3 Desember

Ek kan steeds nie glo dat die jaar regtig verby is nie. Op ‘n vreemde manier is dit een van die mees positiewe jare van my lewe. Dis ongelooflik om te gaan aangaan en steeds te kan doen waarvan ek hou. Dis ongelooflik dat my seuns by my kan kuier en ek hulle kan hoor speel en lag. Dis ongelooflik om my familie en vriende om my te hê. Dis ongelooflik om steeds drome te gaan jaag en waar te maak. Ek was nog altyd ‘n dromer en glo dinge kan net beter word. Wat ‘n jaar!

25 November

Jislaaik, toe ek weer sien, is die jaar verby. Ons is klaar besig met die 2de reeks opnames van Kamp dit uit. Van 40 °C in Mussina tot 9 °C in  die  Vrystaat, vreemde wêreld en vreemd hoe mens aanpas by als. Maar nou het ek 'n vakansie nodig. Wonder soms of ek nie te vinnig te veel wou doen nie, maar dit is baie beter om eerder besig te wees en te wonder as niks te doen en te wonder.

4 November

Elke dag maak die lewe meer en meer sin. 'n Mens moet net weet waar om te kyk. Nou die dag ry ek en my seuns in die kar, en hulle wil net na die Ses Snare-CD luister. Toe ek in die speeltjie kyk sit die jongste en hy speel kitaar met oorgawe. Later vra hy my oor 'n paar drukke en hy wil heeltyd weet wie is die beste: Blackie, Mel of Mauritz. Vandag het ek toe sommer 'n klein kitaartjie gekoop en gereël vir lesse vir die twee. Die beste is die Baby Taylor-kitaar want dit werk vir my ook lekker om in die stoel te oefen. Die groot kitaar voel regtig soos werk!


15 Oktober

Vanjaar is seker een van die kortste jare in my lewe. Dit voel of ek nog niks vermag het nie en die jaar het skaars begin en nou staan ons al einde se kant toe. As ek egter daaroor dink, kan ek nie glo is nou al 7 maande na die ongeluk nie. Die vreemde deel is hoe ek die tyd in die hospitaal omgewens het en hoe lank ek dit ervaar het. Eintlik het dit so vinnig verby gegaan en ek kon nie wag om weer besig te raak nie.

Nou is ek so besig ek kry kans vir niks persoonliks nie. Ek wil graag saam met my vriende kuier, ek wil graag net een aand lê en TV kyk. Maar die gevoel op die verhoog as ek sing is net so onbeskryflik. Niks dra my meer deur my huidige situasie as die wete dat ek heel is op die verhoog nie.

Soms wens ek net mense verstaan die verskil tussen rolstoel-vriendelik en heeltemal onafhanklik as dit by reis en verblyf kom. In die laaste 2 maande kon ek nog net by 2 of 3 plekke 100% regkom met die fasiliteite. Suid Afrika het 'n baie lang pad om te loop, maar mense probeer regtig hard. Ek sal dit my missie maak om mense in te lig en nie te kritiseer nie.

13 Oktober

Ek is besig in my huis en hoor die voëls buite baljaar. Dit is seker die dankbaarste gevoel om steeds myself te mag wees. Ek het juis vanmôre 'n vertoning vir VLU gedoen wat geld insamel vir arm kinders. Kinders met niks nie. Dr Cival Mills was die gaspreker en my probleme het so klein gelyk, tog het ons gesit en grappe gedeel en raad uitgeruil.

Ek dink my grootste ervaring hieruit is: Dit maak nie saak wat jou onmiddelike frustrasies of probleme, hoe groot ookal, is nie. Jy kan altyd daaruit kom en bo dit uitstyg. Mak 'n punt daarvan om ander mense dop te hou en moenie net altyd kyk na die kar of die huis en wens nie. Kyk na die mens. Dan eers besef jy hoeveel mense daarbuite nodig het. Dis ook nie altyd iets groot of baie geld nie. Soms net die wete dat iemand omgee, beteken vir baie mense die wêreld.

In plaas van road rage...ek weet ek is skuldig...probeer die mens en nie die kar sien nie. Die taxi is vol mense gelaai wat vanaand baie later as jy by die huis gaan kom en miskien nog bekommerd is oor of daar genoeg te ete is. In plaas van jou probleem in die verkeer sien, kyk na die ander en jy voel bevoorreg. Ek benader my huidige situasie ook so.

