Ek het gisteraand 'n wonderwerk in die Moot Hospitaal in Pretoria ontmoet. Haar naam is Marietjie du Plessis. Sy het Saterdagoggend met haar valskerm 500 m van my huis af 'n pletterval gehad. Die Parys Dome-fees is nie net vir Parysenaars nie, maar vir baie stedelinge wat die jolyt langs die Vaalrivier kom geniet. Elke jaar reën dit. Ons kla nie. Ons boere in die omgewing het dit nodig. Maar laasweek het Henk Havenga, feesorganiseerder, God 'n spesiale guns gevra: Mooiweer vir Saterdag. En die weer was pragtig!

My huis is 'n klipgooi van die skoolterrein waar die fees gehou word. Ek het sit en skryf toe ek die helikopter oor my huis hoor vlieg. Min het ek geweet dis 'n noodvlug. Marietjie se eerste valskermsprong van die oggend was perfek. Sy en haar springmaat het dit so geniet dat hulle gevra het of hulle 'n tweede keer kon spring.

Henk het van die kunstenaars gaan verwelkom by die VIP-tent. Hy het voor die tent stilgehou met sy 4x4, maar dit op die ingewing van die oomblik gaan skuif omdat hy bang was dit is in die pad.

Oom Tony dos Santos, die dorp se TV-installeringsman, het net na Henk op dieselfde plek gestop met sy Unotjie. Henk en sangeres Tamara Dey het by die tent se deur uitgestap gekom toe sy met haar vinger wys: "Look, a parachute!"

Oomblikke later het hulle en omstanders geskok gesien hoe Marietjie van haar landingskoers af waai en haar teen die Uno te pletter val.

Henk vertel hy dadelik selfsugtig by God gekla dat so iets op ons mooi fees moes gebeur.

Oud hoësorg-paramedikus, Jacques Botes, het net meters van die Uno af gesit. Hy was dadelik by Marietjie.

Met sy ervaring was hy bekommerd oor haar nek wat dik opgeswel het. Hy het 'n nek fraktuur vermoed. Bloed het uit 'n diep sny oor haar pols gespuit en sy het diep snywonde aan haar kop en arms gehad. Polisieman Jaco Etsebeth het nog gebewe van skok nadat hy minute tevore die hele drama deur sy videokamera se lens sien afspeel het, maar hy het die gebied rondom Marietjie afgesper. Sy kollega, Henk Prinsloo, het Jacques bygestaan en langs Marietjie gesit en bemoedigend met haar probeer praat om haar by te hou.

Lank nadat die noodhelikopter die ernstig beseerde Marietjie weggeneem het, het 'n somber atmosfeer oor die fees gehang.

Henk en sy span was baie hartseer en rasend van bekommernis oor die pragtige vrou wat so baie seer gekry het. Van die helpers het werklik gedink sy gaan dit nie maak nie. Min mense oorleef so 'n pletterval.

Die nuus oor haar ongeluk is landwyd oor radiostasies uitgesaai en in koerante vertel. Selfs 'n joernalis uit Kanada het gebel. Henk het oor en oor probeer uitpluis wat verkeerd kon geloop het. Die springers se eerste sprong was dan so perfek. Hy beken, hy was bietjie vies vir God.

Dis eers na twee dae se tob en nadat hy gehoor het Marietjie is buite gevaar, wat hy besef het daar het eintlik 'n wonderwerk op Parys se Dome fees plaasgevind.

As hy nie sy motor, wat 4 ton weeg, geskuif het nie en Marietjie het daarteen gebots pleks van die ligte Uno, sou sy beslis nie die val oorleef het nie. En as die Uno nie daar gestaan het nie, kon Marietjie dalk deur die VIP se dik staal tentpenne, pale en toue geploeg het. Dit sou sy ook nie oorleef het nie.

Gisteraand was ek bevoorreg om 'n baie spesiale oomblik te deel.

Henk wou die mense wat Marietjie bygestaan het aan haar gaan voorstel.

