My ma, Hester Jacobs, het op Vrydag 3 April 1981 om 16h15 in die Vereeniging Hospitaal geboorte gegee aan my. Ek was ’n keisersnit-baba, en het 2,2kg geweeg.


Meeste mense luister na hul moeders se stories oor hoe trots mamma en pappa was toe hulle hul kleinding se eerste gil gehoor het, en hoe hul oë traanbelope was toe hulle die klein mensie vir die eerste keer in hul arms geneem het. Hulle kan jou ure lank verveel met foto’s en stories oor babatyd.


Ander mense vermy daardie geselskappies, of verander die onderwerp. Hul foto’s is in dose weggepak onder al die dinge wat gemerk word vir die stoor of die buitekamer. Iewers waar dit nie in jou pad sal wees nie.

 

Ek, aan die ander kant, sal my alles gee om ’n storie van my ma of pa te hoor, oor hoe trots pappa op sy meisiekind is. Ek sal enigiets gee om na familie-foto’s te kan kyk en al die stories te hoor wat aan elke foto verbonde is.

 

Jy sien, ek kan ongelukkig nie. Hierdie voorreg is vir ewig van my ontneem. My ma is oorlede toe ek sewe jaar oud was en ek ken nie my pa nie.

 

Daar is sekere dinge in die lewe wat ’n mens nie kan vervang of opvang nie. Dinge wat geen geld in die wêreld kan koop nie ... jou ouers, en jul verhouding, jul band, jul liefde.

 

Hulle sê tyd heel alle wonde. My ma is 22 jaar gelede dood, en dit voel soos gister. Ek sien haar in die kis lê, rustig asof sy net slaap. Ek mis haar elke dag van my lewe.

 

Maar hoe voel ek oor my pa? Vir my is hy al 28 jaar “dood”. Ek het dit vir die helfte van my lewe geglo. Dit was vir my ’n ongelooflike skok toe ek hoor hy leef. En die ergste van alles is dat hy daar buite rondloop en dalk dink ek is dood. Mense het veroorsaak dat ons mekaar nooit gevind het nie.

 

Hoe is ek veronderstel om my oorsprong te verstaan as ek nie weet wie my pa is nie!

 

Hoe vind ek my pa in ’n wêreld onwillig om my te help? Met mense wat geld voor my kop gooi, geld wat ek nie het om private speurders te huur om my pa te soek nie.

 

Waar begin ’n mens soek? Ek sal enigiets gee net om te weet of hy my ooit kom soek het. Het hy gedink ek is dood of wou hy my net nie ken nie? Hoe gooi ’n pa sy kind tog weg? Ek soek antwoorde. Ek sal nooit rus vir my siel kry as ek nie weet nie.

 

Danieta van Rhyn van Gauteng