Ongelooflik om te weet ek kan help en dit beteken vir mense baie en dan voel ek outomaties beter...

8 Oktober

Vanoggend het ek weer vyfuur opgestaan. Ek dink verseker hulle moet 'n wet maak dat musikante nie so vroeg moet opstaan nie. Maar ek moes vir de soveelste keer weer terugvlieg van die Kaap af.

Die weer is darem net baie beter hier in Pretoria, het ek vndag besluit. Al het ek amper 3 ure in verkeer vasgesit oppad terug van Johannesburg af na my Noot-vir-Noot-opname. Iets wat ek deesdae baie goed bemeester is geduld. Die hele tyd in die verkeer het ek myself net besig gehou met my eie gedagtes en drome. My grootste droom nou is om net 'n paar dae af te wees.

Al sê ek dit met gemengde gevoelens, ek het dit so nodig gehad om weer aan die sing te kom en die land vol te ry. Ek het dit net so nodig om te rus. Maar ek is rerig dankbaar vir die tweede kans wat ek gekry het om weer te kan sing en te kan doen wat ek rerig voor lief is. 

1 Oktober

Twee feeste ná mekaar met twee produksies is meer as wat ek gedink het. Dis ongelooflik om weer hier by Aardklop te wees, maar vir die eerste keer is ek net op die verhoog of in my kamer - bloot om net stil te sit. Ons het nou net Ses Snare gedoen en dis ongelooflik om só baie reaksie van die publiek te kry. Ek is nou halfpad deur die fees en ek is klaar spyt dit gaan dalk te gou verby wees.

Wat 'n voorreg om so 'n lekker werk te hê!

25 September

Die volgende twee weke het ek 14 vertonings. Eers by Cultivaria in die Paarl en dan by Aardklop. Ek het gisteraand met Ses Snare in die Paarl begin. Dis ongelooflik lekker om deel van iets so eg te kan wees: Ses manne, ses kitare en die musiek! My seuns kuier saam met my en het gedink die lang tafel in die Paarl se hoofstraat is indrukwekkend. Duisend mense sit almal by een baie lang tafel. Moet net nie iemand aan die ander kant probeer groet nie!

22 September

Vreemd hoe mens met oënskynlike moeilike takies eweskielik net soveel beter kan doen.

Twee maande terug was daar sekere fisieke dinge wat ek gedink het regtig onmoontlik is om ooit weer te oorweeg, só moeilik het dit vir my gevoel. Vandag kan ek dit baasraak sonder om twee keer daaroor te dink.

Punt wat ek wil maak is....deur elke dag net stap vir stap te beweeg en die normale prosesse aan te pak, kom jy ná 'n ruk agter hoe jy gevorder het. En gewoonlik baie verder as wat jy aanvanklik beplan het, sonder om eers moedeloos of moeg te raak oor die taak wat aanvanklik moeilik gelyk het.

Vandag kan ek regop sit en self oorleuen en goed optel. My kar se deur was aanvanklik so klein dat dit elke keer 'n gesukkel was om die stoel in te kry. Nou is dit net 'n normale proses. Om 'n langbroek aan te trek terwyl ek sittend in my rolstoel is, het aanvanklik prakties en tegnies onmoontlik gelyk. Nie meer nie......Die lewe gaan aan....anders maar dieselfde resultate...ek is steeds ek.

18 September

Dis ongelooflik hoe aanloklik 'n bed lyk wanneer jy moeg gereis en gevlieg is. Vanmôre moes ek egter weer vroeg luister hoe die kinders speel en vliegtuigies gooi, en oor my klouter, op my klouter en eweskielik maak die lekker bed nie meer saak nie. Want niks laat my so heel en reg voel soos die twee seuns nie. (Al is ek nou vroeër wakker!)

Van die vlieg gepraat, ek het nou al van Augustus af by elke lughawe in die land al aangedoen, by sommige meer as ander. Ek ken al die personeel wat my elke keer moet help om op die vliegtuig te kom.

Een ding wat soos paal bo water staan is hoe hulpvaardig gemiddelde mense daar buite is. Almal wil daai ekstra ietsie doen. En nou praat ek nie van iemand wat weet wie ek is nie, net iemand wat wil help.

Nou die dag wou ek gou gaan koffie drink naby my huis. Dit bly maar 'n redelike proses om die stoel uit my kar te kry en oor te klim al doen ek dit rerig vinnig. Terwyl ek als vashou om wiele in te clip staan 'n omie nader met sy kierie, hy is seker diep in die sewentig en loop al baie stadig. Hy vra toe of hy van hulp kan wees. Bloot die feit dat hy aanbied beteken klaar vir my rerig baie, al kan hy nie régtig help nie. Ek dink elkeen van ons kan iemand anders van hulp wees - al het jy self probleme, kyk soms net bietjie rond en help waar jy kan. Dit laat jou goed voel!

15 September

Ses Snare se DVD is klaar en reg vir produksie. Dis regtig iets om na uit te sien, veral nou met Cultivaria en Aardklop. My eie solo-vertonings by díé twee feeste gaan ook vir my die volgende mylpaal wees ná die ongeluk. (Al gaan ek 'n besiger 2 weke beleef.)

By Aardklop het ek 10 vertonings, en nie een gratis optrede by 'n tent nie. Al die vertonings is volwaardige optrede waar elke gehoorlid spesifiek 'n kaartjie gekoop het. Dit plaas my onder meer druk en ek moet net eenvoudig kan perform ... maar ek sien rerig uit.

Ek kan nie ophou om te sê hóé dankbaar ek is dat ek steeds ek is nie.

11 September

Volgens my ingeboude horlosie en almanak (wat elke geval nie normaal funksioneer het nie) voel dit of die jaar nog steeds net aan die begin is. Maar as ek probeer om nog te beplan aan dinge wat ek vir die jaar wou doen, besef ek daar is geen tyd oor vir ekstra aktiwiteite nie. Kyk ek egter terug maand vir maand, het daar soveel gebeur, en dan sukkel ek om die bymekaar uit te bring en te verstaan.

Ek moet begin werk aan nuwe CD. Ek moet oefen vir vertonings. Ek moet veral voorberei vir Aardklop en daar is baie min tyd daarvoor. Net voor Aardklop begin ek en Alexa met die nuwe "Kamp dit uit"-reeks. Ek sien rêrig baie daarna uit en sal dit as my vakansies sien ... as ek mag. Klink soos werk, maar is baie lekker. Vir myself het ek eers weer volgende jaar tyd. En ek kan nie wag nie.

9 September

Vroeg laasweek toe ek my skedule sien, het dit gevoel soos toe ek meegedeel is dat ek 3 maande in die hospitaal gaan wees. Daar was geen manier hoe ek eens kon visualiseer hóé ek dit sou maak nie. Uiteindelik het dit so vinnig verbygegaan.

Laasweek se vooruitsig was só 'n week. Ek het ongelooflike lang vertonings op ver plekke gehad en was sommer vroeg al seer en moeg. Maar dit het so vinnig verby gegaan, ek voel nou sommer weer sterker en reg vir nog 'n besige week. 

Die humeur lol maar as mens met só 'n skedule 4 uur soggens moet opstaan, en dan op pad lughawe toe in reuse verkeersknoop vassit.

Op die lughawe wil die dame ons nie laat vlieg nie, oor hulle die kredietkaart van die maatskappy wat my vlug bespreek het, as bewys soek. Hoe kan ek dit moontlik by my hê? En dan weier sy net om ons te help.

Soveel so dat ek weer kaartjies moes koop. Baie geluk, SAA! Só gaan julle uit jul finansiële gemors kom: Weier iemand met 'n wettige kaartjie om te vlieg, en forseer hulle om nuwe kaartjies te koop (want dan kry jy dubbel die inkomste). Dit maak finansiële sin! Behalwe dat Salamina se optrede verseker het dat ek nie sommer weer SAA sal vlieg nie.

3 September

"Vanaand slaap hulle hier en dit is so voorreg om pa te wees en die twee geniet dit soveel om my by te staan en te help. Moet net vandag my wiskunde opskerp en kyk hoe ver ek kan help. (Baie verander in 25 jaar!)"

"Môre-oggend vroeg vlieg ek weer Bloemfontein toe en dan het ek geen rus tot Sondagaand nie. Dit is nou as 'n mens iets wat só lekker is om te doen, werk kan noem! Dit is so lekker om elke dag te doen wat ek van hou en dit met ongelooflike mense te deel."

"Die afgelope paar maande het ek weereens gesien en ervaar dat meeste mense regtig net goed wil doen en wil help. Vandag in 'n winkelsentrum toe my inkopiesak van my skoot afgly, was daar soveel hande wat wou help dat ek amper benoud geraak het. Ek kon dit self hanteer maar mense wil eenvoudig net help. Aanvanklik was ek geïntimideer deur soveel hulp, maar deesdae is dit ongelooflik om dit te ervaar én te aanvaar."

