Die slimste grimeerbesluit wat jy kán neem, is om die regte onderlaag te kies. Kry jy dit reg, lyk jou vel natuurlik, stralend en foutloos.

Ongelukkig raak dit al hoe moeiliker hoe ouer ons raak. Ons veltoon, -tekstuur en -voorkoms verander weens faktore soos pigmentasie, plooie en lyntjies, groter porieë en sonskade. Tog is daar baie wat jy kan doen om steeds ’n jeugdige voorkoms te verseker.

CANNES, FRANCE - MAY 09: Actress Julianne Moore a
FOTO Getty Images / Gallo Images

Volg dié wenke:

1. Berei jou vel korrek voor

Dis belangrik om jou vel vooraf goed te bevog sodat jou onderlaag perfek egalig vertoon. Gebruik ’n bevogtiger of selfs ’n gesigolie en vryf dit behoorlik in jou vel in. In die proses masseer jy jou vel, wat bloedsirkulasie stimuleer en sodoende kollageenvervaardiging aanhelp.

2. Kies die regte basislaag

Gebruik ’n basislaag (primer) voordat jy jou onderlaag aanwend, sê Alicia Schutte, hoof van opleiding van die grimeerhuis Bobbi Brown. Dit maak jou vel mooi glad sodat jou onderlaag eweredig aanwend en lyntjies sagter vertoon. Dit help ook dat jou onderlaag langer vars bly.

3. Probeer ’n onderlaag wat jou vel bevog

’n Voggewende formule is ideaal vir vroue met ’n ouer vel. Velveroudering en droogheid gaan hand aan hand, dus is dit noodsaaklik om ’n onderlaag te gebruik wat jou vel nie verder sal uitdroog nie. ’n Voggewende onderlaag sal ’n gesonde, gloeiende gelaat verseker en jou meteens jonger laat lyk.

4. Gebruik die regte skakering verbloemer

Met ’n egalige velkleur lyk jy jare jonger, maar dis van die moeilikste dinge om reg te kry in grimering. Slaag jy wel daarin, lyk jy gesond, uitgerus en asof jy nie eens grimering dra nie. Verbloemer word gebruik om donker dele op jou gesig weg te steek, hoofsaaklik onder jou oë waar donker kringe en fyn lyntjies voorkom. Dis ’n kitsoplossing om jou vel te verhelder. Hoe ligter, hoe beter!

5. Moenie te veel poeier dra nie

Ons is geneig om te veel poeier aan te wend. Dit kan jou vel vaal en leweloos laat lyk, onnodig klem plaas op groot porieë en ook jou grimering minder natuurlik laat vertoon. Probeer om net die nodigste aan te wend op die dele waar jy dit waarlik nodig het.

CANNES, FRANCE - MAY 09: Actress Julianne Moore a
FOTO Getty Images / Gallo Images

Probeer dié produkte:

Clinique Anti-Blemish Solutions Liquid Makeup (R525)

Max Factor Ageless Elixir Miracle Foundation (R260)

Clarins Skin Illusion Natural Hydrating Foundation SPF 15 (R515)

L’Oréal True Match Foundation (R200)

Bronne: www.allure.com, www.goodhousekeeping.com