HOEKOM BRUIN?

Swart kan vir eers opsy staan, want vanjaar is bruin dié neutrale kleur vir jou klerekas en grimeersakkie. Hierdie gewildheid kan toegeskryf word aan die herlewing van modes uit die 70’s en 90’s, asook die behoefte aan natuurlike en meer volhoubare produkte. Boonop word bruin met stabiliteit, betroubaarheid en heilsaamheid geassosieer en is dit ’n teenvoeter vir ons wêreld gehul in onsekerheid.

Dis een van die veelsydigste kleure om mee te werk omdat die spektrum van skakerings so wyd is. Ook in die skoonheidswêreld is bruin ’n staatmaker omdat die kleur se warm ondertoon byna alle gelaatskleure vlei. Dis tyd om herfs te vier in bruin!

HET JY GEWEET?

Tendenskenner Li Edelkoort van Nederland reken ons betree vanjaar die “Brown Age” en dat ons nog vir baie jare bruin skakerings in mode, skoonheid en dekor gaan sien. “Terwyl swart dikwels ander kleure waarmee dit gekombineer word oorskadu, is bruin in perfekte harmonie met enige ander kleur. Bruin se neutrale toon helder ander kleure op,” het sy verlede jaar gesê.

Brown haired woman with hairstyle
FOTO Getty Images / Gallo Images

VIR DIE DAG

Baie van ons maak staat op ’n swart oogomlyner, maar dit kan dikwels jou oë kleiner en ingesonke laat lyk wanneer jy dit deur die dag dra. ’n Sagte bruin oogpotlood is dus beter vir ’n alledaagse voorkoms. Dit gee jou oë subtiele definisie en lyk effens rokerig sonder om oordadig te wees.

Trek ’n lyn teenaan jou boonste wimpers en dan ’n lyn teen jou onderste wimpers net van die middel van jou oog na buite. Gebruik ’n dun sponsie of grimeerborsel om die lyntjies effens te smeer.

VIR JOU LIPPE

Bruin lipstiffie is terug danksy bekendes soos Priyanka Chopra, Gigi Hadid, Zendaya Coleman en Margot Robbie wat almal die laaste paar maande met dié retro-lipkleur op die rooi tapyt gewaar is. Selfs ons eie Demi-Leigh Nel-Peters het op haar troudag vroeër vanjaar met rosige bruin lippe gespog. Bruin lippe lyk veral mooi by medium en donker velkleure, sê Reneé de Wit, grimeerkunstenaar van Kaapstad.

“As jy ’n ligte velkleur het en jy wil bruin lipstiffie probeer, gaan vir ’n bruin met ’n rooi of oranje ondertoon.” Kies jou afwerking na gelang van die effek wat jy wil skep. ’n Mat bruin lyk gesofistikeerd en treffend, terwyl ’n bruin met ’n glans- of satynafwerking sagter is.

Het jy geweet?

Bruin oogomlyner was selfs vir die ikoniese aktrise Marilyn Monroe ’n slim mooimaak-truuk. Sy het byna nooit swart oogomlyner gebruik nie omdat sy geglo het bruin beklemtoon haar blou oë meer.

VIR DIE AAND

Bruin rokerige oë is sensueel en knus vir die koue maande. Dis ’n kernkleur vir ooggrimering en elke grimeerkunstenaar se beste vriendin, sê Reneé. Enkele skakerings soos grysbruin, roesbruin, sjokoladebruin en terracotta in ’n mat afwerking is tans gewild en lyk modern.

Probeer gerus ’n monochromatiese grimeervoorkoms deur hoofsaaklik dieselfde skakering bruin op jou oë, wange en lippe te gebruik, sê Reneé. “Helder dan net jou gesig op met ’n bietjie verligter op jou wangbene.” Onthou ook om jou wenkbroue in te vul en alles met ’n paar lae swart maskara af te rond.

Brown haired woman with hairstyle
FOTO Getty Images / Gallo Images

PROBEER HIERDIE PRODUKTE

1. Wet n Wild Megalast Lip Colour Sandstorm (R60). By Clicks

2. Revlon Kiss Cushion Lip Tint Chocolate Pop (R139)

3. Palladio Eyeland Vibes Eyeshadow Palette Sandbar (R195). By Dis-Chem

4. Rimmel Exaggerate Waterproof Eye Definer Rich Brown (R115)

5. Sorbet Long Wear Nail Polish Miss Chic (R93). By Clicks

6. OPI Nail Lacquer Barefoot in Barcelona (R190). By uitsoeksalonne

7. Reneé gebruik graag dié kontoerpalet op haar wange én oë – WBeauty Contour Palette & Brush Set (R210). By Woolworths

Bron: fashionunited.uk