Die tapisserie tref dadelik jou oog as jy die klein maar smaakvolle woonvertrek binnestap.

Die einste een het ook ’n ereplek op die voorblad van Lanie van Reenen se jongste boek, C’est la Vie ... oor lief en leed en kanse vat, wat vandeesmaand by Tafelberg verskyn. ’n Kleurryke vertelling, met gelukkige sowel as hartseer drade daarin verweef.

Lanie móés opsluit die tapisserie hê. “Dit was die mooiste ding wat ek nog gesien het. Ek moes eintlik nie, ek en Michael [haar oorlede man] was op ons armste. Maar ek het darem?my eie jêmgeld verdien ... en R5 000 daarvoor afgeknyp. In die vroeë 80’s was dit so goed soos R50 000 nou.”

Baie jare later kruis Lanie se pad met ’n verwaarloosde, pienk herehuis in die middel van Frankryk. As die fyn, Franse madame die voordeur van die Maison Rose op die dorpie Aubusson oopstoot, wéét sy weer eens: Ek wíl, ja! Omdraai kan sy nie.

Aubusson, wat uit die Middeleeue dateer, is bekend vir sy tapisserieë?en matte. En Maison Rose self het aan ’n tapisserie-magnaat behoort. ’n Toevallige detail, dalk.

Vir Lanie voel dit soos “my toekoms self wat voor my oopgaan”, skryf sy in haar boek. Synde die Hôtel Château Sallandrouze, ’n 4-ster-hotel wat sy saam met vennote verbou en inrig. Syself woon van 2007 tot 2010 in Frankryk, waar sy eers oor die restourasie toesig hou en daarna die gérante (bestuurder) is. Met die (nie so stil nie) vennote in Kaapstad.

Frankryk is ’n nuwe begin.?Haar huwelik met Michael het?in ’n egskeiding geëindig. Haar sielkundige-man met die “blou-blou oë” en “ligbruin stem” se depressie?en drankprobleem, wat oor die jare kom en gaan, eis uiteindelik sy tol.?’n Gewonde heler, noem sy hom. Kort voor haar vertrek Frankryk?toe, is hy in ’n motorfietsongeluk waarin hy ernstige breinskade opdoen. Hy sterf agt maande later, op 29 Februarie 2008.

“Hy’t my nie afgetrek nie, maar my eie donkerte na vore gebring,” sê sy.

In haar vroeë twintigs was Lanie ’n onwaarskynlike kandidaat as entrepreneur. “Daardie term wat almal saambondel wat waagstukke aangaan om idees en drome in besigheid te omskep,” skryf sy. Aan die einde van haar derde jaar in arbeidsterapie op Tukkies kry sy ’n emosionele ineenstorting en beland in ’n psigiatrie-kliniek. Depressie en angs bly daarna op haar spoor. Maar in haar laat twintigs, wanneer sy ’n tweede keer in ’n kliniek opgeneem word, gebeur iets wat meebring dat sy haarself summier laat ontslaan.

'n Verpleegster skink vir haar tee sonder om te vra hoe sy daarvan hou. Lanie neem ’n eed sy?sal nie weer op ’n plek?beland waar ander besluit?hoeveel melk en suiker?sy in haar tee drink nie.?En dan boonop in die?piering stort nie.Sy skop haar geel balletstyl skoene uit en trek haar bene onder haar in, vee haar blonde hare agter een oor.“Sedertdien het ek al?baie sad gevoel, maar?nooit weer daardie patologiese depressie gehad nie. Ek drink elke dag ’n antidepressant, ja. Dis wonderlik dat daar medikasie is wat jy gereeld kan neem sonder newe-effekte.”

