Nie almal kan weens die aard van hul werk nou van die huis af werk nie. Dit beteken dat baie van ons ekstra vryetyd op ons hande het. Dis die ideale tyd om alles aan te pak waarvoor jy nooit kon tyd kry nie.

Hoekom begin jy nie sommer met dié 5 grimeer-tegnieke nie? Só kan jy dit maklik bemeester.

1. Gevlerkte oë (“winged eyeliner”)

FOTO Instagram / Marí Conradie

’n Elegante katoog-voorkoms bly klassiek en duik jaar ná jaar op die modeloopplanke op. Die geheim van gevlerkte oogomlyner is dat die lyntjie dun in die binnehoeke van jou oë moet wees en geleidelik dikker loop na buite om die vorm van jou oog te beklemtoon.

’n Vloeibare oogomlyner met ’n dun, skerp punt werk die beste om ’n “vlerkie” te skep, sê Shirley Molatlhegi, vryskut-grimeerkunstenaar van Johannesburg wat onder meer met die produkte van die skoonheidshuis L'Oréal Paris werk.

“As jy haastig is of nie tyd het om vooraf te oefen nie, plak ’n stukkie kleeflint in lyn met jou onderste waterlyn aan die buitehoek van jou oog en gebruik dit as ’n gids om ’n perfekte lyntjie te trek.”

Volg die wenke:

  • SARIE se eie skoonheidsredakteur, Monica Pienaar, dra graag gevlerkte oogomlyner om haar oë te beklemtoon. “Ek probeer die lyntjie so netjies as moontlik trek. Dan doop ek ’n oorpluisie in grimeerverwyderaar en vee met die punt liggies al langs die lyntjie om enige foute uit te vee.”
  • Moenie probeer om met een streep die hele lyntjie van die binnehoek van jou oog tot by die punt van die vlerkie te trek nie, meen Suzanne Potgieter, grimeerkunstenaar van Stellenbosch. Klein strepies in drie stappe werk beter. Trek eers die vlerkie en werk dan van die buitehoek van jou oog na die middel van jou wimperlyn. Voltooi die lyn van daar af na die binnehoek van jou oog.


2. Foutlose rooi lippe

FOTO Instagram / Rolene Strauss

“Dit beteken ’n soliede, helderrooi lipstiffie met ’n matafwerking is nou in die kol,” sê Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013 en opleier vir die grimeerhuis MUD. ’n Lippotlood is noodsaaklik om jou liplyn te definieer en te keer dat jou lipstiffie in die lyntjies om jou mond “bloei”. 

Kies een wat deursigtig is of in ’n kleur soortgelyk aan jou rooi lipstiffie. Omlyn jou lippe daarmee en wend dan jou lipstiffie aan. “Jy kan ook eers jou hele lip met ’n rooi lippotlood inkleur om jou rooi lipstiffie langer te laat hou en nóg helderder te laat lyk,” sê Marike.

Volg die wenke:

  • Kleur jou lippe met ’n rooi lippotlood in voordat jy die lipstiffie aanwend vir houkrag. Sodoende wys die kleur sterker op jou lippe, hou heelwat langer en vertoon meer afgerond.

Stap-vir-stap

Begin in die middel van die boonste lip (die Kupido-boog), beveel Marike aan. Dis belangrik om nie die hele lip te probeer groter trek nie, maar eerder te fokus op die middelste gedeeltes van die boonste en onderste lip.

“Die maklikste is om die twee rondings van die bolip meer te definieer en ’n klein bietjie ronder en hoër te trek as die natuurlike lyn, en dan ook die middelste gedeelte van die onderste lip klein bietjie laer en ronder te trek. Ons hou gewoonlik by die reël van niks meer as ’n millimeter buite die lyn nie.” 

Vir ’n perfek omlynde voorkoms is dit belangrik om ’n mat afwerking te gebruik en nie ’n glansafwerking nie. Dit lyk beter gedefinieerd en meer afgerond.

  • Dra ’n rooi lipstiffie met ’n blou ondertoon, dit sal jou lippe witter laat lyk.

3. Songekuste voorkoms met verbronser

FOTO Instagram / Hung Vanngo

Verbronser skep ’n songekusde voorkoms wat jou wangbene in ’n kits definieer. As jy nie baie tyd aan jou grimeerroetine kan afstaan nie, is verbronser beslis die antwoord …

Kies die regte skakering vir jou velondertoon ...

Lig: As jy ’n ligte gelaat het, is dit moeilik om ’n skakering te vind wat steeds natuurlik lyk. Kies ’n verbronser wat slegs een skakering donkerder as jou natuurlike velkleur is. Wend slegs ’n bietjie verbronser aan. Verbronser met roos ondertone is in die kol.

