DIE BEGIN

“Direk ná Jaco se dood was ek te verpletter om te dink, wat nog te sê skryf. Ek het wel ’n roman en tesis voltooi. Maar oor die dood van my kind skryf ? Nee. Tog het ek begin besef dat skryf, ten spyte van die taalkundige, stilistiese en ander eise wat dit stel, vir my ’n kans gee om die tragedie te verwerk. Bygesê, ek is ’n gelowige en God het ons beslis vertroos. God is egter ook prakties, en Hy het geweet dit sou my help heel word as ek my smart verwoord. “Woorde het my inderdaad gehelp om ’n greep op die gebeure te kry. Taal het my pyn en verlange lettergreep vir lettergreep help vasvat sodat ek, en ook ander, moontlik sou begin begryp dat dood wel lewe kan word. “Ek glo die kreatiwiteit van skryf verwyder apatie uit die rouproses. Dit het ook die ontkenning weggevee. Ek kon nie oor my kind se dood skryf en nie gefokus wees nie. Ek moes nie net herinneringe nie, maar ook verbeelding inspan.”

MY PAD

“Maklik was dit nie. Ek het nog selde so baie gebid en gehuil soos tydens die skryf daarvan. Want verbeeldingbeteken immers jy klim in iemand anders se skoene. Ek moes my dus indink hoe Jos, my man, Herman, my ander seun, asook Sylvia, my dogter, voel. Dit het my hart opnuut gebreek. Uiteindelik kon ek tog uit myself klim en ons almal se verlies verwoord. Die terugvoer wat ek kry, bevestig dat dié boek ook terapie vir ander mense se rou smart is. Daaroor is ek innig dankbaar. “Skryf is dus terapie, ja. Maar die idee dat terapie noodwendig aangenaam is, is natuurlik nie waar nie. Die woordeboek beskryf dit as die behandeling van die een of ander kwaal. By implikasie moet jy dus ’n ongelukkigheid in jou ronddra. Daardie ontsteltenis en opgekropte emosie wil jy op ’n manier behandel. Dit is dán dat jy desperaat na die pen wil gryp.”

REËLS

“Om dit uit jou te skryf kan wel help, maar sekere reëls geld. Ek glo in die eerste plek nie dat jy net vir jouself skryf nie. Dis soos om ’n skildery in ’n kas weg te steek. Selfs al wil jy spesifiek uitdrukking aan jou smart gee, is die bedoeling tog om daardie ellende in woorde oor te dra. Daar is dus altyd ’n sender en ’n ontvanger. En as jy geweldig deur rou smart ontwrig is, moet jy verkieslik fyn dink voordat jy ’n boodskap na die ontvanger, of dan die leser, stuur. “Die skryfkuns stel hoë eise – juis aan iemand wat gedronge voel om ’n rou, kolkende emosie oor te dra. Jy moet steeds, al beskou jy dit as terapie, jou beste professionele voet voorsit. Met ander woorde, jy kan nie die estetiese eis wat die skryfkuns stel, ignoreer net omdat jy treur nie. Jy moet steeds aandag skenk aan dinge soos die regte styl om jou smart

oor te dra, die korrekte woordkeuse, ensovoorts. Dán sal jy, sowel as die leser, baat daarby vind. “Alhoewel taal, en dus woorde, ons enigste medium is om werklik te kenne te gee hoe ons voel, moet jy nogtans nugter dink voordat jy woorde as terapie wil inspan. Want woorde is so eksak soos wiskunde. Jou somme moenie verkeerd wees nie.”

Wat ek geleer het

Smart kan jou afstomp. Die geordende neerskryf van jou gedagtes kan inderdaad jou gevoelens dokter. Kies stylvolle taal om jou gedagtes te verwoord, want al is jou smart uniek, sal dit universeel tot mense spreek indien dit esteties reg verwoord word. Skryfterapie op sigself kan sekerlik help om smart te verwerk, maar die enigste bron van ware troos bly God alleen.

Lees nóg inspirerende verhale hier: