Die Britse aktrise Lucy Boynton skitter tans op al wat ’n rooi tapyt is. Sy vertolk die rol van Mary Austin, Freddie Mercury se eerste liefde en lewenslange vriendin, in die lokettreffer Bohemian Rhapsody.  

SKERMGREEP Bohemian Rhapsody

By die onlangse SAG-toekennings het Lucy se treffende en unieke ooggrimering ewe veel aandag as haar Erdem-aandrok getrek.

Haar oë is op ’n grafiese wyse met swart oogomlyner beklemtoon, met ’n lang, dun lyn op haar oogbank wat haar oogvorm navolg en komplementeer. Die donker lyn is herhaal aan die binnehoeke van haar onderste wimperlyn.

LOS ANGELES, CA - JANUARY 27: Lucy Boynton attend
FOTO Getty Images / Gallo Images
LOS ANGELES, CA - JANUARY 27: Lucy Boynton attend
FOTO Getty Images / Gallo Images

Lucy se minimalistiese grimeervoorkoms is te danke aan die grimeerkunstenaar Jo Baker. Op sosiale media verwys sy na dié grimering as rebelse en gotiese oogomlyner wat deur die deurskynende kolle-patroon van Lucy se Erdem-rok geïnspireer is.

Treffende oogomlyner bly van die maklikste maniere om jou grimeervoorkoms op te kikker en impak te gee – dis dan nie eens nodig om enige ander grimering te dra nie. ’n Sterk swart katoog bly gewild, maar speel ook met helder kleure soos neongeel, groen, pienk, blou of wit, sê Lesley Whitby, grimeerkunstenaar van Johannesburg en eienaar van die wenkbrou-salon Brow Doll. “Dis sexy en interessant sonder om te oordadig te wees.” Baie grimeerkunstenaars en -liefhebbers wend oogomlyner ook in die vou van hul oë aan of eksperimenteer met ’n sogenaamde “deconstructed eyeliner”-voorkoms waar die lyn plek-plek onderbreek word.

Probeer een van dié voorkomste:

Subtiel

Gebruik ’n swart vloeibare oogomlyner en trek ’n lyntjie met ’n klein vlerkie teenaan die boonste wimperlyn. Gebruik dan ’n oogpotlood en trek teenaan jou onderste wimperlyn ’n sagte lyntjie en vlerkie wat parallel met die boonste een loop.

Kleurryk

Trek met ’n swart vloeibare oogomlyner ’n netjiese lyntjie met ’n vlerkie teenaan jou boonste wimperlyn. Gebruik sodra die swart oogomlyner droog is, ’n vloeibare oogomlyner in ’n kleurryke skakering soos blou of pienk en trek ’n tweede lyntjie al langs die bokant van die swart lyntjie. Die swart lyntjie help dat die kleur behoorlik uitstaan.

Waaghalsig

Skep ’n “deconstructed eyeliner”-voorkoms deur met ’n fyn gekleurde oogpotlood ’n kort lyntjie in die binnehoek van jou boonste wimperlyn en in die middel van jou onderste wimperlyn te trek. Trek ’n derde kort lyntjie in die buitehoek van jou oogbank.

Bronne: www.elle.com.auwww.refinery29.com