So vat ek toe die pad Pretoria toe saam met hom, Henk Prinsloo, Jacques en Jaco. Van Parys tot in Pretoria kon ons net oor die wonderwerk praat. As geharde polisiemanne en paramedikusse (Henk Havenga was 'n medic in die grensoorlog) het hulle al baie gesien, maar Marietjie se val het hulle lewens persoonlik aangeraak.

Marietjie was nog baie bleek en haar arms en kop is vol steke. Haar regterarm het diep ernstige snye opgedoen en 'n plastiese chirurg moes die snye aan haar kop heg. Sy het haar regterkantste been net onder die heup gebreek en dit is met 'n pen geheg. Verbasend "min" beserings na so 'n val. En haar nek makeer niks nie!

Wat haar storie nog 'n groter wonderwerk maak, is dat sy as tiener byna dieselfde been in 'n motorfietsongeluk verloor het. Sy wys 'n lelike letsel waar haar hele kuit byna afgeskeur was. 'n Paar jaar gelede het sy 'n ernstige ski-ongeluk gehad en dieselfde been ernstig gebreek. (Sy spot sy hou daardie pen nog in haar motor as wapen teen moontlike kapers).

Hoekom spring sy dan valskerm?

"Dis my lewe!" Sy is 'n gesoute springer wat veral by skoue optree. Een van haar vriende, Brian Slade, is Junie in 'n fratsongeluk dood toe sy valskerm vasgehaak het aan die stert van die vliegtuig waaruit hy gespring het. Marietjie huil sommer opnuut in haar bed oor hom.

Sy vertel twee maande voor dit het sy saam met nog 'n vriend, Johan Grobler, by die Hoërskool Westfalia in Klerksdorp gespring. Johan se valskerm aan die rugby pale vashaak en hy ook 'n pletter val gehad. Hy het sy femur, linker boarm en pols gebreek en sy bekkenbeen gekraak.

Min het Marietjie geweet haar beurt kom ook ...

Met ons besoek het sy daarop aangedring om na die video te kyk wat Jaco geneem het. Sy was geskok, maar het aan ons verduidelik wat sy dink met haar sprong verkeerd geloop het.

Dit was 'n baie emosionele besoek vir haar en haar nuwe helde. Die trane het veral geloop toe Henk Prinsloo aan haar die pak inkleurprente van valskermspringers en briefies gee wat die kinders van Parys vir haar gestuur het.

Henk Havenga het haar ook op sy selfoon met oom Tony laat praat en sy het hom groot verskoning gevra dat sy sy Uno platgeval het. Maar oom Tony is meer bekommerd aan haar as sy flenter Uno.

Marietjie is 'n ongelooflik meisie wat vas van plan is om Desember steeds Oostenryk toe te vlieg vir haar "white Christmas". Sy sal beslis nie kan ski nie, maar al gaan sy met 'n rolstoel, gaan, gaan sy, belowe sy.

Sy vertel hoe 'n vierjarige dogtertjie haar een keer by 'n skou kom vra het of sy al vir Liewe Jesus gesien het as sy so bokant die wolke sweef met haar valskerm.

"Nee, ek het hom nog nie gesien nie, maar ek hoor hom praat," het sy die kind vertel. Ek dink Hy het Saterdag meer as net gepraat.

Geskok kyk sy na ’n video van haar pletter val.
Marietjie en die manne wat haar lewe help red het
Geskok kyk sy na ’n video van haar pletter val.

Marietjie en die manne wat haar lewe help red het kyk na dier kinders van Parys se briefies en prente. Van links is Henk Prinsloo, Jacques Botes en Jaco Etsebeth.


Marietjie du Plessis Marietjie du Plessis
’n Ernstig beseerde Marietjie is met ‘n noodvlug na
’n Ernstig beseerde Marietjie is met ‘n noodvlug na die hospitaal geneem. Geneem tydens Marietjie se vriend, Johan, se valskermval.