Ons eie voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters is Maandag met die Amerikaanse sportster Tim Tebow by La Paris Estate naby Franschhoek getroud. En die wêreld is omtrent aan die gons. Nog net ’n paar foto’s van die spogtroue doen al die ronde en almal wag in spanning om meer te sien te kry.

In SARIE se Maart-uitgawe deel ons die troufoto’s én praat met Demi-Leigh oor haar groot dag, eksklusief in Suid-Afrika! Lees nog oor die troue hier

Alle oë is tans op Demi-Leigh, die meisie van Sedgefield in die Wes-Kaap. Met haar groot oë, vlekkelose sonbruin vel en stralende glimlag het sy onvergeetlik gelyk op haar troue.

Die SARIE-skoonheidspan het gesels met Renee de Wit, bekende haarstilis en grimeerkunstenaar wat vir Demi-Leigh se eksieperfeksie voorkoms op haar troudag gesorg het. 

Renee beskryf die grimeervoorkoms as tydloos en elegant. "Ons albei hou van skoon, minimale grimering met min onderlaag en fokus op die oë." Demi-Leigh wou hê die grimering moes natuurlik lyk, die voorkoms moeiteloos.

"Alles van Demi se gesig is mooi, maar ons het op haar oë gefokus deur meer verligter te gebruik in plaas van donker ooggrimering." Tim hou van Demi-Leigh met minder grimering en daarom het Renee met ’n ligte hand gewerk. 

Renee deel stap-vir-stap-wenke vir dié trouvoorkoms:

1. Demi se vel is voorberei. "Sy het ’n masker vir so 10 minute aangehad voor ons met haar grimering begin het."

2. Renee het met ’n nat grimeersponsie ’n klein bietjie onderlaag egalig aangewend.

3. Daarna het sy met haar oë begin deur eers ’n goeie basislaag aan te wend. 

4. "Ek het ’n neutrale kleur oor haar hele ooglid aangewend en daarna ’n ligte, warm bruin in die vou van die oog." Die fokus was om ’n katoogvorm met die ooggrimering na te boots.

5. "Ek het bruin oogomlyner op die wimperlyn ingeskakeer en daarna bietjie vloeibare oogomlyner ook op die wimperlyn in ’n katoog getrek."

6. Twee lae waterdig maskara, ’n paar individuele vals wimpers aan die buitehoeke van haar oë en ’n klein hoeveelheid verbloemer onder haar oë het die voorkoms treffend afgerond.

7. ’n Romerige blosser en verligter is daarna op haar wangbene aangewend. 

8. ’n Kombinasie van twee neutrale skakerings is op haar lippe gesit.

9. ’n Grimeersproei is gebruik om seker te maak dat die grimering deur die loop van die aand mooi lyk.

Renee het dié produkte gebruik:

Vir haar gesig ...

Crème Soyeuse de La Mer The Moisturizing Soft Cream (R2850) By Edgars Beauty. Concentré de La Mer The Eye Concentrate (R3250) By Edgars Beauty.
Smashbox Photo Finish Foundation Primer (R510)
Smashbox Studio Skin Hydrating Foundation (R580)
Chanel Ultra le Teint Flawless Finish Foundation (R925)
Bobbi Brown Pot Rouge for Lips & Cheeks in Fresh Melon (R490)
Dior Backstage Glow Face Palette (R930)
M.A.C Studio Fix Powder (R515)
Urban Decay All Nighter Makeup Setting Spray (R495) By Foschini.

Vir haar oë ...

Smashbox Photo Finish Lid Primer (R310)
M.A.C Eye Shadow in Brulé (R250)
Huda Beauty Rose Gold Palette (R1500) Beskikbaar aanlyn by www.takealot.com
Chanel Stylo Yeux Waterproof Long-Lasting Eyeliner in Espresso (R465)
Bobbi Brown Long-Wear Gel Eyeliner in Sepia (R420)
Lancôme Monsieur Big Waterproof Mascara (R360)

Vir haar lippe ...

M.A.C Retro Matte Liquid Lipcolor in Lady Be Good (R330)
Bobbi Brown Lip Color in Brownie (R440)