Die internasionale grimeerkunstenaar José-Luis Yuve het onlangs sy grimeerwenke met SARIE.com gedeel.

In Parys is die trend beslis om vars te lyk eerder as om ’n swaar en aangeplakte voorkoms te hê, meen dié bekende grimeerkunstenaar vir Guerlain, een van Frankryk se mees gevestigde grimeerhuise. "Grimering moet gebruik word om jou natuurlike skoonheid te komplementeer, nie toe te verf nie," sê José-Luis.
Te veel grimering is soos te veel rook of alkohol

- José-Luis oor grimering

5 wenke uit Parys

1) Dra áltyd lipstiffie. José-Luis meen ’n vrou sonder lipstiffie kan net sowel kaal wees. ’n Vrou met lipstiffie wys aan die wêreld dat sy raakgesien wil word.

Koop ’n klein verskeidenheid lipstiffies - die trend in Parys is op die oomblik ’n helder, oranje-pienk skakering wat die aandag trek. Oorweeg Guerlain se Rouge Automatique Insolence. Elektriese pienk is dié seisoen se ander modekleur, terwyl donkerrooi áltyd werk vir ’n aand-voorkoms.

2) Wend verbloemer reg aan. Vermy aanvanklik die gedeelte direk onder jou oog. Maak twee kolletjies met die produk aan die binne- en buitehoek van jou oog en vermeng dit dan met ’n borsel totdat dit die gedeelte onder jou oog ook bedek.

3) Wanneer jy maskara aansit, hou die borseltjie onder jou wimpers waar hulle begin. Beweeg horisontaal heen en weer vir ses sekondes en lig dit dan op om jou wimpers “oop” te maak en jou oë te laat uitstaan. Bly weg van wimperkrullers!

4) Die dae van die rokerige oog is verby. Donker oogskadu laat jou oë oud lyk. Die trend op die oomblik is natuurlike, vars en helder oë.

5) Gebruik eerder minder grimering, maar van goeie gehalte, as wat jy verskillende goedkoop produkte koop. Kry die een produk wat vir jou werk en hou daarby.

3 dinge wat altyd in jou handsak moet wees

Wanneer jy reis of wanneer jy nie jou hele grimeersakkie wil saamdra nie, is daar drie dinge wat jou gesig vinnig kan opkikker.

  • Lipstiffie (elektriese pienk op sy eie of gemeng met ’n bietjie oranje)
  • Maskara
  • ’n Ligte onderlaag of BB-room, en verbloemer as jy voel jy het dit nodig

Nóg in Skoonheid