’n Goeie onderlaag is een van die belangrikste grimeerkeuses wat jy kan maak. Die SARIE-skoonheidspan het daarom met drie plaaslike sterre gepraat om te hoor op watter onderlaag hulle staatmaak om hul vel natuurlik en stralend te laat lyk.

1. Donnalee Roberts, aktrise bekend vir haar rolle in flieks soos Vir altyd en Ballade vir ’n enkeling

My gunsteling-onderlaag

"Vir films, fotosessies en geleenthede soos premières is ek versot op Temptu se Airpod Foundation. ’n Spesiale masjientjie word gebruik om die onderlaag in ’n baie fyn mis oor jou gesig aan te spuit. Dit gee letterlik ’n foutlose “airbrush”-afwerking en my vel voel nog steeds asof dit kan asemhaal. Ons het dié onderlaag in Pad na jou hart, Ballade vir ’n enkeling en Vir altyd gebruik en dit het elke dag deur al die weerstoestande en bitter lang ure op die stel perfek gehou! Ek het ook ’n klein koordlose onderlaag-masjientjie wat ek saam met my neem as ek reis en uit ’n tas moet leef. Dis klein, kompak en werk perfek vir enige geleentheid.

“Van dag tot dag hou ek daarvan om die produkreeks Heliocare se getinte vogroom te dra. As ek ’n bietjie meer bedekking wil hê, is ek mal oor die luukse produkreeks Lycogel se Breathable Camouflage-onderlaag. Buiten dat dit goeie bedekking bied met ’n gladde afwerking, het die onderlaag ’n unieke formule wat help om suurstof, vog en voedingstowwe deur die dag aan jou vel te lewer. Én dit het ’n hoë sonbeskermingsfaktor."

My top-onderlaagwenk

“Ek glo eerstens in goeie velsorg. Maak nie saak watter onderlaag jy gebruik nie, as jou vel gesond en bevog is, sal jou onderlaag ook mooi lyk.”

Produkte: Temptu Airpod Foundation (R1 286, besoek www.temptu.co.za), Heliocare Gelcream Light SPF 50 (R355) en Lycogel Breathable Camouflage SPF 30 (R920). Albei laasgenoemde produkte is aanlyn beskikbaar by www.skinmiles.com.

Onderlaag1

2. Carina Nel, 7de Laan-aktrise

Our #WomanCrushWednesday goes to the lovely and beautiful @carinanel88 #wcw A post shared by 7de laan (@real7delaan) on

My gunsteling-onderlaag

“Dis Maybelline se SuperStay 24H- vloeibare onderlaag: Dit lyk fantasties en hou werklik heeldag lank. Wat ek die meeste daarvan hou, is dat dit my vel glad maak en merkies wegsteek, maar glad nie aangeplak lyk nie. Dit lyk baiekeer asof ek nie eens onderlaag aanhet nie!”

My top-onderlaagwenk

“Ek dink die meeste vroue sukkel om ’n onderlaag-skakering te kry wat regdeur die jaar pas by hul natuurlike velkleur. Die kleur van my vel verskil nogals baie tussen die somer en die winter. Ek het al gevind dit werk om twee onderlaag-skakerings – ’n ligter een en dan ’n warmer een – tussen die winter- en somermaande af te wissel.”

Produk: Maybelline SuperStay 24H Fresh Look Longwear Foundation (R175)

Onderlaag3

3. Christel van den Bergh, Getroud met rugby-aktrise

Saam my handsome verloofde by @karihoard en Lial se troue. #hinkelsgethitched #plettenbergbay #equinox

A post shared by Christel van den Bergh (@christelvdbergh) on

My gunsteling-onderlaag

“Ek dra nie vreeslik baie onderlaag nie en hou daarvan as my vel natuurlik en stralend lyk. Daarom is ek mal oor Bodyography se Oil Free Natural Finish Foundation. Dit bevat bestanddele wat lyntjies en plooie op my gesig invul, net soos ’n basislaag (primer), sodat my vel glad en natuurlik lyk.”

My top-onderlaagwenk

“Ek wend altyd my onderlaag met ’n grimeersponsie soos ’n Beauty Blender aan. Dit laat my onderlaag foutloos en sonder enige streperigheid lyk.”

Produk: Bodyography Oil Free Natural Finish Foundation (R390). By uitsoektakke van Placecol-, Perfect 10- en Dream Nails-salonne

Onderlaag2

Lees hiér oor die drie grootste onderlaag-uitdagings en hoe om dit op te los.