Maar hoe gemaak as jy jare gelede jou wenkbroue te yl gepluk en dit nooit weer ordentlik teruggegroei het nie, of jy eenvoudig nie geseën is met welige wenkbroue nie? Ja, jy kan dit elke maand by ’n salon laat kleur of dit daagliks met ’n wenkbrou-potlood inkleur.
Microblading (ook genoem microstroking), ’n tegniek wat tatoeëerkuns inspan om jou wenkbroue voller te laat lyk, het reeds ’n groot aanhang. ’n Opgeleide terapeut gebruik ’n spesiale pen met fyn naaldjies om mikro-snytjies in die epidermis (die boonste deel) van jou vel te maak, waarna pigment in die vel geplaas word, sê Samantha Divaris, ’n wenkbrou-spesialis van The Brow Studio in Johannesburg. Só sal jou wenkbroue voller lyk. Microblading val in die kategorie van semi-permanente grimering en die kleur vervaag heeltemal oor tyd. Dié tegniek hou nie baie lank nie en jy moet verkieslik dit jaarliks weer laat doen.
Maar nou is daar ’n tegniek wat langer hou. Met microshading penetreer die pigment nóg dieper in jou vel danksy die gebruik van ’n gewone tatoeëermasjien. Dié tegniek skep ’n poeierafwerking wat jou wenkbroue opvul eerder as dun, individuele haartjies. Jou wenkbroue sal sagter en natuurliker lyk. Die prosedure hoef slegs elke vier jaar herhaal te word.