Die afgelope tyd is ’n hele rits oogskadupalette met ’n opwindende verskeidenheid van skakerings bekend gestel. Deur slegs een palet aan te skaf kan jy met ’n magdom oogskadu-voorkomste eksperimenteer. Dis ook perfek om mee te reis.

Onthou om ’n palet te kies wat neutrale én van jou gunsteling- helderder kleure bevat. So kan jy ’n grimeervoorkoms vir enige geleentheid skep. ’n Staatmaker-voorkoms is subtiele rokerige oë. Dit pas almal en kan in die dag sowel as saans gedra word. Dis boonop makliker om te bemeester as wat jy dink!

FOTO: Getty

Volg dié stappe:

* Begin deur liggies met jou vinger ’n ligte oogskadukleur oor jou hele ooglid aan te wend. Dit reflekteer lig en help om jou oë groter en "oper" te laat lyk.

* Wend dan met ’n klein, plat grimeerborsel ’n swart oogskadukleur teenaan jou onderste en boonste wimperlyn aan.

Wenk: As jy voel swart is te donker vir die dag, kies eerder donkerbruin.

* Met ’n groter grimeerborsel, skakeer baie liggies ’n juweelkleur soos maroen oor jou oogbank in. Die kleur moet uitgewas lyk.

* Vir ekstra definisie, wend ’n swart oogomlyner teenaan jou onderste wimperlyn aan wat jy dan met jou vinger effens smeer (smudge).

* ’n Paar lae maskara rond dié sagte rokerige voorkoms af.

FOTO: Getty

Wenk: Hou die fokus op jou oë en dra ’n naakkleurige (nude) lipstiffie met ’n satyn- of glans-afwerking.

Probeer dié produkte:

1. Urban Decay Born to Run Palette (R800)

2. MUD Smitten Palette (R650)

3. Revolution Reloaded Palette in Iconic Fever (R140)

4. RVB Lab Essential Eye Palette (R795)