Medium: Moenie ’n skakering kies wat duidelik ’n koel óf warm ondertoon het nie, maar eerder neutraal. Pasop vir skakerings wat soos modder lyk, kies ’n skakering met ’n goue ondertoon.

Taan/olyf: ’n Sonbruin gelaat is die maklikste velkleur om die regte verbronser voor te kies. Byna meeste skakerings komplementeer dié velkleur. Verbronser met ’n terracotta of effense rooi ondertoon sal perfek werk.

Donker: Verbronser met ’n glansende- of blinker afwerking sal donker velkleure komplementeer. Dit sal help om duidelike definisie en glans te skep.

Volg die wenke:

  • Wend verbronser bo-op jou wangbene aan, en nie onder jou wangbene nie. Só word jou wangbene gedefinieer en lyk die glans natuurlik.
  • Moenie verbronser net op jou wangbene aanwend nie. Rond jou voorkoms af deur bietjie verbronser teenaan jou haarlyn, langs jou slape en op jou kakebeen aan te wend.

4. Vel soos glas

FOTO Instagram / Hung Vanngo

’n “Glas”-vel verwys na ’n gelaat wat so vlekkeloos en glansend is dat dit lig soos glas reflekteer. 

Hoewel glass skin tel as ’n grimeer-trend, is die sleutel agter die voorkoms deurlopende goeie velsorg, sê David White, bedryfsbestuurder van die grimeerreeks Urban Decay. “Dit gaan daaroor om jou veltekstuur so glad en egalig as moontlik te kry sodat dit vanself lig weerkaats vir ’n stralende gelaat. Daarna help die regte onderlaag en verligter om jou vel nóg glansender te laat lyk.”

Goeie reiniging en afskilfering is nodig om behoorlik van onsuiwerhede en dooie selle op jou vel ontslae te raak. Wees ook op die uitkyk vir produkte wat die voorkoms van porieë verbeter, omdat vergrote porieë dikwels jou veltekstuur vaal en onegalig laat lyk.

Stap-vir-stap

  • Verwyder grimering: Verwyder saans heel eerste jou grimering.
  • Reinig: Reinig jou vel met ’n produk wat alle vuiligheid sal verwyder sonder om jou vel se natuurlike olies en vog te stroop.
  • Skilfer af of gebruik ’n masker: Skilfer so elke paar dae (nie elke dag nie) jou vel af of gebruik ’n masker. Afskilferaars raak van dooie velselle ontslae sodat jou vel ’n gesonde, natuurlike gloed kan hê, terwyl maskers jou vel behoorlik voed en hidreer.
  • Verfris: Wend ’n verfrisser aan om enige oortollige olie te verwyder en jou vel se pH-balans te herstel.
  • Bevog: Bevog jou vel met jou gunsteling-bevogtiger om ’n gesonde gloed te verseker.
  • Serum: Wend laastens ’n serum aan voor jy gaan slaap. Dit sal jou vel voed en die voorkoms van porieë verbeter.
  • Drink genoeg water en eet gesond!

5. Smeulende oë

FOTO Marijke Willems

Smeulende, rokerige oë bly seisoen na seisoen in die mode en lyk supersexy. Die geheim is om jou oogskadu-kleure goed saam te skakeer vir ’n soort ombré-gevoel.

Talle van ons voorbladsterre sit in die Johannesburgse haarstilis en grimeerkunstenaar, Alex Botha se grimeerstoel voor ’n voorblad-fotosessie. Sy verklap jy gebruik ’n goue of brons oogskaduswart oogskaduswart oogomlyner en swart maskara vir die voorkoms.

Stap-vir-stap

  • Berei eers jou oë met verbloemer voor. Seël dit met so bietjie poeier, sodat die oogskadu nie in die voue van jou oë gaan lê nie.
  • Wend eerstens jou goue of brons oogskadu met ’n glansende afwerking aan. Dis belangrik om dit mooi egalig in te skakeer tot by die vou van jou ooglid.
  • Skakeer daarna swart oogskadu mooi in, ook tot by die vou van jou ooglid.
  • Gebruik ’n swart oogomlyner om jou waterlyn én boonste wimperlyn te omlyn.
  • Wend so bietjie swart oogomlyner op ’n klein oogskaduborsel aan. Skakeer dit mooi teenaan jou waterlyn en boonste wimperlyn in totdat dit aan die buitehoek van jou oog verbind is.
  • Rond met gitswart maskara af.

Ons eie 2013-Voorbladgesigwenner, Marike Nel, wys hiér stap vir stap hoe om vir ’n spesiale geleentheid of ’n aand uit ’n smeulende voorkoms op jou oë te skep.