Wanneer ’n nuwe terapeut vir haar sê sy moet haarself “aktualiseer”, maak sy haar eerste winkel in Pretoria oop. Dis ’n handwerkwinkel en uit

die staanspoor suksesvol. Die gesin trek Kaapstad toe en koop ’n verslete Victoriaanse kasarm wat sy opknap en mooimaak. Sy maak nog ’n winkel in Kaapstad oop. En ’n derde een, wat uiteindelik die eerste Biggie Best-konsessie word. Sy skryf ook twee dekorboeke vir Biggie Best. Dan verkoop sy haar aandeel in die maatskappy en omskep hul huis in ’n gastehuis. Dit word later die bekende Welgelegen-boetiekhotel. (Sy het dit intussen verkoop.)

Dis teen dié agtergrond dat die aandeelhouers hul hande diep in hul sak steek om die droom van die Hôtel Château Sallandrouze te verwesenlik. As Lanie van Reenen iets doen, gaan dit mos goed wees.

“Frankryk was ’n avontuur wat my gewone lewe skielik buitengewoon gemaak het. Ek het ’n château in Frankryk en gaan ’n hotel daarvan maak. Daai lift. Gegewe die swaar tyd met Michael, die hartseer ... Daardie kans om op 50 vry en onafhanklik te wees, ek het geweet iets goeds sal daaruit kom. Maar dat dit waaragtig ’n château in Frankryk is! “Die ekshibisionis in my het lekkergekry, die een wat op ’n partytjie kon sê: ‘Hi, weet julle vriendinne, ek het wragtig ’n château gekoop!’”

In Frankryk is daar oomblikke van loutere vreugde. Soos om met haar fiets te ry, vars artisjokke te koop en dit voor by haar hemp in te steek. En dan huis toe te ry,’n château!

Die projek is egter “ontnugterend moeilik en uiteindelik onmoontlik”. Die eerste naar besef kom (sy wys?na die krop van haar maag): “Oh, my word, dit gaan nie werk nie. En dis nie net my geld nie, dis ander mense s’n ook. Ek het nie ’n oomblik gedink ek gaan hul geld verloor nie. Dat ek ’n te groot hap afbyt nie. So naïef was ons.”

Want dis net soveel moeiliker om in Frankryk ’n hotel te begin en te bedryf as ’n hotelletjie in Kaapstad. ’n Maand nadat die hotel in Augustus 2009 oopmaak, stort die wêreld-ekonomie boonop in duie. Daar is probleme met die personeel en die berugte Franse burokratiese stelsel. Sy praat gebrekkig Frans, maar probeer dit verwoed leer.

Sy is steeds geesdriftig, gedrewe. Maar parallel daarmee ... “Dis byna asof iemand heeltyd vir jou kyk en sê: ‘Weet jy wat, dit gaan nie werk nie.’ Maar jy kan nie bekostig om so te dink nie, want dit ondergrawe jou energie.”

“Een oggend vlug ek uit die kantoor na my dakkamer toe, ná nog ’n ontstellende e-pos uit Kaapstad,” skryf sy. “Ek sluit my deur. Dit is koud in die vertrek omdat ek spaarsamig werk met die verhitting wanneer ek bedags meestal onder doenig is. ’n Kolletjie winterson val deur die dakvenster op die mat voor my voete. Dit lok my. Ek sak neer daarin, trek my knieë teen my bors op en wieg-troos myself terwyl ek huil. Ek raak so aan die slaap, in daardie kolletjie son. Ver weg hoor ek Muneera [die huishoudster] se skril stem, wat deesdae deur my siel sny: ‘Lanie! Lanie!’”

Die gelikwideerde bedryfsmaatskappy se inhoud word op ’n veiling verkoop. Die persoon wat die meubels koop, kom dit oplaai wanneer niemand by die château is nie. Hy stroop die gebou boonop van alles wat hy kan afskroef. Hy vat ook haar persoonlike eiendom, soos ’n okkerneuthout-tafel waarin ’n groot, blink, ronde koperskinkbord versink is. ’n Erfstuk waaraan sy baie sentimentele waarde heg. Die Franse burokrasie het haar vir oulaas ore aangesit.

