By die Olimpiese Spele in Beijing in 2008 was sy lid van die SA vrouehokkiespan. Sy is betrokke by ’n leierskapsprogram om jong meisies te bemagtig. Ek het ’n advertensie oor die toekenning in die studentekoerant Die Matie gesien en aansoek gedoen. Ek het nie gedink ek sal dit kry nie en toe ek hoor ek het dit, was ek verbaas...eintlik sprakeloos ...net wow!

My ma, Lena, het ons alleen grootgemaak. Sy het teen ’n minimum loon by ’n ouetehuis op Beaufort-Wes gewerk. Ek het hard gewerk om akademiese en sportbeurse van die universiteit te kry om die las vir my ma te verlig. Dit het die toon van my lewe aangegee: Om regtig hard te werk vir al die dinge wat ek wil hê en nodig het. Ek voel geëerd dat die US iets in my raakgesien het. Die rektor en die visekanselier het by die toekenningsgeleentheid gesê ek staan uit omdat ek my kennis, kundigheid en ondervinding met ander deel. Ek werk deeltyds by die Akademie vir Leierskap en Sportontwikkeling op Stellenbosch. Ek het eers kurrikulums daar opgestel en later as projekbestuurder en fasiliteerder opgetree. Nou is ek bestuurder van die afdeling by die akademie wat meestal op leierskapsontwikkelingsprogramme vir hoërskoolmeisies fokus.

Ek dink jy inspireer ander nie deur dit wat jou anders maak en laat uitstaan nie, maar juis deur hoe jy jou lewe lei in diens van jouself en ander. Ek het ’n passie om met mense te werk en dit het my lewenstaak geword om aan te hou studeer en in ’n omgewing te werk waar ek hulp kan bied aan diegene wat dit nodig het. Ek wil my meestersgraad in kurrikulumstudies voltooi en eendag ’n stigting saam met Vidette begin om ander te help.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: