Een van die belangrikste grimeerstappe om reg te kry is jou onderlaag. As dit mooi en egalig is, lyk jy natuurlik en gesond, en kry jou selfvertroue ’n hupstoot. Kry jy dit verkeerd, doen jy niks vir jou voorkoms nie. In die Maart-uitgawe van SARIE bied kenners oplossings vir van jou grootste onderlaaguitdagings.

Een hiervan is ’n onderlaagskakering wat nie by jou velkleur pas nie. Die geheim is om jou vel se natuurlike ondertoon korrek te bepaal sodat jou onderlaagskakering foutloos deel van jou vel vorm.

Volgens Marco Louis Ackers, senior grimeerkunstenaar van M.A.C in Afrika, is jou natuurlike ondertoon iewers tussen koel en warm. As jy weet wat jou velondertoon is, help dit jou om ’n skakering te kies wat die natuurlikste op jou gelaat gaan lyk.

  • As jy ’n koel ondertoon het, kies onderlaagskakerings met ’n effens rosige, blou of olyfkleurige skynsel.
  • ’n Warm ondertoon lyk weer die mooiste met skakerings met ’n geel, perske of rooierige skynsel.

Wat is die verskil tussen jou veltoon en velondertoon?

  • Jou veltoon verwys na hoe lig of hoe donker jou vel is.
  • Jou velondertoon verwys na die algehele skakering wat onder die oppervlak van jou vel sigbaar is.

Daar is verskillende tipes velondertone ...

Jou velondertoon lê gewoonlik op ’n spektrum tussen koel, neutraal en warm. 

  • Warm (skakerings van goud, geel en perske)
  • Koel (skakerings van pienk, blou en rooi)
  • Neutraal (’n kombinasie van die bogenoemde skakerings)
FOTO Instagram / Nicole Kidman se velondertoon is koud.
FOTO Instagram / Beyoncé se velondertoon is warm.
FOTO Instagram / Jessica Biel se velondertoon is neutraal.

Watter kleur is die are onder jou vel?

Kyk na die are onder jou vel aan die binnekant van jou pols. As dit blou lyk, dui dit op ’n koel ondertoon, terwyl are wat meer groen lyk dui dat jy ’n warm ondertoon het. As jy sukkel om te bepaal of die kleur van jou are blou of groen is (dit lyk blou én groen), dan is jou vel se ondertoon heel moontlik neutraal.

Illustrasie Estee Oberholzer

In watter modekleure lyk jy die mooiste?

Mense met ’n koel velondertoon lyk mooi in juweelskakerings. Diegene met ’n warm ondertoon moet weer eerder aardse skakerings kies. Die gelukkiges wat in byna alle kleure mooi lyk, het ’n neutrale ondertoon.

Illustrasie Estee Oberholzer

Goue of silwer juwele?

Pas jou gunsteling- goue of silwer juwele aan. Silwerkleurige juweliersware lyk gewoonlik mooier by koel ondertone en goudkleurige juweliersware by warm ondertone. As jy goue én silwer juwele kan dra, is jou ondertoon neutraal. (Kom jy ’n patroon agter?)

Illustrasie Estee Oberholzer

Wanneer jy ’n lang dag in die son deurbring ...

... brand jy vinnig bloedrooi of word jy sonbruin? As jy maklik sonbrand opdoen, het jou vel heel moontlik ’n koel ondertoon. As jou vel sonbruin word eerder as om rooi te brand, het jy waarskynlik ’n warm ondertoon.

Illustrasie Estee Oberholzer

Wat is die kleur van jou oë?

Mense met blou, grys of groen oë het gewoonlik ’n koeler ondertoon. Diegene met bruin of haselbruin oë het meer dikwels ’n warm ondertoon.

Illustrasie Estee Oberholzer

* Lees die volledige artikel in die Maart-uitgawe van SARIE.