1 September

"Vanmôre vroeg wakker geword en gelê en luister na die voëls in die veld.

Vroeg al het die spookvoël geroep en die katlagters baljaar lekker raserig in die boom voor my stoep. Ek vergeet sommer van die moeg en besige tyd wat ek gehad het. Gisteraand het ons Ses snare se DVD opgeneem en dit was ongelooflik om met die ouens saam te werk.

Dit is iets anders om rêrig musiek te maak en te geniet en te weet ek is deel van die proses. Dit was net een van my langste dae nog in my rolstoel, maar ek het dit oorleef omdat die proses van musiek maak self my nie moeg maak nie. Oomblik as die musiek begin, vergeet ek van my rug en my styfheid, dan voel ek net so normaal."

27 Augustus

"Waardes van vriendskap kan regtig eers in moeilike omstandighede gemeet word. Vir my was bloot die wete dat ek vriende het geweldig inspirerend. Elke dag besef ek dat selfs die kleinste gebaar ‘n reuse verskil gemaak het aan hoe ek myself kon aanwend om elke dag nuwe probleme te kon oorkom. Daarom wil ek graag daardie gevoel oordra aan ander in nood. Een van ons musikante se gereelde klankmanne was ook in ‘n ongeluk en hy is ook verlam. Ons doen Sondag 6 September vir hom ‘n vertoning in die Aula in Pretoria. Dit het soveel vir my beteken om vriende en kollegas saam te sien en ek hoop dit help met André se herstel en moed vir die toekoms."

25 Augustus

Daar is net geen einde aan my dagboek nie. Ek het hierdie week saam met Jag-tydskrif gaan jag. Sommer net om meer te vertel oor dinge wat ek geniet en doen. Behalwe vir die koue was dit so lekker om weer die veld te ervaar en te beleef. My regteroog sien net nie meer nie. Toe moes ek links leer skiet. Dit was nie te moeilik nie en na 6 skote op die skietbaan voel ek reg vir jag. Een skoot verder en nou hang daar darem biltong en droëwors in my lapa.

Môre-oggend vlieg ek weer Kaap toe en is dit weer terug na wat ek rêrig doen. Wens net ek kan die reistye verkort, dis die moeilikste deel van so gereeld sing. Om op die verhoog te wees is net 'n voorreg!

20 Augustus

"My lewe voel amper weer normaal. Ek doen meeste dinge net stadiger en ander weer vinniger. In winkelsentrums op gladde vloere moet almal hardloop om by te bly. Eendag gaan iemand voor my inloop en ek gaan nie betyds kan rem nie. Dan lees julle weer van nog 'n ongeluk! Mense kyk bo-oor my, en loop net. EK het vandag ook vir die 1ste keer weer in 'n studio 'n liedjie gaan opneem. Dit was weer iets waaraan ek van vooraf moet gewoond raak. Studios is wreed en baie deursigtig oor hoe jy vir jouself klink. Ek klink half anders...okay net tot ek weer my asem gekry het. Net die 2 hoë note wat ek nie bykom nie pla so 'n bietjie ... die lae note ekstra help veral met Leonard Cohen se musiek. Dis baie lekker om weer net agter die mirofoon te staan en sing...sit en sing...!!

DINSDAG 18 AUGUSTUS

"My eerste week terug in die tuig het ek dit dalk net effe oordoen. Van Bloemfontein tot Tzaneen, 9 vertonings in 10 dae! Ek het darem oorleef, makliker as wat ek gedink het. Dis fisies moeilik, maar emosioneel beteken dit soveel om te weet ek is weer ék en ek kan aangaan waar ek opgehou het. Dis hoekom ek vir Gerhard gehelp het met 'n rolstoel. Hy is 19 en moet nog met 'n lewe begin. Hoe moeilik moet dit wees? Ek is gelukkig, ek het klaar als gehad en moet net leer om met die verandering weer aan te gaan. En daarvoor is ek oneindig dankbaar.

As elke mens net iets het om op voort te bou, dan kan jy soveel meer doen en onmoontlike hindernisse oorsteek, want jy weet wat aan die ander kant lê. Vir 'n 19-jarige jong man moet dit die wêreld se verskil beteken as hy net rêrig mobiel kan wees. En dan kan hy van hier af sy pad vorentoe uitkap, en selfs moontlik die onmoontlike vermag."

DONDERDAG 13 AUGUSTUS

"Dis 'n ongelooflike gevoel om weer op die pad te wees. Als voel net so normaal soos voorheen. Behalwe dat ek net beter moet beplan en dit vat soms net stadiger en langer om basiese takies te doen. Maar as die musiek begin en die mense sit voor my vergeet ek van al die pyn en ongemak.  Dit is net lekker om te sing. Ek toer nou saam met "Ses Snare".  Ons het gisteraand in Pietersburg gesing, vanaand in Tzaneen en moreaand in Rustenburg. Gelukkig is die kitaarmanne almal groot en sterk en hulle tel my maklik oor enige trappe of lig my op die verhoog. So nou en dan vergeet hulle my net op die verhoog en dan moet ek maar rustig wag tot iemand hulle oor my ontferm! Weer eens wil ek net dankie sê vir almal se ondersteuning en gebede. Sonder daai wete dat die mense my ondersteun het, sou ek nooit so vinnig weer kon doen wat ek rêrig geniet nie."

DINSDAG 11 AUGUSTUS

"Maar ek het darem oorleef en dit voel rêrig goed om weer ek te wees. Bloemfontein was 'n reuse sukses. Hierdie week het ek ook elkedag 'n vertoning, van Bethlehem tot Tzaneen. Effens senuagtig oor al die ry en bly op vreemde plekke - maar dit is regtig wat ek graag wil doen. Die beste deel is, hoe meer ek doen, hoe lekkerder voel ek oor waar ek myself nou bevind en hoe makliker raak dit om fisies oor die weg te kom."

WOENSDAG 5 AUGUSTUS

"Vandag het ek my eerste lang pad self gery. Ek is vanaand in Bloemfontein en môre-oggend vroeg is ek op die OFM-ontbytprogram om my vertoning te adverteer. Die moeilikste deel is by die verskillende blyplekke. Dis die mooiste plekke, maar 'n rolstoel neem baie meer plek op as wat selfs ek gedink het. Net om hande te was met my stoel en groot voete beteken ek kan nie eens by die wasbak uitkom nie. Ek leer darem elke dag iets nuuts.

Hierdie maand begin met 'n bang! Van Donderdag af gaan ek skaars grondvat met al die ryery en vertonings. Maar die Groot Een is die 2 vertonings in Bloemfontein om dankie te sê vir Bloem se mense vir al die hulp en ondersteuning. Dit is nou presies 4 maande ná die ongeluk, en die lewe gaan aan. Dit is so verblydend om te weet dat ek kan voortgaan waar ek opgehou het."

LEES OOK: Kurt en Margit Meyer-Rödenbeck se mini-blogs

VRYDAG 31 JULIE

Ek sit hier en werk op my rekenaar en is smoorkwaad. Laasjaar was ek ook in 'n ongeluk gewees. 'n Ou in motor het reg voor my in 'n kruising gestop, reg onder die stilhou verbode-bord om 'n passasier op te laai. Ek het baie skade gely en het steeds 'n skouer met probleme. Nou wil sy versekeringsmaatskappy hê ek moet al sy skade dek. Dis hoe regverdig die lewe is, hy verbreek al die reëls en ek moet als betaal.

DINSDAG 28 JULIE

My dae van min doen, raak al hoe minder! Ek het gedink 'n maand by die huis ná ek ontslaan is, gaan net genoeg tyd wees om gewoond te raak aan hoe ek by die lewe moet aanpas noudat ek in 'n rolstoel is. Nou ja, die vakansie is amper verby. Volgende week begin my vertonings in alle erns en ek hoop ek is reg daarvoor. My maag draai maar so bietjie as ek dink aan die twee aande in Bloemfontein se Sand du Plessis-teater. Dis baie mense om op die sitplekke te kry. Moet darem sê die eksperiment om Kaap toe te vlieg het baie goed gewerk, oor die algemeen is als baie goed ingerig vir parapleë. Dit was baie lekker om bietjie onafhanlik te kan reis en als self te kan doen. My liefie was ook baie bly om my weer te sien.

