Met die toekenningseisoen in Hollywood goed op dreef, is daar geen beter plek om na nuwe inspirasie te soek nie. Vanjaar het ons reeds dié drie haarstyl-tendense op die rooi tapyt raakgesien wat ons graag wil uitprobeer.

Middelpaadjies

Middelpaadjies oorheers tans die rooi tapyt met aktrises soos Emily Blunt, Jenna Dewan, Rosamund Pike en Sarah Hyland wat die afgelope twee weke met dié voorkoms gepronk het. ’n Middelpaadjie pas by die meeste gesigvorms en kan gemaklik, gesofistikeerd, modern of vroulik lyk, na gelang van hoe jou hare gestileer is.

Kombineer jou middelpaadjie met ’n sjiek poniestert of reguit hare ...

Of stileer jou hare met sagte golwe vir ’n gemaklike somervoorkoms.

FOTO: Kate se babamaag groei!

Oorkam-hare

Haarstyle wat inspirasie put uit vorige dekades, is die afgelope seisoen ook ’n groot tendens. Oorkam-hare met baie volume, soos wat Megan Fox en Anna Kendrick ons al gewys het, is die perfekte kombinasie tussen glans en gemak. Boonop is dié haarstyl so maklik dat jy net ’n paar minute voor die spieël nodig het om jou voorkoms van dag na aand te omskep.

Kry die oorkam-haarvoorkoms

  1. Wend mousse aan jou haarwortels.
  2. Blaas jou hare rofweg droog terwyl jy dit van links na regs deurmekaar krap.
  3. Gebruik dan ’n krultang om sagte golwe te skep. Steek jou hare terwyl dit nog warm is in ’n hoë bolla bo-op jou kop vas en laat dit afkoel.
  4. Maak ná sowat 10 minute jou hare weer los en spuit dit met haarsproei. Gooi dan jou hare na die kant wat jy dit wil dra en spuit weer ’n bietjie haarsproei aan om die styl in plek te hou.

Sorg só vir jou somerhare

Groot kuiwe

As jy lief is daarvoor om ’n kuif te dra sal jy mal wees oor dié neiging. Volg in die spore van bekendes soos Kate Moss, Alexa Chung en Jessica Chastain en kies ’n dik kuif met hope volume. Dié styl pas die beste by lang en ovaalvormige gesigte en is perfek vir wanneer die wintermaande begin nader kruip.

Bron: www.thebeautydepartment.com

Die mooiste rokke by die Critics' Choice-toekennings - lees meer!