Dís die een haarsnit wat by almal pas. Die lang bob (of lob) is al vir ’n ruk lank dié haarstyl onder internasionale en plaaslike bekendes. Khloé Kardashian, Victoria Beckham, Adele, Jennifer Lawrence en Leandie du Randt – om net ’n paar te noem – het al almal met die styl gespog. Ons kan sien waarom: dit pas byna enige gesigvorm én ouderdom! Boonop is dit ’n veelsydige styl wat maklik stileer en dit het hope volume. Laat sny jou langer bob elke ses tot agt weke om die snit mooi te onderhou.

Om te keer dat jy uit idees hardloop oor wat om met jou lob-styl te doen, het die SARIE-skoonheidspan inspirasie op die rooi tapyt gaan soek.

4 wenke om jou lob vars te hou

1. Eksperimenteer met krulle

Golf jou hare rofweg met ’n stileeryster of krultang. Krap dan jou hare liggies met jou vingers deurmekaar en spuit ’n haarsproei aan wat volume en tekstuur aan jou hare gee.

 

2. Stryk dit glad

Middelpaadjies lyk veral sjiek saam met gladgestrykte hare. Steek jou hare agter jou ore in om die styl ’n moderne kinkel te gee.

 

3. Probeer ’n halwe opstyl

Vir ’n gemaklike vakansie-voorkoms kan jy net die boonste helfte van jou hare in ’n deurmekaar knoop-bolla vasmaak en die res van jou hare los en golwend laat. Trek ook liggies ’n paar stringe hare rondom jou gesig uit.

 

4. Dra ’n sjiek ponie

Vir ’n meer formele voorkoms, maak jou hare in ’n lae poniestert of bolla vas. Hou die hare in plek met ’n paar spuitjies haarsproei.

Lees nou

Trouklokkies vir prins Harry en sy Meghan?

Chad le Clos praat oor Phelps

Ons is opgewonde oor…