Marelize Steyn-Earle

'Vriendinne hou 'n mens se arms hoog as jy te moeg is om dit self te doen. Hulle bid vir jou as jy nie self kan nie'

“Vriendinne is vir my soms nader as familie. Ek het min vriendinne wat oorgebly het ná my glansdae, maar dié wat wel oorgebly het, is my wáre vriendinne. (Marelize was in 1993 derde in die Mej. SA-wedstryd en daarna ’n kontinuïteitsaanbieder op kykNET. Sy was ook in 2002 Mev. SA.) Ons is fyn ingestel op mekaar se behoeftes. Ons woon nie almal na aan mekaar nie, maar ons vriendskapsband strek oor tyd en kilometers.

Ware vriendinne het my uit die kake van die dood gered en weer leer leef. Ná ’n motorkaping in 2002 voor my huis, my mislukte huwelik (met sakeman Schalk Jacobs) net daarna en die omstredenheid waarin my Mev. SAtydperk gehul was, het my lewe uitmekaar geval. (Marelize en die bestuur van die wedstryd het gebots en sy is later gevra om te bedank.) Ek het nie meer kans gesien vir alles nie en het pille gesluk. Ek het dié dag met my vriendin Anne-Mari Raath oor die foon gepraat en sy het dadelik onraad vermoed.

Omdat sy in Johannesburg was en ek in Pretoria, het sy ons vriendin Ina Kotze in Pretoria gevra om te gaan seker maak ek is oukei. Hulle het die ambulans ontbied en saam met Jeanette Prinsloo en Madie Roets het hulle my omring terwyl die mediaherrie om my losgebars het. Ná my selfmoordpoging het Madie tydelik by my ingetrek. Sy het my versorg en aangemoedig om vir castings vir modelwerk te gaan.

My vriendinne het my moed ingepraat toe ek aan myself getwyfel het. Hulle het gepreek as dit moes en verstaan sonder om my te oordeel. Omdat ons so na aan mekaar is,raak dít wat hulle raak ook vir my. Toe my vriendin Chante Hinds-Möller se 18 maande oue seuntjie, Jan Daniël, verlede jaar verdrink het, het ek en nog ’n vriendin, Annie Malan, dadelik Noord-Kaap toe gery om haar by te staan. Ons wou daar wees as sy ons nodig het. Ons kom almal ’n lang pad saam en is soos leeuwyfies oor mekaar se belange en privaatheid, veral omdat ons ook weet hoe die kollig jou soms kan seermaak. (Chante is ’n aktrise en voormalige TV-aanbieder en Annie was ook ’n aktrise en is nou ’n bekende sakevrou.)

My vriendinne is lojaal aan my en ek aan hulle. Ek het Amor (Vittone) verlede jaar so goed as moontlik probeer bystaan met die Joost-drama. Ek het vir haar gebid en haar nooit gekritiseer nie. Vriendinne hou ’n mens se arms hoog as jy te moeg is om ditself te doen. Bertha du Plessis was een van die eerste mense wat my ondersteun het toe ek in 2003 in George aangekom het. Ek is weer getroud en het ’n grimeer-ateljee hier. Toe Bertha en haar vriendinne besluit het om saam met Alba ’n vriendskapskalender te maak het ek met graagte gaan help met die grimering. Tragedie mis niemand se vriendekring nie en toe my en Chante se vriendin Manda Alicino in Desember in ’n ongeluk verlam is,het ons haar die 45 dae wat sy in die waakeenheid was met ons gebede gedra.Tydens haar herstelproses het ons vriendekring almal aan ’n 40-daevas deelgeneem. Manda is nou stadig maar seker besig om haar lewe te herbou, maar sal vir die res van haar lewe verlam wees. Ek het gedink die minste wat ek kon doen, is om vir ’n rukkie die dinge wat vir my lekker is op te offer. Vergeleke met Manda se stryd was my opofferings klein.”

Marlize Liggett en Hestrie Cloete

Hestrie Cloete-Els

‘Marlize is soos ’n verlore sussie wat ek in Nieu-Seeland gevind het’

 

“Tydens my loopbaan as Springbok-hoogspringatleet was ek vir lang tye van die huis af weg. Ek was eensaam, want ek het nie juis vriendinne oorsee gehad nie. Ek het maar my eie ding in die buiteland gedoen. In daardie mededingende wêreld is dit elkeen vir homself as jy wil oorleef.Tog was ek nooit alleen nie, want die Here het die pad saam met my geloop. My agent, Ellen van Lange, was ook daar om te luister as dinge te veel raak. Sy het nogal baie trane afgevee. Gelukkig het ek met my egskeiding van my jeugliefde, Andries Cloete, vriendinne soos Martie Grobbelaar van Pretoria en haar dogter Hermie as steunpilare gehad. Hulle was twee van talle vriendinne wat my bygestaan het. Die lys is te lank om op te noem! Ek het tóé geleer vriendinne dra jou deur die moeilike tye. Dit is hoekom ek Marlize Liggett, my vriendin in Nieu-Seeland, so intens waardeer. Sy was vir my ’n anker toe die bom rondom Jurie en Robbie Klay gebars het. Ek kan enigiets met haar deel. Ons kan huil en later lag oor dieselfde ding. Sy het my insig gegee as dinge vir my te erg gelyk het. As ek en Jurie baie gespanne was, het sy die kinders rustig gehou. Sy is soos ’n verlore sussie wat ek in Nieu-Seeland gevind het. In die twee jaar dat ons vir die hofsaak gewag het, het Marlize nooit moeg geword om na my probleme te luister nie. Sy het altyd gesê sy het nie oplossings vir als nie, maar die Here sal dit uitwerk. As vriendin doen ek dieselfde terug. Ek sal in die nag vir haar opstaan om te help. Sy weet ek is net ’n oproep of ’n SMS ver. Ek maak nie maklik vriende nie. Eerste indrukke is vir my baie belangrik. Ek sukkel ook om mense weer te vertrou as hulle my vertroue een keer geskend het. Ek is ’n vriendin wat my lewe sal gee vir iemand wat dieselfde vir my sal doen.”

Hestrie se vriendin Marlize Liggett

‘Ek het soms gewens ek kon haar seer net vir een dag van haar wegneem’

 

“Jurie het Nieu-Seeland twee keer besoek voordat hulle hier kom woon het en in 2003 in ons gastehuis gebly. Ons het bevriend geraak en hy het my baie van sy Hes vertel.Tóé het ek al geweet ons gaan goed oor die weg kom. Ons het e-posvriendinne geword en toe hulle begin 2008 Nieu-Seeland toe getrek het, het ons hegte vriendskapsbande gesmee. Hes was so opgewonde oor hul nuwe toekoms, maar elf dae ná haar aankoms het haar geluksborrel gebars met Robbie Klay se bewerings van seksuele molestering teen Jurie. Sy was by my toe sy die nuus gehoor het. Sy was verpletter. Sulke intieme ervarings, wanneer jy ’n vriendin deur diep seer moet troos, laat jou nader aan haar beweeg. Ek dink respek vir mekaar en vertroue bind ons. Hes is ’n sterk vrou en baie in beheer van haar lewe. Sy het nie altyd gewys as sy swaarkry nie, maar ek het gewéét. Vroegoggend, as die son nog nie op is nie, het ek en sy afgestap strand toe en daar het ons oor alles gepraat: die moontlikhede en die onmoontlikhede. Ek het soms gewens ek kon haar seer net vir een dag van haar wegneem. Hes is ’n vrygewige vriendin. Niks is ooit vir haar te veel nie.”