Toe sy en haar man, John, ’n bedryfsbestuurder van die Gautrein, in 2004 ná hul verblyf van vier jaar in Londen teruggekeer het na Suid-Afrika, het al die armoede wat sy om haar gesien het, haar aan die hart geruk.

OOR TOT AKSIE

“My kinders, John (9), Louis (7), Francois (5) en Gustav (18 maande), is nou op ’n lekker ouderdom, daarom het ek meer tyd vir liefdadigheidswerk. Ek en my ma, Annemarie Heyl, en twee skoonsussies, Helga en Liza, het reeds in Mei 2010 ’n tak vir die nie-regeringsorganisasie Solidariteit Helpende Hand gestig. Ons glo in hul leuse: Opheffing deur opleiding. “Ons tak borg onder meer die Beyers Bytjies-kleuterskool in Pretoria en verskaf aan hulle kos, klere, komberse, medisyne en skryfbehoeftes. En minstens een keer per jaar bied ons ’n poppekas-vertoning aan. Vir sommige van die kleuters is die etes wat hulle by die skool kry, al kos wat hulle bedags eet. Ons gee ook jaarliks beurse aan behoeftige volwasse studente. “Die geldelike nood is uiters groot in die arm woonbuurte in Pretoria. Daar is 77 blanke plakkersgebiede waar mense in woonwaens, kartonhuise en kamers sonder lopende water en krag bly. Dié mense het nie selfvertroue of hoop nie.”

VREUGDE VAN GEE

“Geestelik het ek die afgelope twee jaar ongelooflik gegroei.Om vir ’n vuilerige graad eentjie in oorgroot ou skoolklere ’n nuwe skooltas te gee en daardie wakker ogies te sien opgewonde raak, laat jou anders na die lewe kyk. Kinders is só uitgelewer aan omstandighede buite hul beheer. “As ’n hartseer kleuter op jou skoot huil omdat haar ma haar verwerp het, besef jy sy wil net liefde hê. Wanneer ’n ma as prostituut werk om vir haar kinders te sorg moet ons nie oordeel nie, maar eerder haar potensiaal raaksien, haar help om ander werk te kry en luister na haar pyn. Om te ervaar hoe ’n kind uit sy hart uit lag as hy poppekas kyk en vir ’n oomblik uit sy bitter swaar huislike omstandighede ontsnap, of om ’n matriekseun te help om ’n aandpak te kry, is maar enkele voorbeelde van die wonder van gee.”

UITDAGINGS

“In die begin was dit vir my uiters ontstellend om te sien in watter haglike omstandighede mense woon. Maar ek het besluit om op die positiewe te fokus. “Jy moet realisties bly, al droom ons tak groot. Natuurlik lê ek sommige nagte wakker en wens ek kan die Lotto wen en ’n groter verskil maak. Maar as jy fokus op dit wat jy nié doen nie, sal jy van jou kop af raak. “As gelowige sien ek die Here se hand in ons projekte. Sonder die ondersteuning van die tientalle mense elke maand sou ons nie kon voortgaan nie. Ek dink mense gee graag omdat baie van ons projekte so persoonlik is. As jy die gesiggie van ’n kleuter sien en sy omstandighede ken, gaan dit aan jou hart ruk en dis hoekom mense betrokke wil raak. “Dit ís ’n uitdaging om positief te bly, maar my man, vriendinne en taklede ondersteun my honderd persent en ek kan regtig elke dag om my sien hóé graag mense wil gee.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: