars hoenderslaai. Perfek voorgesit op ’n groot, wit bord, met ’n styfgestyselde linneservet teen die perfekte hoek langsaan. Stylvol, goedversorg, modebewus en die perfekte metgesel vir ’n ordentlike inkopietog. Helga, ’n soet, lietsjie-geur Brutal Fruit op ’n warm somersdag. Borrels dartelende lewensvreugde wat soet en koel deur jou are bruis. Lewenslustig, opgewek, optimisties en die regte medisyne om 'n vaal dag op te kikker. Janine, voedsame kapokaartappels. Altyd gereed met die regte antwoord op die regte tyd. Altyd beskikbaar vir raad of hulp. Heerlik warm en goedhartig, stabiel en standvastig. Lilene, suikersoet karamelfudge. Moet vinnig geroer en vinnig gesny word voor dit stol. Aktief, aan die gang en nooit vervelig nie. Die lewe sonder my interessante vriendinne is ondenkbaar! Ria Koen, Bellville