Sarah Ntuli, grimeerkunstenaar en handelsmerkkoördineerder van black|Up, sê as jy verskillende voorkomste met jou grimering wil skep, moet jy in ’n stel grimeerborsels belê. Hier is Sarah se vyf moet-hê-grimeerborsels.

FOTO: black|UP Paris FOTO: black|UP Paris

1. Die plat onderlaagborsel

Jy kan hierdie borsel saam met enige soort onderlaag – room of vloeibaar – gebruik. Nie net laat dit jou vel glad en vlekloos lyk as jy dit gebruik om onderlaag aan te wend nie, jy spaar ook onderlaag én voorkom dat die grimering onder jou naels beland. Jy kan ook dele van jou gesig bereik wat jy normaalweg nie met ’n onderlaagsponsie of jou vingers kan bykom nie, soos die deel om jou neus.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

2. Blosserborsel met ’n skuins hoek

Die meeste van ons sukkel dikwels om blosser aan te wend, maar met die skuinshoekige blosserborsel is dit maklik om die regte hoeveelheid blosser aan te wend en perfek in te skakeer. Jy kan dit ook gebruik om jou voorkop, wangbene en ken te verlig (highlight).

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

3. Groot oogskadu-borsel

Dié grimeerborsel is ’n definitiewe moet-hê! Jy kan dit gebruik om verligtende (highlighting) oogskadu aan te wend én om kontoerlyne te skep.

4. Kleinerige grimeerborsel met ’n skuins hoek

Jy kan hierdie borsel gebruik om jou wenkbroue op ’n natuurlike manier met oogskadu in te vul en dit so te definieer. Jy kan ook die perfekte “katoog” kry wanneer jy jou oogomlyner met dié borsel aanwend.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

5. Lipborsel

Dis die perfekte manier om jou lippe te definieer en omlyn, veral as jy die nuwe seisoen se tendense van ombré lippe of dramatiese lipkleur wil volg.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

Jy kan ’n lipborsel ook as ’n verbloemerborsel onder jou oë, op merkies en rondom jou lippe gebruik.

Onthou om jou grimeerborsels goed te versorg en gereeld te was. Dan kan dit jare lank hou. Was jou borsels sommer in ’n ligte babasjampoe en laat dit oornag droog word.