My bloed stol tot lood en dit voel of my arms gaan afval. Ek gaan sit in die verste hoek van die benouende geel vertrek op die vloer. Baie lank sit ek net.?Ek weet dat as ek hier gaan opstaan en met my lewe aangaan, dit die dapperste ding sal wees wat ek tot nog toe moes doen.”

Flippit, sê sy nou en?vee ’n lastige traan weg.?Wat as ’n mens net ’n?flying leap vat, dan is?dit mos alles oor, het sy momenteel gedink. En dan: Maar dis mos nie ek daai nie.

“My belewing op daardie oomblik was dat ek werklik nou alles verloor het – my droom in Frankryk, my werk, my geld, my huis waaroor ek so mal was. En toe die man ... En ek moet oor twee weke uit daai woonstel en ek weet nie waar ek gaan land nie.”

Maar dan staan jy op ...

“Dis hoe dit is,” sê Lanie, hier in haar huurhuis in Groenpunt, Kaapstad, oorkant ’n statige Katolieke Kerk. “Wat wêreldsgoed betref, het ek ’n paar honderd duisend rand op my naam en ’n groot aandeel in ’n grafleë château?in Frankryk, waar eiendomspryse die laagtes ingedaal het.”

“Jy is deur ’n trein getref,” het haar terapeut gesê. “As jou beserings fisiek was, was jy nou in die waakeenheid. Gun jouself hersteltyd.”

“Die gevoel wat by my opgekom het, was dieselfde as kleintyd wanneer Pa jou koors meet en sê: ‘Um, ja,?jy hét koors.’ Dis downtime, dan moet die hele wêreld ’n rukkie lank gawer met jou wees. Jyself óók.”

Sy het besef sy moet op ’n manier sin maak uit al die verliese. “Of [weer] inkonk.”

Daarom gaan sit sy kruisbeen op haar bed en begin haar storie skryf. “Ek het na die kerk met sy roosvenster gestaar, en as ek nie getjank het nie, het ek geskryf.”

Die idee vir die boek lê in Frankryk. Waar anders? “Daar sit ek in Frankryk sonder ’n flippen woord Frans op my tong. En al mense met wie ek kan gesels as ek alleen in my toringkamertjie sit, is my vriendinne per e-pos. Ek het die skryf geniet en hul terugvoer was ‘skryf jou storie’.”

Dit sou ’n vrolike, fun storie wees. Maar toe kom al die swaar goed en dit word meer van ’n binnereis.

Lanie het ’n jaar lank watergetrap – net oorleef. Haar annus horribilis.

En fietsgery ... “Ek is op my gelukkigste op my fiets. Fietsry verbind my met my siel,” sê Lanie, wat vanjaar haar vyftiende Argus- fietstoer aanpak.

“Ek het dié jaar weer besef ek is ’n sterk, optimistiese en vrolike mens – dat ek ná alles wat gebeur het ’n goeie verhouding met myself het. My storie begin toe ek in my vroeë twintigs?vir ‘myself ’ skrik. Jy dink paniekerig, hier is ’n ‘self ’, ’n hele lyf en wese wat ek aan die gang moet hou. Jy besef ek is Lanie, maar wie de hel is Lanie? Hoe gaan ek saam met haar deur?die lewe reis, en wil ek? Nou, ’n paar dekades later, kan ek sê ek en daai ‘self ’ is bondgenote.”

Sy het weer vastigheid gekry.?“Ek het ’n woonplek gevind waar?ek veilig voel, weer begin werk as ’n binneversierder en ek omring myself met my drie vrolike kinders, Michelle, Nina en Nicolaas, twee kleinkinders, Leo (6 maande) en Nicolaas (twee?en ’n half jaar), my lojale vriende en liefdevolle familie.”

En sy droom oor hoe sy weer die château, en haarself, gaan herskep. “Miskien is dit die tema van my volgende boek!”