Ma, Pa en Baba Luca by Skouspel
Ma, Pa en Luca by Skouspel

Baba Luca

21 Oktober

Somer is uiteindelik hier!

Ek is mal oor die winter, maar genade, dit het hierdie jaar lank gebly. Heerlik om nou op te staan, die mooi dae te sien. Lig sommer ‘n mens se gemoed ook.

12 Oktober

Die naweek by skouspel by Sun City het ons met ‘n dief kennis gemaak...

Die bobbejane is so hans dat hulle sommer by jou kamer inwals. Toe my man Jurg hom probeer verwilder, het hy eers doodluiters oorgestap na die babasak, sy hand ingedruk, baba Luca se wet wipes gegryp en die hasepad gekies. Êrens in die Pilanesberg sit daar nou ‘n baie skoon bobbejaan.

6 Oktober

Skouspel was heerlik. 10 jaar show was great! Kuier dié week by onderskeie vriende wat ons 'n jaar laas gesien het.

30 September Op pad na die 10de Huisgenoot Skouspel by Sun City. Babalief gaan saam en manlief moet babysit. Sien uit daarna om na vier maande weer bietjie op die verhoog te kom. 28 September Waar is die somer? Die Kaap bly nat en koud, terwyl die res van die land somer het. Het nou maar begin sonbed, want moet eersdaags in aandrokke by Skouspel optree en 'n bruin lyf lyk nou maar eenmaal beter.

21 September

Doen admin dat dit by my ore uitkom. Nes ek dink ek raak my e-pos-inbox baas, kry hy my weer onder

15 September

Ek is so agter met my foto's.  Vandat ons almal verdekselse digitale kameras het, kom 'n mens nie by die aflaai van die foto's daarvan uit nie.  Wat nog te sê van uitprint en in 'n album kry.  

Ek is mal oor foto's kyk, maar nie op die rekenaar nie. Dit moet in 'n album wees. Ek is maar net so vier jaartjies agter, maar baie trots op myself. Ek't ons vakansie in Italië afgelaai, ge-print en dis al in die album. Gister gedoen.  

Nou begin ek met baba Luca se foto's en daar's nog hope...

31 Augustus

Dit was my huweliksherdenking op Donderdag die 27ste Augustus en ek het skoon vergeet...

Gelukkig my man, Jurg, ook...  My skoonma het onthou en ons ge-SMS. Ja, ons is nou vier jaar getroud en daar het so baie in die tydjie gebeur: Huis aangebou (laaangprojek), Die Boer restaurant-teater oopgemaak en nou het ons ook vir baba Luca.  Hoop daar lê nog baie jare voor ... want dit raak net lekkerder.  

Die eerste 2 jaar van my huwelik was maar onstuimig, tot ‘n mens die drukplekkies aan mekaar leer ken.

27 Augustus

Het vandag my hare laat knip. Snaaks hoe hare-doen vir vrouens so ‘n lift gee.

Die lang hare het my oud en tam laat voel. So nou is ek reg vir die somer (hoewel ons nog bibber van die koue). A change is as good as a holiday. Weet nie of dit net ek is nie, maar daardie laaste drie dae voor ek my hare laat doen, kan ek amper nie verbywens nie, want dan groei my highlights uit en al wat ek wil doen is om ‘n hoed op my kop te druk. En die frustrerendste is dat ek nooit ooit my hare kan doen soos die haarkapper nie (sug). Sy moet seker ook haar geld verdien!

25 Augustus

Valiant Swart en sy band was die naweek by Die Boer.  Ai, watter lekker rock en roll!

Valiant is nog steeds op sy eindelose reis en dit lyk of dit hom besonders goed doen. Lekker om plaaslike talent te hê waarop ‘n mens so trots kan wees. Ons staan beslis nie terug vir ons internasionale eweknieë nie. You rock, Valiant!

21 Augustus

Dis so vrek koud! ‘n Mens kan heeldag in die bed lê en broei. Maar ek is nou op pad na my girls pokerklub. Ja, ons is so 4 wat maandeliks bymekaar kom.  Lekker eet, glasie wyn drink en sommer baie babbel.  En af en toe onthou ons om ook ‘n hand poker te speel. Goed vir die siel!

17 Augustus

Die jaarlikse Vlooi-show is weer aan die gang... Vanjaar is ons vir die eerste keer by die HB Thom teater in Stellenbosch en dis so lekker. Vlooi in die Oerwoud is ‘n pragtige produksie gerig op kleintjies tot die ouderdom van tien jaar. Dit het reeds verlede Maandag begin en strek tot en met die 28ste Augustus. Saterdag 22 Augustus is daar ‘n openbare vertoning met kaartjies by Computicket.

Dis wonderlik om elke dag 1 600 voetjies oor die teater se drumpel te sien beweeg. Kinders is nog onbevange en eerlik. Hulle neem spontaan deel en hulle onmiddellike terugvoer maak kinderteater baie spesiaal.

12 Augustus

Baba Luca is uit haar prematuur klere. Kon gister vir die bondel liefde haar eerste <i>newborn</i> klere aantrek. Sy raak nou ‘n groot meisie! Ma is soooo trots. ‘n Volle 3,1 kg op twee maande

8 Augustus

"Gaan nou rugby kyk. Hoop die Bokke gee die Aussies hel. Sal darem net te lekker wees om die Drienasie-koning te wees!"

7 Augustus

Baba Luca was gister 2 maande oud! (Al moes sy eintlik eers die 12de Aug gebore word...). Die groot Afrikaanse gesinstydskrif het haar vandag kom afneem. So, almal wat nuuskierig is - julle kan haar eersdaags sien! En vir haar ma, is sy natuurlik die mooiste ...

5 Augustus

Die varkgriep het my bekommerd. Eers was dit in Mexiko. Toe hoor ons van die eerste gevalle in Suid-Afrika. Maar dit was daar bo in die Noorde. Die volgende oomblik sterf 'n Matie-student. Gister hoor ek daar is 7 bevestigde gevalle in die plaaslike skool. Vanoggend vertel 'n vriendin my haar seun het varkgriep. Hoe beheer 'n mens hierdie vlaag voor die hele land daarmee sit?

3 Augustus

Genade, waar vlieg die tyd heen? Dis begin Augustus! Meer as die helfte van die jaar is verby en die ergste is dat die tweede helfte van die jaar vir my altyd veel vinniger gaan as die eerste helfte. Sug.

En vandat ek vir baba Luca het, moet ek sê, kos dit fyn tydsbeplanning om alles gedoen te kry. Kyk, as jy elke drie ure moet borsvoed, laat dit maar so ongeveer 90-120 minute tussenin (ek is juis nou op een van daardie) om ietsie te doen. Dis nou te sê as die kleine madam nie dan óók nog wil gesels of sommer net 'n lekker goeie ou gilletjie wil gee nie. Dus, ek het nie tyd nie, maar ek het baie tyd vir my kind!

**Hou sarie.com dop vir haar volgende mini-blog

Lees ook Kurt en Mathys se gereelde mini-blogs hier op sarie.com