Om jou hare uit te groei kan frustrerend wees. Die meeste vroue se hare groei net sowat 15 cm per jaar, hoewel jou gene ook ’n rol speel. Eksterne faktore wat kan maak dat jou hare stadig groei is streng diëte – wat veroorsaak dat te min voedingstowwe die wortels bereik – en spanning, wat kan lei tot bros hare wat baie stadig groei en selfs voortydig begin uitval. Maar moenie met jou hande in jou hare sit nie!

Hier is sewe wenke wat jou sal help om jou hare gesond te hou sodat dit vinniger groei.

1. Kyk uit vir haarsorgprodukte met kafeïen

Jou haarwortels het baie energie nodig vir jou hare om te groei. Haarsorgprodukte met kafeïen kan ’n verskil maak omdat dit die haarwortels stimuleer vir beter haargroei en help om haarverlies te voorkom.

2. Probeer jou hare minder was

Dit gee jou hare se natuurlike olies kans om die hele haarlengte te voed wat keer dat jy gesplete punte kry (wat jy later gaan moet laat afsny). Gebruik ’n droë sjampoe tussen wasdae om jou hare vars te hou.

3. Moet nooit van opknapper vergeet nie

’n Goeie opknapper seël die hele haarlengte sodat vog en voedingstowwe nie ontsnap nie. Dit verminder ook die kans vir droë gesplete haarpunte wat jy gaan moet afsny. As jy bekommerd is oor jou hare wat maklik olierig word, onthou, jy hoef nie opknapper by jou haarwortels te gebruik nie. Gebruik dit net op die onderste deel van jou hare, wat droër is.

4. Behandel jou hare weekliks

Belê in ’n haarmasker wat essensiële vetsure en voedingstowwe in jou hare terugsit. ’n Voedende masker een of selfs twee keer per week kan wondere doen vir jou hare.

5. Borsel gereeld jou hare

As jy jou hare gereeld borsel, stimuleer jy die bloedsirkulasie na jou kopvel. Beter bloedsirkulasie sorg dat daar meer suurstof en voedingstowwe na jou haarfollikels gaan. Dít voed jou haarwortels en bevorder gesonde haargroei.

WENK: Gebruik ’n wyetand-kam om jou nat hare uit te kam, pleks van ’n gewone haarborsel. Dit trek minder aan jou hare sodat dit nie breek nie.

6. Droog jou hare reg af

Wanneer jy jou nat hare ná ’n was rofweg met ’n handdoek droog vryf, gaan lê die haarkutikels (die buitenste deel van jou hare wat soos skubbe oormekaar lê) grof en oneweredig. Dit beskadig jou hare en laat dit koek. Druk eerder met die handdoek die water uit jou hare uit, sonder om jou kop onderstebo te gooi. Haarkutikels wat glad oormekaar lê, is sterker en blink meer omdat dit lig reflekteer.

7. Voed jou hare van binne

Voed jou hare van binne deur proteïenryke kos en sade te eet. Jou hare bestaan hoofsaaklik uit keratien, ’n soort proteïen, wat aangevul kan word deur proteïenryke kos soos eiers, lensies, Griekse jogurt en peulgroente. Vlas- en chiasade bevat essensiële vetsure soos omega 3 wat die bloedsirkulasie na jou kopvel stimuleer vir gesonde haargroei.

Probeer dié produkte vir beter haargroei:

1. Plantur 39 Phyto-Caffeine Shampoo (R165) en Conditioner (R145)

2. Marc Anthony Grow Long Caffeine Ginseng Shampoo (R130 elk). By Dis-Chem

3. Nioxin Diaboost Thickening Xtrafusion Treatment (R824)

Besoek www.modernhairbeauty.com

4. Hask Bamboo Oil Strengthening Deep Conditioner (R55)

By Clicks

5. Denman 100% Boar Bristle Brush Medium (R180)

By Dis-Chem

Bykomende bron: www.marieclaire.co.uk