DONDERDAG 23 JULIE

"Ek gaan kuier in die Kaap. Ek het 'n hele paar vertonings waar ek moet vlieg later vanjaar en hierdie is 'n oefenlopie om as parapleeg te vlieg en om vir my liefie te gaan kuier wat tans in die Kaap is. Vreemd om so onseker te voel oor iets waaraan ek altyd so gewoond was." - Mathys

DINSDAG 21 JULIE

"Bloemfontein is so lekker saam met die Ses Snare. Die vertoning begin nou rêrig momentum kry en dis steeds vir my 'n lekker manier om weer gewoond te raak aan die verhoog. Om een of ander rede voel ek normaal as ek op die verhoog sing. Geen pyne of ongemak nie - dit voel net soos voorheen. Dit maak die uitsien na meer net soveel makliker. Volgende nou is die Dankie Bloem-vertoning op 6 en 7 Aug. Dan gaan ek die eerste keer 'n hele vertoning moet doen, en ek kan nie wag nie. Ek is nou moeg vakansie gehou vir meer as 3 maande, maar as ek terugdink hoe ek gevoel het en hoe min ek kon doen, kan ek nie glo dat ek al sover is nie. Elke dag beter en meer en dit kon ek net regkry met die ongelooflike ondersteuning, baie dankie Suid Afrika !!!!...." - Mathys

DINSDAG 14 JULIE

"Wat ek die meeste geniet op die stadium is om weer self te kan bestuur. Dit is die normaalste aktiwiteit wat ek kan doen. Daar is gewoonlik ook parkeerplek reg voor die bestemming en so nou en dan een of ander ou met gewoonlik 'n duur Duitse motor wat op my parkeerplek staan. Baie frustrerend!!!!  Donderdag gaan ek weer Bloemfontein toe saam met Ses Snare vir die Volksbladfees. Ek begin ook om die finale beplanning te doen vir my groot solo-vertoning in Bloemfontein, 6 en 7 Augustus...net om dankie te sê aan Bloemfontein se mense." -  Mathys

WOENSDAG 8 JULIE

"Na so 'n lang ruk wat ek afhanklik was van ander mense vir die eenvoudigste takies, kon ek nie wag om by die huis te wees en als self te doen nie. Aanvanklik het als baie goed gegaan maar nou is daar elke dag nuwe uitdagings. Vreemd genoeg was die enigste tyd wat ek rêrig normaal en pynloos gevoel het, die uur op die verhoog by Innibos. Ek kan nie wag vir die volgende vertonings nie!! Dis soos medisyne sonder enige nagevolge!!!!!" - Mathys

VRYDAG 3 JULIE

"Vir die 1ste keer in 3 maande het ek weer ver gereis, dié keer Innibos toe. My heel eerste volwaardige vertoning het baie goed afgeloop en dit was baie lekker om weer op die verhoog te wees. Veral oor ek dit saam met die Ses Snare kon doen. Ongelooflike gevoel om te weet waar jy hoort en hoe goed dit voel om weer te kan sing." - Mathys Roets

WOENSDAG 1 JULIE

"Vreemd genoeg het ek gewoond geraak aan die sekuriteit van die hospitaal. Maar dit is ongelooflik om net weer myself te kan wees. Moreoggend ry ek Nelspruit toe vir Innibos, my heel eerste vertoning en dit saam met Ses Snare!! Dan kan ek so bietjie lyf wegsteek as my vingers te seer raak en die asem nie hou nie." - Mathys Roets

EKSKLUSIEF OP SARIE.COM
Mathys beantwoord voortaan gereeld die vraag: "Waaraan dink jy vandag?"
Só stap sarie.com-gebruikers die pad saam met hom deur sy nuwe lewe.

Kom saam op sy reis en deel ook jou wense en gedagtes hieronder met hom.

Besoek ook www.mathysroets.co.za

Meer oor Ses Snare se optrede by Innibos 2009

JÚLLE BOODSKAPPE AAN MATHYS OP FACEBOOK

"Wonderlik hoe positief hy ingestel is - voorspoed Mathys" - Lynette Rodgers

"Great stuff Mathys...soooooo trots op jou!!! Jy is vir ons te kosbaar...hou so aan" - Hannely Jooste

"Jy is ‘n ongelooflike voorbeeld vir menige mense!! Dink aan jou!!!" - Greta Watson

"Bly jy is by die huis!!" - Huldah Van Wyk

"Jy is 'n wenner!! Ongelooflike mens Mathys, ek praat asof ek jou ken, maar deur jou hele gebeurtenis...ek bid vir jou en jy saam met God vorder ongelooflik. wonderwerk en jou positiwiteit. sterkte vorentoe." - Alta Steenkamp

 "Geniet Innibos, Mathys!!! Voorspoed vorentoe!!!" - Norma Hough