Einde Julie het Donnalee Roberts, Rolene Strauss en die grimeerkunstenaar Suna Robberts op SARIE se digitale rusbank gekuier.

Skermgreep

By #Dinsdagdromer was selfvertroue die fokus, al drie dié merkwaardige vrouens het staaltjies en hul eie stryd met selfvertroue gedeel.

Rolene het oor haar splinternuwe aanlyn-kursus, Rediscover Your Self-Confidence gesels en kykers met vier belangrike bronne wat jou selfvertroue ’n hupstoot sal gee, gedeel.

Suna het slim grimeerwenke gewys vir ’n meer gewaagde grimeervoorkoms vir ’n aand uit. Sy het kykers aangemoedig om te waag en uit hul gemaksone te kom om met selfvertroue iets nuuts te probeer.

FOTO Instagram / Suna Robberts

Of dit nou donkerder ooggrimering of mooi rooi lippe is, jy moenie bang wees om dit met selfvertroue te dra nie. Grimering is jou geheime wapen om te waag en op jou beste te lyk. 

In 2015 het Suna juis vir Donnalee oorreed om met rooi lippe te waag en dit met trots te dra. Nou is dit een van Donnalee se gunsteling lipkleure wat sy gereeld dra. “Wanneer daar mooi aan die binnekant is, dan mág jy dit na buite dra,” het Suna vir haar geleer. “Ek wil julle almal dare, dra ’n mooi rooi lippie!”

FOTO Instagram / Donnalee Roberts

Boonop was dit onlangs Internasionale Lipstiffie Dag!

Hier is van Suna se belangrikste wenke om rooi lippe te dra:

1. Kyk na jou velondertoon

As jy ’n geel ondertoon of ’n donker vel het, kyk dan meer na ’n koraal-rooi. As jy ’n koeler ondertoon het, dan kan jy kyk na ’n bessie skakering of enige lipstiffie wat ’n blou ondertoon het. Die belangrikste is om te kyk wat jy die dag dra en daarvolgens jou lipstiffiekleur te kies. 

2. Fokus op jou onderlaag

Jy moet seker maak dat jou onderlaag mooi aangewend is om jou mond. Jy moet seker maak dat al jou rooi merkies op jou gesig verbloem is, andersins kan dit fokus daarop plaas. 

FOTO Instagram / Rolene Strauss

3. Omlyn jou lippe

Die lipomlyner moet dieselfde skakering as jou lipstiffie wees of dit kan bietjie donkerder wees sodat jy ’n ombree-voorkoms kan skep. Gebruik jou lipborseltjie om die omlyner mooi in te skakeer. 

ONTHOU
As jy jou lippe effens skeef of onegaligomlyn het, vat jou verbloemerborseltjie met so bietjie onderlaag of verbloemer en stel dit reg om sekerte maak jou lipvorm lyk foutloos.

4. Pasop vir glans

As jy ’n glansafwerking wil hê, moenie die glans oor jou hele mond aanwend nie. Dit kan bloei en oor jou liplyn loop. 

5. Probeer ’n lipskrop vir ’n foutlose lipvoorkoms

Berei jou lippe voor deur so bietjie suiker en olyfolie of klapperolie te meng en jou lippe daarmee te skrop. Dit sal help om van oortollige velletjies ontslae te raak sodat jou lipstiffie mooier op jou lippe lyk. 

FOTO Instagram / Smashbox Cosmetics

Probeer die produkte:

Revlon Superlustrous Matte Lipstick in Red Rules The World (R119)

Smashbox Always On Liquid Lipstick in Bang Bang (R390)

NYX Professional Makeup Shout Loud Satin Lipstick in Red Haute (R99) Beskikbaar aanlyn by www.clicks.co.za

Lancôme LAbsolu Rouge Lipstick Cream in Caprice (R450)

Scarlet Hill Crème Lipstick in It's Me, Scarlet (R40) Beskikbaar aanlyn by www.mrp.com