Verlede jaar het Pinterest voorspel moeitelose haarstyle, wat jy skep sonder om hitte te gebruik, gaan ’n trend word. Sedertdien sien ons gereeld bekendes soos Nicole Kidman, Diane Kruger en Julianne Moore op die rooi tapyt spog met meer natuurlike, effens deurmekaar style. Dit lyk of party nie eens hul hare gekam het nie!

As jy dink jy moet altyd jou hare met ’n haardroër uitblaas of met ’n haaryster stryk of krul om mooi te lyk, dink weer! Dié slim haarstyle wys dat jy selfs met jou natuurlike haartekstuur (en die regte stileringsproduk) net so mooi en elegant kan lyk.

Doen sit só:

Kry dié moeitelose voorkoms deur ’n produk wat volume en tekstuur gee, op jou nat hare aan te wend en dan jou hare natuurlik droog te laat word. Stileer dit op in ’n slierterige poniestert, los vlegsels of ’n deurmekaar bolla, of krap dit effens deurmekaar en laat dit net so los hang.

Julianne Moore

Dié voorkoms werk goed as jy fyner, redelik reguit hare het. Spuit ’n bietjie haarsproei op jou hare om te keer dat dit deur die dag plat val.

Olivia Munn, Nicole Kidman en Lauren Conrad 

’n Lae poniestert of bolla lyk sjiek. Die style is perfek as jou hare geneig is tot kroeserigheid (frizziness) omdat jou poniestert of bolla dan natuurlike volume en tekstuur sal hê.

Eva Mendes

Of jy jou hare vas of los dra, met ’n haarband of -knip kan jy binne minute jou haarstyl opkikker.

Sharon Stone

Jy kan selfs kort hare los om natuurlik droog te word. Wend ’n produk teen kroeserigheid op jou klam hare aan, en sodra jou hare droog is, ’n produk wat volume, tekstuur en glans gee.

Jennifer Lopez

Dié halwe bolla-opstyl is tans supergewild onder bekendes. Dis so maklik! Maak die boonste helfte van jou hare in ’n deurmekaar knoop-bolla vas en hou die res van jou hare los.